Prins Charles is glo ’n kameerol aangebied toe hy die James Bond-stel in Junie besoek het, berig The Sun.

Die troonopvolger, wat ook die 007-akteur Daniel Craig ontmoet het, sou in die voetspore van sy ma volg. Koningin Elizabeth het in 2012 ’n rol in die regisseur Danny Boyle se ikoniese rolprent vir die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Londen gespeel, volgens E News.

“Hulle was dol oor die opgewondenheid oor die koningin se verskyning saam met Daniel Craig en dink Charles kan dit selfs oortref,” sê ’n bron na aan die produksiespan.

Prins Charles en Daniel Craig
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hy is die toonbeeld van alles Brits, volmaak vir ’n kameerol, en Bond-aanhangers wêreldwyd sal absoluut dol daaroor wees.

“Toe hy die stel ’n paar weke gelede besoek het, is dit bespreek. Nou oorweeg hy dit.

“Die vervaardigers wil hom bitter graag hê. Dis geen geheim dat die rolprent ’n aantal terugslae gely het nie, maar om ’n koninklike te kry, kan net wees wat die fliek nodig het.”

Prins Charles en Daniel Craig
Foto: Gallo Images/Getty Images

As die prins van Wallis die rol van die hand wys, sal die vervaardigers glo sy seuns, die prinse William en Harry, nader, berig News.com.au.

“As Charles dit nie aangryp nie, kan Harry en Wills volgende in die vervaardigers se visier wees,” sê die bron.

Bronne: The Sun, E News, News.com.au