Sy was Angola se “prinses” wie se sakevernuf haar op 40 Afrika se jongste en enigste vroulike miljardêr gemaak het.

Artikels in glanstydskrifte het die kollig op Isabel dos Santos laat val en haar in dieselfde asem as die wêreld se magtigste vroue soos Beyoncé, Hillary Clinton en JK Rowling genoem.

Haar Instagram-rekening is vol foto’s waar sy saam met die Kardashians, die gevalle rolprentmagnaat Harvey Weinstein, die Black Panther-ster Chadwick Boseman, model Winnie Harlow en musikante Usher en DJ Khaled uithang.

Isabel se fortuin van R31,6 miljard is iets uitsonderliks in ’n land waar die meeste mense op onder R30 per dag oorleef, maar haar fabelagtige lewe wankel nou op die rand van ’n afgrond.

#aboutlastnight... #kardashians #degrisogono ... ????yes we cannes

A post shared by Isabel Dos Santos (@isabel_dos_santos.me) on

Isabel is die oudste dogter van oudpres. José Eduardo dos Santos, die Afrikapresident wat die naaslangste regeer het. Hy het verlede jaar ná 38 jaar in beheer van die olieryk nasie afgetree.

Dos Santos se keuse as opvolger, João Lourenço, maak huis skoon en Isabel se ryk is in sy visier. Sedert sy inhuldiging in September 2017 takel Lourenço “gekaapte” staatsinstellings.

En nou het hy vier kontrakte van altesaam R300 miljard in die oog wat Dos Santos aan sy dogter se firmas toegeken het: vir die vernuwing van die hoofstad, Luanda, en die bou van ’n dam, hawe, pad en hoëdigtheidsontwikkeling.

Tydens sy bewind het Dos Santos talle familielede in topposte in die bank-, telekommunikasie-, media- en oliebedryf aangestel en “die staat geprivatiseer om hulle te bevoordeel”, het die joernalis Rafael Marques de Morais aan AFP gesê.

‘Ek is wel bevoorreg in die sin dat ek ’n goeie opvoeding gehad het en die kans gekry het om die wêreld te sien’

“Vir hulle gaan dit veral daaroor om kontant tot hul beskikking te hê sodat hulle soos superrykes kan leef sonder kommer oor die mense se lot,” se hy.

Isabel sê sy sal die staat vir kontrakbreuk dagvaar, terwyl die staat sê die kontrakte is sonder enige formaliteite of die vereiste tenderprosesse gesluit.

In ’n BBC-onderhoud erken Isabel sy was bevoorreg, maar sê sy het vooroordeel ervaar terwyl sy haar ryk opgebou het. “Ek is wel bevoorreg in die sin dat ek ’n goeie opvoeding gehad het en die kans gekry het om die wêreld te sien . . . dis so te sê al. Om te meen dié voordele was onregverdig is myns insiens vooroordeel.”

Isabel is in 1973 in Bakoe, Azerbeidjan, gebore as die dogter van Tatiana Kukanova, ’n Russiese skaakkampioen en Dos Santos se eerste vrou. Die twee het mekaar ontmoet terwyl Dos Santos, ’n lid van die kommunisties gesinde People’s Movement for the Liberation of Angola, in Rusland ingenieurswese studeer het.

Hy het na Angola teruggekeer om by die gewapende stryd aan te sluit en is as minister van buitelandse sake aangestel nadat die land in 1975 onafhanklikheid van Portugal verkry het. Hy het in 1979 president geword.

Op ses het Isabel in Angola se presidensiële paleis gewoon. Die president het ’n voorliefde vir weelde aangeleer.

Luidens berigte het die gesin hul Kersbome uit New York laat invlieg en miljoene rande se sjampanje van ’n restauranteienaar in Lissabon ingevoer. Sulke uitspattigheid het gemaak dat die Angolese Isabel “die prinses” noem – en nie op ’n vleiende manier nie.

Haar eie herinnerings van haar kinderjare is nederiger. Haar pa het vir die gesin gekook, sê sy. “Ons het nooit ‘grootsheid’ ervaar nie. Ek het skool toe gestap.”

Sy het kleintyd reeds in sake begin belangstel. “Ek het hoendereiers verkoop toe ek ses was,” het sy al vertel.

Haar ma het na Londen getrek nadat sy en Dos Santos geskei is toe Isabel ’n tiener was. Dié is saam en was in die privaat meisieskool St. Paul’s en King’s College, waar sy ingenieurswese studeer het.

Sy was nie ’n partytjiemeisie nie. “Jy het sowat 23 uur van klasse per week, plus die laboratoriums, plus die verslae doen. Dus was daar nie tyd vir jol nie.”

Intussen het die burgeroorlog wat sedert onafhanklikheid gewoed het eindelik begin kleiner word. Teen die laat 1990’s het die land se sukkelende ekonomie begin groei.

Teen die tyd dat ’n formele skietstilstand in 2002 verklaar is, het die ekonomie behoorlik op dreef gekom danksy die verdubbeling van olieproduksie.

Die miljardêr by (van links) die sangeres Nicole Scherzinger, die akteur en komediant Chris Tucker en die danseres Mette Towley by die Cannes-rolprentfees. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Isabel se eerste ervaring van die sakewêreld was in Miami Beach; nie die Amerikaanse toeristeaantreklikheid nie, maar ’n restaurant in Luanda. Die eienaar, Rui Barata, wat probleme met gesondheidsinspekteurs en belastinginvorderaars gehad het, het Isabel (toe 24) in 1997 as mede-eienaar betrek.

Sy idee was glo dat haar naam die lastige wetstoepassers sou weghou. Volgens ’n bron met kennis van die ooreenkoms was haar aanvanklike belegging daarin onbeduidend. Maar die restaurant het floreer en is steeds gewild.

Die prinses ontken haar familienaam het haar saketransaksies bevoordeel. “As jy hardwerkend en vasberade is, sal jy die paal haal. Ek glo nie aan kortpaaie nie.”

In 2003 is sy getroud met die Kongolese sakeman en kunsversamelaar Sindika Dokolo, seun van die Kinshasa-miljoenêr Sanu Dokolo. Die egpaar het drie kinders, en hoewel ’n paar kiekies van hulle op haar Instagram-rekening is, hou Isabel hulle uit die openbare oog.

Haar man is verlede jaar ná ’n eiendomsgeskil in die Demokratiese Republiek van die Kongo 12 maande tronkstraf vir bedrog opgelê. Hy appelleer teen die skuldigbevinding en vonnis en is uit die tronk hangende die appèl.

Ondanks Isabel se volgehoue ontkenning dat sy voordeel getrek het uit haar pa se gunste, het kritici – en nou ook Lourenço – lankal ’n probleem met haar sogenaamde selfgemaakte ryk.

Diepgewortelde korrupsie lê aan die kern daarvan, sê hulle – nie outydse harde werk nie.

Die saketydskrif Forbes het verlede jaar berig Isabel se pa het belange in verskeie Angolese firmas aan haar oorgedra. ’n Woordvoerder van Dos Santos het aan Forbes gesê Isabel “is ’n onafhanklike sakevrou en privaat belegger wat uitsluitlik haar eie belange verteenwoordig”.

Lourenço verskil van sy voorganger en het einde verlede jaar dié se dogter as hoof van die staatsoliefirma Sonangol afgedank voor hy haar broer, José Filomeno dos Santos, uit sy pos aan die hoof van Angola se soewereine welvaartsfonds van R65 miljard onthef het.

João Lourenço. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bedrogklagte word ook teen José ondersoek, want hy het glo R6,5 miljard uit die staatskas na die Londense tak van ’n Switserse bank oorgeplaas. Ná Isabel se afdanking het Sonangol aangekondig hulle ondersoek “moontlike wanaanwending” van geld tydens haar tyd as uitvoerende hoof.

Angolese media-agentskappe beskuldig haar daarvan dat sy verdagte betalings van dermiljoene dollars gelas het.

Isabel ontken die aantygings van misdade en beskuldig haar kritici van ’n “veldtog van belastering” en “vals nuus”.

Maar terwyl ’n nuwe besem in Angola skoon vee, lyk dit ál meer asof prinses Isabel van haar troon afgesit sal word.

Bronne: BBC.co.uk, FT.com, Forbes.com, AFP.com, News24.com, Businesslive.co.za, Bloomberg.com, EWN.co.za, Guardian.com, MG.co.za, Thisisafrica.me, Reuters.com