Kylie Minogue
Die popikoon Kylie Minogue was al ’n paar keer verlief, maar sy het nog nooit ’n ring aan haar trou­vinger gehad nie. Maar nou gons dit behoorlik dat sy dalk verloof is, al ontken sy dit. Foto: Gallo Images/Getty Images

I should be so lucky, lucky, lucky, lucky, I should be so lucky in love, het sy destyds in 1987 gesing. En ja, sy behoort te wees.

Kylie Minogue is immers sexy, skatryk en suksesvol. Tog het sy nog nooit voor die kansel gedraai nie. Sy was al ’n paar keer verlief, maar nooit getroud nie.

Aanhangers het onlangs gedink sy gaan trou toe die nuus bekend word sy is verloof aan Paul Solomons, die kreatiewe direkteur van die Britse uitgawe van die tydskrif GQ.

Kylie en Paul
Kylie en Paul. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle het mekaar in 2018 ontmoet. ’n Foto van Kylie (52) wat oënskynlik ’n verlowingsfoto deel, het haar volgelinge in die sosiale media laat gons – maar toe verydel sy alle drome van ’n troudag.

“Ons is almal mal oor die liefde, maar die gerugte ruk handuit!” het sy getwiet. “Paul is . Ons is , maar geen . Julle is almal en ons julle.”

Die Britse sangeres Billie Piper (38) het die praatjies aan die gang gesit nadat sy na Paul as Kylie se “verloofde” verwys het in ’n onderhoud met die Britse uitgawe van Elle. En Paul se stiefma, Gloria Solomons, het aan die Daily Mail gesê sy is “verheug” en “opgewonde” oor die verlowing. Maar dinge tussen Kylie en Paul lyk tog belowend, en die twee is duidelik ernstig oor hul verhouding.

Kylie – wie se jongste album, Disco, boaan Britse trefferlyste was met die uitreiking daarvan in November – het hom as “inspirerend, snaaks en talentvol” beskryf. En hy is duidelik haar held.

“Hy gee om vir my aanhangers, hy gee om vir die wêreld, maar hy gee veral om vir my,” het sy aan The Sun gesê nadat Paul haar in 2019 op ’n toer vergesel het.

Sy het in November 2018 aan die geselsprogramaanbieder Jonathan Ross gesê sy was verbaas om weer verlief te raak. “Net wanneer jy dink: ‘Sal dit ooit gebeur?’ het dit gekom en my verras.”

Kylie is ’n selferkende romantikus. “Ek is dalk nie konvensioneel nie, maar ek hou daarvan om verlief te wees. Soos ek ouer word, pla ’n bietjie grys hare, ’n bietjie bles of selfs ’n effense boep my glad nie. Dalk is te aantreklik waar ek verkeerd gegaan het.”

Sy het dalk ’n punt beet: Talle van haar vorige geliefdes was besonder aantreklik – en daardie verhoudings het almal in trane geëindig.

Die Franse rolprentster Olivier Martinez: 2003-2007

Kylie Minogue en Olivier Martinez.
Kylie Minogue en Olivier Martinez. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die verhouding het dalk nie gehou nie, maar Olivier was Kylie se steunpilaar tydens haar stryd teen kanker.

Borskanker is in 2005 by haar gediagnoseer toe sy 36 jaar oud was, en sy het ’n jaar later gepraat oor hoe ondersteunend Olivier (nou 55) was.

“Op die donkerste dae wanneer ek op die badkamervloer lê en huil het, het hy gesê: ‘Oukei, liefling, jy kan vir vyf minute huil, daarna vat ek jou op die motorfiets vir ’n rit in Parys,’” het sy aan Elle vertel.

Daar is gegis dit was sy rondlopery wat tot die einde van hul verhouding gelei het, maar ’n woordvoerder vir die paartjie het dit afgemaak.

“Die valse beskuldigings van ontrouheid het hulle albei hartseer gemaak. Hul besluit om uit te maak was wedersyds, en hulle is op goeie voet uitmekaar en bly steeds goeie vriende.”

Die verraaier James Gooding: 1998-2001

James Gooding en Kylie Minogue
James Gooding en Kylie Minogue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Britse model was ’n gehate man nadat hy ’n onderhoud met ’n poniekoerant gedoen het waarin hy haar ’n “selfbehepte, vriendelose beheervraat” genoem het.Hy het erken hy het Kylie met die model Sophie Dahl verkul.

Die rockheld Michael Hutchence: 1989-1991

Michael Hutchence en Kylie Minogue
Michael Hutchence en Kylie Minogue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was Kylie se passievolste verhouding. Sy het die wyle INXS-hoofsanger as ’n “donker stout seun” en haarself as “die reine, goeie meisie” beskryf.

“Seks, liefde, kos, dwelms, musiek, reis, boeke, noem maar op – hy wou dit ervaar,” het sy gesê. “Hy het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak – en baie daarvan was gegrond op plesier, om eerlik te wees.”

Teen 1991 het hul verhouding getaan, en hy het met haar uitgemaak terwyl hy op ’n hotelkamer se vloer in New York lê en huil het.

“Hy was soos ’n gebroke man. En hy het my hart gebreek.”

Die sepie-hartebreker Jason Donovan: 1986-1989

Jason Donovan en Kylie Minogue
Jason Donovan en Kylie Minogue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle was tieners toe hulle mekaar op die stel van die Australiese sepie Neighbours ontmoet het. Hulle het die jong verliefdes Scott en Charlene gespeel, en die romanse het ook agter die skerms vlam gevat.

Twee jaar later het hulle hul stroperige duet “Especially for You” uitgereik, wat ’n wêreldwye treffer geword het. Maar Jason het self erken hy kon nie Kylie se toenemende roem en rykdom hanteer nie.

“Dit was jaloesie,” het die 52-jarige aan die TV-aanbieder Piers Morgan gesê. “Ek kon sien hoe sy van my wegglip.”

Die Spaanse hartebreker Andrés Velencoso: 2008-2013

Haar verhouding met die model was haar langste nog; sy het gespot dis vir haar ’n rekord.

Sy en Andrés, 10 jaar jonger as sy, het mekaar ontmoet tydens die verfilming van ’n advertensie vir haar parfuumreeks. Hy was ’n toegewyde maat, maar hul veeleisende roosters het hulle uitmekaar gedwing.

Kylie het erken dit was moeilik toe die verhouding beëindig is. “Ek was baie hartseer. Ek is steeds lief vir hom. Hy is die gaafste, koelste ou.” 

Die verneuker Joshua Sasse: 2015-2017

Joshua Sasse en Kylie Minogue
Joshua Sasse en Kylie Minogue. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2015 het Kylie hard geval vir die Britse akteur nadat sy hom ontmoet het op die stel van sy televisiereeks Galavant.

Die twee het ses maande later hul verlowing aangekondig, maar Kylie het hom ’n paar maande daarna uit haar huis in Londen gegooi nadat dit uitgekom het hy en die Spaanse aktrise Marta Milans gaan uit.

’n Bron het aan The Sun gesê Kylie was “absoluut verpletter. Sy het geglo hy is die een en dat hulle sou trou.” Sy het erken die einde van die verhouding het haar “broos” gelaat.

Sy sê om aan haar album Golden te werk was ’n welkome ontvlugting. Musiek was haar troos.

BRONNE: METRO.CO.UK, THENEWDAILY.COM.AU, MIRROR.CO.UK, MAMMAMIA.COM.AU, HELLOMAGAZINE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe