Francois, wat een van die afrigters in vanjaar se seisoen is, sê dit is die publiek se besluit oor wie moet wen wat hom laat sweet.

“Tasché is ’n natural. Sy het klaar natuurlike talent gehad, maar sy het definitief haar sterkwaliteit tydens die kompetisie vergroot,” spog Francois oor die 19-jarige Tasché Burger, die laaste deelnemer van sy span wat Sondagaand in die eindronde sal deelneem.

View this post on Instagram

Future legend @tascheburger verjaar vandag! Die girl is 19 jaar oud! Gee haar ‘n follow vir haar bday en ‘n klomp votes môre aand. Boom boom boom! ??: @henry.engelbrecht

A post shared by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Vir Francois was die mense met wie hy gewerk en ontmoet het die grootste verrassing van sy eerste seisoen as afrigter op The Voice South Africa. “Ek het vriende geraak met my medeafrigters Riana Nel, Riky Rick en Lira. Ek het ook met mense van verskillende kulture en gelowe van reg oor Suid-Afrika gewerk; mense met wie ek nie in aanraking sou kom as dit nie vir The Voice was nie,” sê hy.

“Ek het nooit gedink ek gaan ooit betrokke wees in enige tipe sangkompetisie as ’n afrigter nie; ek het nooit in my lewe eens sanglesse geneem nie,” lag hy.

Tog keer dit nie dat Francois en sy liedjies deesdae gereeld op die kassie te sien is nie.

In die kykNET-reeks Maak My Famous, het die gewilde SA Ensemble in die doodsnikke van dié talentsoekprogram Donderdagaand ’n weergawe van Ek Skyn (Heilig) gesing.

Kyk hier na die opstrede wat die gehoor gaande gehad het.

Dat ander mense wat nie hul kulturele agtergrond deel nie, ook sy musiek sing, maak vir Francois en die ander lede van die rockgroep Fokofpolisiekar baie trots, sê hy. “Ons het na groepe soos Rammstein en Sigur Rós geluister wat in ander tale sing, en ons het gehoop dat ons musiek ook die taalgrens kan oorsteek,” vertel Francois.

“Dit is nie ’n algemene ding nie, maar dis ’n groot eer as mense wat nie eens Afrikaans kan praat nie die gevoel van die liedjie kan kry en oordra sonder om die taal te kan verstaan,” vertel hy oor die lede van SA Ensemble wat self nie Afrikaans kan praat nie.

SA Ensemble
SA Ensemble op Maak My Famous. Foto: Verskaf.

Dié optrede deur SA Ensemble is egter nie die enigste weergawe van sy liedjies wat mense die afgelope tyd aan die gons het nie. Komma, die liedjie wat hy onlangs saam met die Drakensberg-seunskoor op The Voice South Africa gesing het, het in net ’n bietjie meer as ’n week 56 000 trefslae op YouTube gekry.

“Ek werk op ’n manier al my hele lewe lank aan al hierdie dinge. Ek is die afgelope 16 jaar voltyds met musiek bedrywig,” veruidelik hy.

Of Tashcé nou Sondagaand wen of nie, bly Francois dankbaar oor die ervaring wat The Voice South Africa hom gebied het en het hy vriendskappe gebou wat hy vir ewig sal koester.

Riana Nel en Riky Rick deel saam ’n verhoog by die Sun Arena in Pretoria in Oktober vir sy derde Francois van Coke & Vriende-vertoning. “Ek het ook ’n duet op Riana se nuwe album en ek en Riky doen ’n liedjie vir my volgende album, so ek het die hele proses eintlik baie meer geniet as wat ek ooit kon dink,” vertel Francois.

  • Die regstreekse eindronde van Maak My Famous word op 11 Julie 20:00 op kykNET en kykNET&kie uitgesaai en mense kan tot Dinsdag 9 Julie vir die top-2 stem.
  • Die regstreekse eindronde van die derde seisoen van The Voice South Africa word op 7 Julie om 17:30 op M-Net uitgesaai.