Hy is een van Suid-Afrika se mees gevierde sportmanne: ’n internasionale gholflegende en een van net vyf mense wat ál vier die wêreld se groot gholftoernooie kon wen.

Gary Player (84) se gewildheid het geensins ná sy uittrede in 2009 afgeneem nie – hy is deesdae veral bekend vir sy liefdadigheidswerk, die gholf­bane wat hy ontwerp en hoe topfiks hy selfs in sy 80’s bly.


En altyd maar was Vivienne, sy vrou van die afgelope 63 jaar, aan sy sy – daar om hom langs die gholfbaan te ondersteun en om destyds hul ses kinders te versorg wanneer hy moes reis om te speel.

Toe Huisgenoot in 2017 met Gary en ­Vivienne (83) oor hul 60ste huweliks­herdenking gesels het, het hy vol liefde oor haar en sy gesin gepraat.

“Ons is baie dankbaar vir die sprokieslewe wat ons gelei het,” het hy toe gesê. “Ons het goeie gesondheid en ’n wonderlike familie. Ons dank God elke dag vir ons seëninge.”

Gary se vrou, Vivienne, voer haar eie stryd teen k
Gary se vrou, Vivienne, voer haar eie stryd teen kanker. Foto: Jacques Stander

Maar nou, drie jaar later, lyk dit of 2020 tot dusver groot hartseer vir Gary inhou.

Nie net baklei sy geliefde Vivienne midde-in die wêreldwye covid-19-­pandemie teen pankreaskanker nie; ’n ondernemingstwis woed boonop tussen Gary en sy oudste seun, Marc (60). Dié regstryd het al selfs in die hof gedraai.

Marc is die uitvoerende hoof van Black Knight International, die maatskappy wat Gary se sakebelange verteenwoordig. Dit sluit verskeie kleiner maatskappye in, onder meer Gary Player Design, wat gholfbane ontwerp, die Player-stigting, wat liefdadigheidswerk doen, en Black Knight Enterprises, wat onder meer wyn en klere verkoop.

Hofdokumente wat in Florida, Amerika, ingedien is, wys dat een van die maat­skappye, die Gary Player Group, beveel is om byna R85 miljoen aan Gary uit te betaal – en dat hy die regte tot die gebruik van sy naam en beeld terugkry.

Dit volg nadat ’n skikkingsooreenkoms in Mei tydens arbitrasie tussen die twee partye bereik is.

Wat presies die twis veroorsaak het, is nie duidelik nie. Al wat Gary se prokureur, Stuart Singer, wou sê, is dat daar ’n “kontraktuele dispuut” was en dat die Gary Player Group die oudgholfspeler tantiemegeld vir die tydperk van 2013 tot 2019 geskuld het.

Nadat die skikkingsooreenkoms bekend geword het, het die Gary Player Group gesê hulle gaan hul eie hofgeding aanhangig maak, maar dis nog onduidelik wat dit sal behels.

Marc het op sy beurt in ’n verklaring van die maatskappy die volgende te sê gehad: “Dit is baie hartseer dat my en my pa se sake en persoonlike verhouding so versleg het. Dit was ’n lang, uitgerekte, duur, emosioneel uitmergelende aksie wat pa teen seun gedraai het.”

Marc, hul oudste seun, se maatskappy is deur ’n ho
Marc, hul oudste seun, se maatskappy is deur ’n hof beveel om Gary R85 miljoen in tantieme te betaal.

Benewens sy sterstatus as gholfspeler was Gary se beeld nog altyd dié van ’n toegewyde gesinsman – wat straal van trots wanneer hy oor Vivienne, hul ses kinders en 22 kleinkinders praat.

Toe die Player-kinders, Jennifer, Marc, Wayne, Michele, Theresa en Amanda, nog jonk was, het hulle en Vivienne tydens skoolvakansies gevlieg na waar ook al Gary gespeel het. Met Gary se 81ste verjaardag het die hele familie in Griekeland saamgetrek.

Met sy 80ste verjaardag die jaar tevore het sy kleinseun Emmanuel Alexander die volgende oor sy oupa te sê gehad: “Jy is nie net my held omdat jy jou lewe met soveel passie lei nie; jy is ook my held as gevolg van hoe jy vandag is. Jy is goud werd. Jou hele lewe is aan jou familie en geliefdes toegewy.”


Tussen Gary en Marc het die vertroue altyd so sterk gelê dat Marc meer as 30 jaar lank sy pa se sakebelange en finansies bestuur het.

Wat dan skeefgeloop het sodat pa en seun nie meer langs dieselfde vuur sit nie, is onduidelik. Maar Marc wys nou die vinger na Dave King, sy pa se voor­malige gholfjoggie.

“Almal wat my ken, sal saamstem dat ek nog altyd probeer het om my ouers met hul ondernemings en in hul persoonlike lewe te help,” sê Marc in die Gary Player Group-verklaring.

“Ek het werklik probeer om ons geskille met hulle uit te stryk, en dit is ’n jammerte dat ons dit nie kon doen nie weens hul nuwe adviseur, Dave King, en sy aanhoudende inmenging in wat eintlik ’n privaat familieaangeleentheid moes gewees het,” sê hy verder in die verklaring.

Dinge het oënskynlik nie altyd vlot verloop tussen Dave en Gary nie.

Dave was tot in 2000 Gary se gholf­joggie, en die twee was hegte vriende. Maar in 2013 was hulle in hul eie hof­geding betrokke toe Dave Gary gedagvaar het vir R33 miljoen – geld wat hy aangevoer het hy in die 1990’s aan die gholfspeler geleen het. Die twee het buite die hof geskik, en die besonderhede is nooit bekendgemaak nie.

Dit lyk asof Gary wou verhoed dat daar onenigheid in sy familie ontstaan, ook waar dit geld aangaan.

In 2003 het hy in ’n onderhoud met die koerant The Palm Beach Post verduidelik hoekom hy sy gholftrofeë wil laat opveil.

“Ek wil nie hê dit moet op die ou end tussen die kinders verdeel word nie. Ek sal in my graf omdraai as dié een die VSA-ope wil hê en daai een die Britse Ope. Ek het in my leeftyd gesien hoe tragies dit is as ’n familie baklei vir die dinge nadat iemand in my beroep gesterf het.”

Sy ander seun, Wayne, het vroeër vanjaar ’n berig van 2015 in die sosiale media gedeel, oor toe hy en sy pa saam in die Gary Player-uitnodigingstoernooi by Sun City gespeel het. Hy het die hutsfrase #playerstogether daarby gesit.

Die Player-gesin in gelukkiger tye. Hier sit Wayne
Die Player-gesin in gelukkiger tye. Hier sit Wayne op sy ma se skoot met Jennifer langs Vivienne en die kleuter Marc op pa Gary se skoot. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het vanjaar ook saam met sy pa en bekendes soos Justin Timberlake en Mark Wahlberg by ’n liefdadigheidsgholfdag gespeel.

Hoewel Gary nog niks in die openbaar oor die twis tussen hom en Marc se maatskappy gesê het nie, het Marc dit op Twitter “hartseer” genoem. “Wat ’n jammerte vir almal wat betrokke is. Niemand wen op die ou end nie.

Soveel mense is in die middel vasgevang. Hartseer,” het hy geskryf.

Terwyl die sage voortsleep, is Gary en Vivienne tans in Ka­lifornië, waar sy behandeling kry.

Marc het in die sosiale media verduidelik dat die coronakrisis dit onmoontlik maak vir die hele familie om na die VSA te reis.

“Dis tragies. Gevorderde pankreaskanker is by my ma gediagnoseer, en sy het nie lank om te leef nie. Ongelukkig is die helfte van die familie in Suid-Afrika vasgekeer weens die inperking, en hulle kan nie na die VSA reis om te groet nie,” skryf hy.

Maar Gary is wel aan haar sy, die vrou oor wie hy nog twee maande gelede gesê het sy is “sonder twyfel” sy beste vriend.

Teenoor Huisgenoot het hy in 2017 gesê hulle praat in hul lewensfase baie oor die dood. “Ons raak ouer en dis ’n werklikheid.”

Op haar beurt het Vivienne gesê sy glo sy en Gary sal in die hiernamaals weer saam wees.

Laggend het sy toe bygevoeg: “En dalk sal ons dan weer kinders hê.”

  • Gary en Marc Player het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.
Bronne: IOL, golfchannel.com, garyplayer.com, compleatgolfer.com, bunkergolf.com; FOTO'S: JACQUES STANDER, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, TWITTER/@MARC_PLAYER