Iets aan die man met die netjiese grys hare en bekoorlike glimlag laat jou wonder waar jy hom al voorheen gesien het. Ook sy prominente ken en die manier waarop hy sy lippe saampers, wil-wil jou aan iemand herinner . . .

Dan besef jy: Gérard Korsten, die wêreldberoemde dirigent, lyk nou in sy ryper jare treffend soos sy oorlede pa, Gé.

Nes die ikoniese sanger wat die verbeelding van musiekliefhebbers dekades lank vasgegryp het, word Gérard (58) vandag – ook ver buite die landsgrense – vir sy werk as dirigent en violis geloof.

Dis eintlik ironies, sê hy, want vroeg in sy lewe het hy homself al beloof: Hy sal nooit dieselfde soort lewe as sy beroemde pa lei nie.

'My pa het aan die volk behoort'

“As kinders het ek, my broer, Victor, en my susters, Elsa, Linda en Gerda, altyd geweet hy is spesiaal. Ons het geweet dís hoekom hy sulke lang tye weg van die huis was. Hoewel ons dit verstaan het, het dit nie die verlange beter gemaak nie,” onthou Gérard, die enigste van wyle Gé en Elna se vyf kinders wat in sy pa se voetspore in die musiekwêreld gevolg het.

Sy suster Linda werk in die rolprentbedryf, waar Gé ook naam gemaak het as die ster van musiekflieks soos Hoor My Lied. Sy was onder meer mede­vervaardiger van die rolprent Liefling.

“Gé was ’n wonderlike pa, maar hy het aan die volk behoort, en dit was nooit regtig maklik nie. Selfs wanneer hy werklik afgemat was, sou hy ’n enkele aan­hanger soos die enigste laat voel,” onthou Gérard.

“Sý lewe was wat ek nooit vir myself wou gehad het nie; ek wou nooit ­onlosmaaklik aan iets behoort nie.”

Maar kyk hy vandag terug op ’n loopbaan van byna 40 jaar, erken hy ruiterlik: Hy het in dié belofte aan homself liederlik misluk. Dan erken Gérard met ’n uitbundige lag: Eindelik het hy toe tog soos sy pa geword . . .

Hy sou sekerlik nie vandag hier op ’n rooi stoel in die ­Albert Wessels-ouditorium op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gesit het as dit nie vir sy pa se invloed op sy lewe was nie.

Tydens ’n repetisie vir ’n optrede saam met die Vrystaatse Simfonieorkes.

Gérard is hier in Bloemfontein om as hoofgasdirigent vir die Vrystaatse Simfonieorkes op te tree. Hy het die vorige dag uit Italië geland, waar hy in Sardinië saam met die Italiaanse operasangeres Eva Mei (51) woon. Hulle is al meer as ’n dekade lank lewensmaats.

Ná ’n roemryke loopbaan van optredes in van die wêreld se voorste teaters soos die Teatro alla Scala in Italië en die Sweedse Koninklike Opera is hy moeg, bieg Gérard.

Gérard se familie

“Ek het myself vroeg in my lewe belowe ek gaan nie my lewe op die pad deurbring wanneer ek die dag kinders het nie. Nou is Heléne reeds 25 en Carla 23 – en steeds spring ek kort-kort op ’n vliegtuig na ’n verre uithoek van die aarde.”

Sy dogters woon saam met hul ma, Bea, Gérard se gewese vrou, net anderkant Milaan in Italië. Heléne studeer ­musikale informasietegnologie in Milaan en speel vir die pret elektriese kitaar. ­Carla werk vir ’n ingenieursfirma.

Kannetjie voor die klavier

As tiener het Gérard, wat op agt leer klavier en viool speel het, daarvan gedroom om die wêreld plat te reis. Hy was 14 toe hy die eerste keer oorsee is – en dit stok­alleen – om ’n musiekkursus in ­Michigan, Amerika, te volg.

Gérard, toe 7 jaar oud, en sy pa, Gé.

Twee jaar ­later was hy “moeg vir skool”. Hy het toe in een jaar st. 9 en matriek deur ’n korre­spondensiekollege by die huis voltooi.

Daarna is hy op 17 na die Amerikaanse deelstaat Philadelphia, waar hy aan die Curtis-musiekinstituut viool en musiek gaan studeer het. Van daar af is hy na ­Salzburg, Oostenryk, waar hy onder die Hongaarse dirigent en violis Sándor Végh studeer het.

Gérard was 20 toe hy die eerste keer ’n orkes dirigeer. Dit was die begin van ’n loopbaan waarin hy van die Staatsteater in Pretoria tot in Skotland en Swede die dirigeerstokkie sou swaai.

Roem en verpletterende nuus

Toe hy in 1999 ’n gesogte dirigentpos in Sardinië aangebied word, het hy, Bea en hul dogters uit Pretoria na Oxford­shire in die suidooste van Engeland getrek, waar die kinders in Engels kon skoolgaan. In dieselfde jaar is hy swaar getref deur sy pa se skielike dood.

“Ek onthou ek was op pad om die kinders by die skool af te laai,’’ vertel hy oor Gé se sterfdag, 29 September 1999.

“Bea het gebel; sy het gesê ek moet dringend huis toe kom en dat my sussie al tien­talle kere gebel het.

“Toe ek tuiskom en my suster bel weer, het sy die verpletterende nuus aan my oorgedra: My pa het buite in die tuin gaan staan en ’n pistool teen sy kop ­gedruk.

“Ek onthou hoe stadig die tyd verby­gestap het voor ek eindelik op die destyd­se Jan Smuts-lughawe (nou O.R. ­Tambo) geland het. In die wagkamer om ’n vlug na George te haal (Wildernis was sy ouers se aftreedorp) het byna almal met ’n oop koerant gesit. Daar was my pa: yslik op die voorblad, maar dood. Ek kon die trane nie keer nie.”

’n Tweede slag het Gérard kort daarna getref toe sy en Bea se huwelik ver­brokkel. Die gesin het toe al Italië toe ­getrek, want ná sowat ’n jaar in Engeland het heen en weer vlieg tussen sy werk en sy gesin vir Gérard te veel geword.

“Ek en Bea het geweet ons sou bevriend bly,” sê hy oor sy egskeiding.

“Maar die slag met my pa se dood het my erg getref. Wat destyds in sy gedagtes gewoel het, sal niemand ooit weet nie. Ek dink dit was depressie – soveel jare lank was toer en sing sy lewe. En toe hy uittree, kon hy hom nie ’n lewe daarsonder indink nie.

“Pa het lank voor sy dood gesê hy sou sy eie lewe neem as hy die dag terminaal siek raak. Dalk was depressie vir hom ’n te swaar las om te dra.”

Vir hom en die res van die gesin was dit ’n bitter stryd om Gé se dood te ­aanvaar, sê Gérard.

Kosbaarste herinnerings

“Hy het my altyd so geweldig ondersteun – ek het geweet die einde van sy lewe beteken ek sal selfs harder moet werk.

“Ek het vasgeklou aan ons kosbaarste herinnerings: my pa se stywe drukke en Kersfees op Ballito wanneer ons huis in ’n musiekfees ontaard het. Ons het altyd saamsingsessies gehou met elke broer en suster wat ’n instrument bespeel.

Die Korstengesin. Van links is Linda, Victor, pa Gé, Elsa, Gerda, ma Elna en Gérard.

“Tot vandag is my grootste spyt dat ons in ons loopbane net ’n enkele keer saamgewerk het. Dit was toe ek dirigent by Truk-opera was. Pa sou ’n etensuurkonsert in Pretoria lewer en by die huis het ek hom mal gemaak met die voor­bereiding daarvoor.

“In ’n stadium het hy vir my gesê: ‘Jy kan nie so met my praat nie!’ Toe sê ek: ‘Ek is nou die dirigent, nie jou seun nie . . .’ Ons het albei gelag.”

Die raad wat sy pa hom gegee het, draal deesdae in sy kop: “Hy het altyd gesê ek moet nooit bang wees wanneer ek ­musiek maak nie; jy moet dit geniet sodat die gehoor dit ook kan geniet. En wanneer jy dit nie meer geniet nie . . . Wel, dan hou jy op.’’

Volgende jaar wil Gérard tydelik ophou en vir die eerste keer ’n sabbatsjaar neem.

My lewe was ’n seën; al my begeertes is vervul . . .

“Ag, ek is nou oud,” sê hy en grinnik. “Ek wil vir ’n oomblik tot ruste kom sodat ek kan sien hoe die lewe vorentoe lyk – en nie uit ’n piepklein vliegtuigvenster nie.”

Nie dat hy spyt is oor die vier dekades van rondvlieg na die volgende konsertsaal toe nie.

“Ek is oukei daarmee as ek vandag sou dood neerslaan. My lewe was ’n seën; al my begeertes is vervul . . .”

Dan is dit asof hy skielik iets onthou. “Dalk sal ek en Eva in die volgende jaar voor die kansel gaan staan. Dán sal elke begeerte vervul wees . . .”  

Gérard en sy lewensmaat, die Italiaanse operasangeres Eva Mei.
FOTO'S: ONKGOPOTSE KOLOTI, VERSKAF