Jessica Biel en Justin Timberlake het dit reggekry om die paparazzi te ontduik en die wêreld te verras met die geboorte van hul tweede babaseun.

Volgens ’n eksklusiewe berig deur die Daily Mail het die 38-jarige aktrise verlede week die lewe aan die kleinding geskenk. Jessica en Justin (39) is al sedert Maart by hul huis in Montana in Amerika om die grendeltyd daar saam met hul vyfjarige seun, Silas, deur te bring.

Die paartjie is meer as vier maande laas saam afgeneem en was strategies met hul plasings in die sosiale media.

Toe Jessica foto’s van haar verjaardagvieringe vroeër vanjaar gedeel het, het ’n lospassende kamerjas haar middellyf verbloem en amper elke ander inskrywing daarna was ’n foto of video van vroeër.

Jessica se ma, Kimberly Conroe Biel (65), het glo vanaf haar tuiste in Colorado na Montana gevlieg om tyd saam met haar pasgebore kleinseun deur te bring.

Die geboorte kom agt maande nadat Justin gekiek is waar hy al te danig gelyk het met sy medester Alisha Wainwright (31) tydens ‘n aandjie uit. Hulle was toe besig met die verfilming van die fliek Palmer, waarin hulle minnaars speel.

View this post on Instagram

??????

A post shared by Alisha Wainwright (@alishawainwright) on

Justin is later gedwing om die gerugte van ontrouheid aan te spreek en vir sy gesin in die openbaar om verskoning te vra.

“Ek het ’n paar weke gelede ’n oordeelsfout begaan, maar ek wil dit duidelik maak – daar het niks tussen my en my medester gebeur nie,” het hy toe op Instagram geskryf. 

“Ek wil om verskoning vra vir my ongelooflike vrou en familie dat ek hulle deur so ’n vernederende situasie gesit het en ek fokus daarop om die beste man en pa te wees wat ek kan.”

En nou is daar twee kleingoed om op te fokus.

Bronne: The Cut, Daily Mail, Insider.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe