Hoewel dit nog nie amptelik bevestig is nie, klink dit asof die intieme seremonie kort duskant Kersfees voor ongeveer 40 gaste dié keer wel die ware Jakob is.

Tydens ’n onderhoud met ET Online in Augustus verlede jaar het Ed dit reeds duidelik gemaak dat prag en praal nie sy idee van ’n troue is nie.

View this post on Instagram

?? @marksurridge

A post shared by Ed Sheeran (@teddysphotos) on

"Op die beste van tye hou ek nie van groot groepe mense nie . . . ek wou nog nooit ’n troue met baie gaste gehad het nie," het hy toe gesê.

Bewonderaars van die aweregse popsanger het presies ’n jaar gelede gedink Cherry Seaborn (26) is reeds mev. Sheeran toe Ed in die openbaar gewaar is met ’n ring aan die "regte" vinger.

Maar Ed het die saak gou reggestel tydens die 2018 BRIT-pryse.

"Ek kon nog nooit verstaan hoekom mans nie verloofringe dra nie. Dis dieselfde belofte wedersyds. Cherry het die ring self vir my uit silwer klei gemaak. Ek hou regtig baie daarvan," was sy reaksie op die gerugte.

Die twee het in Desember 2017 verloof geraak en Ed het die verlowingsnuus op Instagram gedeel.

"Het myself ’n verloofde gekry kort voor Nuwejaar. Ons is baie gelukkig en dolverlief, selfs ons katte is ingenome," het Ed by die plasing geskryf.


Maar wie is Cherry Seaborn?

Ed was 11 jaar oud toe die twee tydens hul skooldae vriende geraak het, maar toe Ed besluit die musiek roep sterker as ’n skoolloopbaan, het hul paaie geskei.

Terwyl Ed se musiekloopbaan geblom het, het Cherry Amerika toe gegaan en ’n graad in molukêre biologie behaal. Sy werk glo as ’n senior konsultant vir 'n internasionale maatskappy.

Maar dié slimkop is ook ’n uitblinker op die sportveld en het Engeland se o.18-hokkiespan vir twee agtereenvolgende seisoene verteenwoordig.

Hulle is in September 2015 vir die eerste keer romanties met mekaar verbind toe hulle saam by die New York Mets-bofsbalwedstryd teen die Philadelphia Phillies in New York gewaar is. Dit was glo ’n eerste vir Ed.

Toe volg ’n partytjie in Las Vegas saam met Skotse platejoggie Calvin Harris.

View this post on Instagram

What a crew at Wet Republic today ??

A post shared by Calvin Harris (@calvinharris) on

Cherry was die stukrag agter Ed se besluit om in 2016 ’n jaar lange ruskans van die musiekwêreld te neem. Hulle het seker gemaak hulle bring elke dag van die jaar saam deur en het heerlik die wêreld vol rinkink terwyl die liefde ál helderder geblom het.

Maar is sy "die een"? "Ongetwyfeld, ongetwyfeld," was Ed se reaksie op die vraag.

Praat van inspirasie. Perfect was die eerste liedjie wat hy vir haar geskryf het en dit het boonop ’n treffer die wêreld oor geword.


Ed kom weer Suid-Afrika toe
Ed se aanhangers kan natuurlik nie wag om die sanger in Maart in Suid-Afrika in aksie te sien nie. Hy gaan van 23-18 Maart in Johannesburg en Kaapstad optree.

Bronne: nj.com, mirror.co.uk, etonline.com, eonline.com, heart.co.uk, people.com, billboard.com