Dit lyk soos die soort lewe waarvan ons gewone sterflinge maar net kan droom. Hoe heerlik om met jou eie straler te vlieg om op jou eie seiljag te gaan vakansie hou op die blou waters van die Karibiese See.

Voeg hierby gewillige personeel wat kos en drankies aandra, gereed staan met sagte handdoeke wanneer jy uit die see na die dek klim en boonop help om ’n ogie oor jou kroos te hou terwyl jy in die son uitspan.

Dit is die lewe en salige lot van prinses Charlene van Monaco. Die 39-jarige blonde skoonheid, haar man, prins Albert van Monaco (59), en hul skattige tweeling – so mooi soos ’n prentjie op ’n outydse koekblik – het die nuwe jaar luilekker begin toe hulle tussen die eilande van die Karibiese See uitspan.

Die Grimaldi’s het eers teen die kus van die eiland Grenada vakansie gehou en toe na die idilliese waters van die eiland Car­riacou gevaar.

Prins Jacques en prinses Gabriella het in Desember drie geword. Gelukkig bied die adellike gesin se seiljag van 49 m, die Lady Ann Magee, genoeg speelplek vir die woelwaters.

Op foto’s wat van die gesin se vakansie geneem is, is dit duidelik almal op die jag moes bontstaan om by te hou met die oulike woelwaters se behoeftes en energie.

Toe hul ma die water op ’n roeiplank aandurf, was dit duidelik die voormalige Olimpiese swemkampioen is steeds so tuis soos ’n vis in die water.

Charlene het lekker aktief gebly. Foto: Mega/ Realtime Images

Skraal en gespierd het sy volmaak gebalanseer terwyl sy op die plank staan en roei het. 

In ’n duikpakbroek en pienk top het Charlene net so in haar element gelyk soos wanneer sy in ’n asemrowende aand­rok glansgeleenthede in koninklike Europese kringe bywoon.

Soos gewone mense swig sy ook soms. Foto: Mega/ Realtime Images

Sy het ook sportief gelyk toe sy op die dek gesien is met oorfone en ’n blompet agterstevoor op die kop.

Charlene het lekker aktief gebly en selfs ’n persoonlike afrigter saamgeneem. Foto: Mega/ Realtime Images

En sy is afgeneem waar sy op die dek strekoefeninge doen. Weer het sy soos ’n model gelyk in ’n kort oefentoppie en swart spanbroek. 

En agterna moes sy natuurlik, nes die res van ons soms maak, ’n paar selfies met haar slimfoon neem.

Prins Albert is ’n bedrewe seil­jag­vaarder, maar dit lyk of hy by sy mooi vrou kan gaan kers opsteek wat sommige ander watersportsoorte betref.

Hy het aanvanklik heel suksesvol geroei terwyl hy op sy knieë op ’n roeiplank gestaan het, maar toe hy ’n slag probeer opstaan, beland hy met ’n plas in die water.

Albert was nie heeltemal so bedrewe in watersport soos sy vrou nie . . . soos toe hy ’n glipsie op die roeiplank gehad en pens en pootjies in die seewater beland het. Foto: Mega/ Realtime Images
Foto: Mega/ Realtime Images

Die heerser het ook rustig rondgedobber op ’n opblaasmatras en gesnorkel om die onderwater­lewe te bekyk. Daarna het ’n personeellid in ’n wit uniform hom op die dek met ’n sagte swemhanddoek ingewag.

Albert en Charlene is liefdevolle ouers en het genoeg speeltyd saam met die kinders ingeruim. Die prins het die kleintjies laat giggel toe hy hulle terg met iets wat soos ’n waterpistool lyk.

Prins Albert geniet gehaltetyd saam met die tweeling – met ’n oppasser wat help – terwyl hul ma ontspanne toekyk. Foto: Mega/ Realtime Images

Charlene het hulle liefdevol dopgehou terwyl sy met ’n drankie ontspan het.

Ja-nee, dis mos nou die lewe!