Katherine Kelly Lang (57), wat Brooke in die sepie speel, het Woensdag op Twitter die hartseer nuus bekendgemaak dat Schae (56), wat die afgelope twee jaar deur diep water is weens haar gesondheid, ’n geweldige terugslag toegedien is. Met tye gaan dit so sleg dat sy met ’n rolstoel oor die weg kan kom.

Schae se karakter, wat tong-in-die-kies met die van Einstein geseën is, sou aanvanklik in 1989 net een dag in die sepie verskyn het. Kort voor lank het een dag 17 jaar geword.

Nadat sy in 2008 die Bold-stel gegroet het toe haar karakter sterf, het sy van 2011 tot 2015 ’n paar keer in die televisiereeks Castle die rol van ’n polisievrou (Velazquez) vertolk.

Chroniese fibromialgiesindroom en chroniese uitputtingsindroom is by Schae gediagnoseer en sy moes noodgedwonge haar akteursloopbaan vaarwel toeroep omdat haar gestel nie die lang werkure en gestaan kon hanteer nie.

Maar sonder werk het Schae, wat ’n 15-jarige seun, Haven, het, nie ’n inkomste nie. Volgens bronne is Schae steeds getroud met Haven se pa, Mick Cain (40), wat ook ’n karakter in The Bold and the Beautiful is. Hy vertolk die rol van C.J. Garrison, die seun van Sally (Darlene Conley wat in 2007 gesterf het) en Clark (Daniel McVicar).

Schae se spaargeld wat in dié stadium vir medikasie en verblyf gebruik word, is vinnig besig om op te droog. Haar vertoë om ’n mediese ongeskiktheidstoelaag te ontvang, sal eers in April vanjaar aangehoor word.

Intussen is ’n gofundme-blad vir Schae gestig met die doel om $8 000 in te samel sodat sy minstens tot April medikasie kan bekostig en rekeninge kan vereffen.

Bekendes wat met fibromialgie gediagnoseer is
  • Die sangeres en aktrise Lady Gaga (32) het in September 2017 hart oopgemaak oor haar stryd met fibromialgie.
  • Die Hollywoodster Morgan Freeman (81) was in 2008 in 'n motorongeluk betrokke waartydens hy verskeie beserings opgedoen het. In 2012 het hy vertel van die uitmergelende pyn waarmee hy saamleef.
  • Die Ierse sangeres Sinéad O'Connor (52), wat deesdae bekend is as Shuhada' Davitt, het in 2003 haar musiekloopbaan gegroet toe die siekte te veel vir haar geword het om te hanteer. 
  • Die Girls-ster Lena Dunham (32) het in Oktober 2018 beskryf hoe dit voel om ’n "onsigbare siekte" onder lede te hê. 

Fibromialgiesindroom in ’n neutedop

Die oorsaak van fibromialgie is steeds nie duidelik vasgepen nie. Daar word wel vermoed dit hou verband met abnormale vlakke van sekere chemikalieë in die brein en hoe dit die senustelsel beïnvloed.

Dit kom hoofsaaklik onder vroue tussen 30 en 50 jaar voor.

Dis ’n pynlike toestand wat groot gedeeltes van die menslike liggaam aantas. Die onderkant van die kopbeen, nek, skouers, heupe, elmboë en knieë is waar pyn die ergste ervaar word, maar dit is nie tot hierdie areas beperk nie.

Depressie, spanning, moegheid, slapeloosheid, ’n “dowwe” brein (“fibro fog”), spanning in die kakebeen en spysverteringsprobleme word met die sindroom geassosieer.

Chroniese moegheidsindroom

Iemand wat aan fibromialgie ly, ly aan uiterste moegheid wat nie deur enige onderliggende mediese toestand verklaar kan word nie. Virusinfeksies en sielkundige spanningsfaktore word in teorie as moontlike oorsake van die sindroom beskou.

Nog simptome sluit in moegheid, konsentrasie- en geheueverlies, ’n seer keel, vergrote limfknope onder jou armholtes of nek, onverklaarbare spier- en gewrigspyn, hoofpyne en natuurlik uitermate moegheid wat langer as 24 uur duur sonder dat jy enige fisiese of verstandelike uitmergelende oefeninge gedoen het.

Bronne: mayoclinic.org, soaps.sheknows.com, nhs.uk, webmd.com, imdb.com, gofundme.com