Graeme het Woensdagoggend ’n foto op Instragram van hom en Romy gedeel. Sy hou haar verloofring vir die kamera met Graeme se arm om haar.

Meer as 12 000 mense het al van die foto van hul verlowing gehou. By navraag het Graeme aan Huisgenoot laat blyk hulle gaan benewens dié plasing nie verder oor hul verlowing kommentaar lewer nie.

View this post on Instagram

About last night ????

A post shared by Graeme smith (@graemesmith49) on

Die rugbyspeler Bryan Habana skryf: “Geluk, grootman.” Die Blou Bul-rugbyspeler Jesse Kriel en die TV-persoonlikheid Maps Maponyane het die oudkrieketspeler ook gelukgewens.

Die Suid-Afrikaanse krieketster Faf du Plessis se vrou, Imari, het ook mooi woorde vir dié paartjie gehad. “Hoop julle gaan ’n geseënde lewe saam hê,” skryf sy by die verlowingsfoto op Instagram.

Romy het in 2016 aan Huisgenoot gesê sy was uitgeboul toe sy hom die eerste keer ontmoet het, veral omdat hy so plat op die aarde is. Gemeenskaplike vriende het hulle aan mekaar voorgestel. “Hy is ’n standvastige mens. Ons het dieselfde waardes en belangstellings,” het Romy toe gesê.

Graeme en dié Kaapse prokureur is sedert 2016 in ’n verhouding en het ’n eenjarige seun, Sebastien, saam. Die paartjie het albei twee kinders uit vorige huwelike. Romy het twee jong seuns by haar oorlede man, Michel Lanfranchi. Graeme se eksvrou, die Ierse popsangeres Morgan Deane, is die ma van sy ander twee kinders, Cadence (5) en Carter (4).

Graeme het in Maart 2017 ná ’n huwelik van byna ses jaar amptelik van Morgan geskei.

Hy was ook destyds in ’n verhouding met die model en TV-persoonlikheid, Minki van der Westhuizen. Hul verhouding het einde 2003 aan die lig gekom en vroeg in 2005 tot ’n einde geloop.