Die publiek het Gerhard Steyn as die Baby Tjoklits-sanger leer ken en Alvin Bruinders as die sekuriteitswag Sheridan in Vetkoekpaleis.

In die werklike lewe is dié twee kunstenaars al sowat 15 jaar lank groot vriende “wat al baie nonsens saam aangejaag het", bieg Gerhard.

"Ons vrouens wil ons al aan kettings vasmaak wanneer hulle hoor ons wil uitgaan," skerts Alvin.

Maar gelukkig is hy en Gerhard darem nou sonder kettings hier waar ons saam met hulle kuier in The Countess Restaurant in die 27 Boxes-sentrum in Melville, Johannesburg.

Op hul kosontdekkingsreis van restaurant tot restaurant het hulle al op interessante en vreemde geregte afgekom, vertel Gerhard. Drie videokameras volg elke woord en beweging van hulle op dié reis wat van 20 April af op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word.

Vandag het hulle vir Leon Pretorius, eienaar van die The Countess, vertel hulle het lus vir ’n unieke smaakervaring.

Leon stel brisket-vleisskywe voor wat 18 uur lank gerook is en saam met geskroeide malvalekkers en patat voorgesit word.

Nee, dié kombinasie kan mos nooit werk nie, spreek Gerhard sy twyfel dadelik uit. Tog lê hulle later weg daaraan. "Groter, beter, brisket!" roep Gerhard uit as die kamera op hom fokus.

“In elke episode stap ons ’n bietjie groter hier uit.”

“Ja, daar skuil ’n varkie in ons elkeen,” sug Alvin en vryf oor sy maag.

Leon vertel hulle van ’n romantiese tradisie wat sy oorsprong sowat twee eeue gelede in Frankryk gehad het wanneer ’n jong man vir sy geliefde gaan kuier het. Natuurlik het hy ’n bottel sjampanje saamgevat, wat hy dan sou oopmaak deur die nek met sy swaard af te kap.

Leon demonstreer en Gerhard wil dit opsluit ook doen. Dit kan gevaarlik wees, waarsku Leon. As jy verkeerd kap, kan die bottel in jou hand breek. Dit skrik Gerhard egter nie af nie. Hy trek die swaard en kry dit sowaar sonder enige noodlottige voorval reg.

Maar hulle was tydens die verfilming van die reeks al in ander “regte gevaarlike” situasies, vertel Alvin. Soos die vorige week in die Salsa Mexican Grill in Boksburg.

“Ons was besig om deur die 150 verskillende tequilas op hul spyskaart te werk, toe kom daar ’n tequila van ’n ander aard: so ’n 24-jarige rooikop. Sy gryp my om te dans en ek is net reg om te sokkie, toe sê sy nee, ons doen dit salsa-style. My rug was ’n paar dae daarna nog seer!”

Hmm . . . jammies! Gerhard en Alvin beproef ‘n nuwe eetdingetjie tydens hul reis van restaurant tot restaurant.

Die manne beskryf hulle as “twee stoutgatte wat nooit oud sal word nie”.

Nou wat is die ergste kattekwaad wat hulle al aangejaag het? Albei lag. Nee, dit kan hulle nie sê nie, omseil hulle die vraag.

Maar later erken Alvin hulle het wel “so twee of drie jaar gelede saamgestaan in ’n kroeggeveg”.

En wie het gewen? “Laat ek dit so stel: Ons verloor nie maklik nie,” sê Gerhard geheimsinnig.

Wanneer die filmspan ’n blaaskansie vat, is Gerhard en Alvin dadelik op hul selfoon om dringende boodskappe te beantwoord, want die twee is ook bedrywige sakemanne.

Alvin besit die maatskappy Sound Headquarters, wat klank- en beligtingtoerusting aan feeste en konserte landwyd verskaf.

Gerhard is weer die eienaar van die retro-musiekkuierplek Wildebeest in Boksburg, wat sowat duisend mense kan akkommodeer.  

Dit is sesuur die aand, maar daar lê nog so ’n uur van verfilming voor.

Die lang ure weg van hul gesin af vang hulle, erken die twee vriende wat elkeen ’n kleinding by die huis het. Alvin se seuntjie, Avrick, is 13 maande oud.

“Hy is al so windgat, ’n mens sou sweer hy betaal die rekenings.”

Dan kry Gerhard ’n Face Time-video van sy dogtertjie, Zardi, wat volgende maand twee jaar oud word.

"Ek gaan nou slaap. Lief pappa," sê die blondekoppie in haar boodskap . . .

(Konings van Kitskos word vanaf Vrydag, 20 April, op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.)

Kyk hier na ’n skyfievertoning van tonele uit die reeks: