Die pa van twee het ’n foto van Zelri in die hospitaal op Instagram gedeel en daarby geskryf: “Altyd in God se hande, en ek weet die operasie sal goed afloop my engel.” 

Zelri se ma, Tilla Enslin, wat ook Gerhard se bestuurder is, het aan Huisgenoot bevestig dat dit ’n klein prosedure was. Volgens Tilla het die operasie goed verloop en haar dogter sterk goed tuis aan.

View this post on Instagram

Altyd in GOD se hande, en ek weet die operasie sal goed afloop my engel?? #steynsterk #loveofmylife

A post shared by GerhardSteyn (@gsgerhardsteyn) on

Die paartjie wou nie verdere besonderhede deel oor watter operasie Zelri ondergaan het nie. Zelri het wel op haar Instagram-blad verklap dat dit ’n persoonlike prosedure was en dat sy dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan is. 

Gerhard het ’n foto van sy vrou ná die operasie gedeel en daarby geskryf hoe dankbaar hy is dat als goed afgeloop het. “Dankbaar als het mooi verloop. Ai, die dinge wat julle vrouens moet deurgaan! Julle is baie sterker as ons manlike geslag!” skryf hy. 

Zelri en Gerhard is die trotse ouers van twee dogtertjies, Zardi (3) en Zaniq (5 maande), wat die wêreld vir hulle beteken.

Hul jongste kind, Zaniq, was net twee maande oud toe sy in die hospitaal beland het.  

“Sy het drie virale infeksies gehad asook bronchitis. Vir so ’n klein baba is dit lewensgevaarlik omdat hulle nog geen immuniteit het nie. Sy was dus vir vyf dae in die hospitaal, maar sy is weer Steyn-sterk," het Gerhard in ’n vorige onderhoud met Huisgenoot vertel. 

’n Aanhanger het Sondag op Instagram aan Zelri gevra hoe dit nou met hul jongste spruit gaan. Sy het toe laat val dat dit baie goed gaan met klein Zaniq. “Sy’s die mooiste ding ooit,” het sy daarby geantwoord. 

Op ’n vraag deur nog 'n aanhanger of die Steyns in die nabye toekoms nog ’n baba gaan hê het Zelri laat hoor dat dit als in God se hande is, maar vir nou is die antwoord nee.