Hulle is Span Steyn! ‘n Meer gespierde Gerhard Ste
Hulle is Span Steyn! ‘n Meer gespierde Gerhard Steyn met minder vet saam met sy vrou Zelri en dogters Zaniq (2) en Zardi (5). Foto: Onkgopotse Koloti

Wys my wat’s lekker en maak bietjie lyf los vanaand . . . So hoor jy Gerhard Steyn in “Groter as Goliat” sing. En dit lyk kompleet of hy sy eie raad gevolg het, want die 44-jarige wat nou voor jou staan, het omtrent 15 kg se vetjies “losgemaak”. 

Begin vanjaar het die sanger, TV-aanbieder, akteur en sakeman nog 149 kg geweeg, maar deesdae is hy ’n gespierde 134 kg. Jy kan maar sê hy’s nou meer Dawid as Goliat.

“Om te dink dat ek myself toegelaat het om soveel te weeg! Nee, ek gaan nie weer terug na daardie ou nie,” sê hy beslis. 

TV-kykers het die afgelope drie maande sy gewigsverliesreis dopgehou in die VIA-program Skud dit af. In dié reeks het hy en sy vriend en Konings van kitskos-medeaanbieder, Alvin Bruinders, mekaar die stryd aangesê om gewig te verloor, fiks te word en ’n gesonder leefstyl te volg. 

Alvin se hoofdoel was om slanker te word, vertel Gerhard, maar hyself wou ook spiermassa bou in die plek van die vetjies wat hy afskud.

“Ek wou weer fiks voel en ’n bietjie tone, en dit is wat ek reggekry het,” verduidelik hy. “Alvin wou soos Bobby lyk en ek soos Hulk!” 

Zelri en Gerhard het verlede maand hul agste huwel
Zelri en Gerhard het verlede maand hul agste huwelikherdenking gevier. Foto: Onkgopotse Koloti

Ons kuier op Zoom en Gerhard bult die spiere in sy linkerboarm.

“Kyk net hier!” sê hy trots. Sy T-hemp span styf oor sy gespierde borskas. Soos gewoonlik dra hy ’n kortbroek, al brom die res van ons oor die jongste bibberweer. Kort-kort gly sy arm om sy vrou, Zelri (30), wat styf langs hom sit. Hy was nog altyd vir haar aantreklik, maak nie saak hoe hy lyk nie, vertel sy op haar beurt.

“Ek het verlief geraak op my man se siel en sy hart – nie op sy lyf nie.” 

Die twee het juis verlede maand hul agtste huweliksherdenking by ’n luukse wildreservaat naby Hoedspruit in Limpopo gevier. Maar wat veronderstel was om ’n week lange romantiese wegbreek te wees, is kortgeknip toe hulle ná vier dae na hul huis in Boksburg moes terugkeer, vertel Gerhard. 

Kort ná hul aankoms het hulle ernstige verkoue opgedoen nadat hulle een aand tydens ’n wildrit natgereën het. Boonop het hul twee dogters, Zardi (5) en Zaniq (2), wat by Zelri se ouers agtergebly het, onverwags mangelontsteking opgedoen. 

“Daai twee woelwaters was ’n hele week lank plat,” vertel Zelri. “Hulle is besige dogtertjies. As hulle ’n week lank stil lê, moet jy weet hulle is síék!” 

Hul twee woelwater dogters, Zaniq en Zardi. Foto:
Hul twee woelwater dogters, Zaniq en Zardi. Foto: Onkgopotse Koloti

Hy mis hulle vreeslik wanneer hy vir ’n lang ruk van die huis af moet weggaan, sê Gerhard. Soos toe hy die afgelope drie weke saam met Alvin in die Oos-Kaap aan die sesde seisoen van Konings van kitskos verfilm het. Dié kosprogram het op 20 Julie op VIA (DStv-kanaal 147) begin. 

In vorige seisoene van die reeks het kykers gewaarsku die twee aanbieders gaan lywig word van al die proe. Gerhard vertel in die nuwe seisoen proe hulle steeds, maar die porsies is nou kleiner as voorheen. “Ons sit beslis ons goeie leefstyl voort. Ons het nou net ’n groter gewete met kleiner lywe!” 

Dit lyk of die bekendes tog soms na hul aanhangers luister . . . 

En moenie dink Gerhard se deelname aan Skud dit af was net iets tydeliks nie. “Die program was maar net die begin van die res van my gesonde lewe, en hierin is Zelri my grootste ondersteuner,” sê hy. 

Nes Gerhard het sy haar eetgewoontes aangepas. 

“Ek het hierdie reis saam met Gerhard aangepak,” beaam sy met haar kop op sy skouer. Sy gee ’n oomblik aandag aan hul Pekinees, Cooper, wat op haar skoot spring. “As jy mekaar ondersteun, raak die reis makliker,” hervat sy dan. 

“Ná my laaste swangerskap was ek bleddie swaar, hoor! Aan die begin van dié jaar het ek 76 kg geweeg. Nou is dit 64 kg.” 

Hulle draai nou veral briek aan met stysel en suiker.Lae-GI-koolhidrate soos patats, geelrys en botterskorsie kry regmerkies, maar koolhidrate soos aartappels wat in olie gediepbraai is, is taboe. So ook brood. 

Gerhard bieg hy mis daardie heerlike varsgebakte snye brood waarvoor hy so lief is. Omdat sy fokus op die bou van spiermassa is, eet hy wel meer proteïene. 

Gerhard het sy eie tuisgimnasium met onder andere
Gerhard het sy eie tuisgimnasium met onder andere ‘n slaansak om te moker. Zaniq en Zardi aap hul pa na terwyl ma Zelri ‘n handjie bysit. Foto: Onkgopotse Koloti

Hier vanuit hul kuier-en-TV-vertrek loop groot glasskuifdeure uit op die buitebraai-area waar hulle gedurende die somer die meeste aande deurbring.

“Dan sal ons sommer net sit en gesels, ’n glas rooiwyn drink en na die vuur kyk. Die kinders en die honde speel ook tussen ons rond,” vertel Zelri. “En amper elke aand sal daar gebraai word. Baie vroue sê dit seker, maar my man is die beste braaier wat ek ken!” 

Maar deesdae sien ’n mens nie meer daardie heerlike vet skaaptjoppies op die rooster nie.

Dit het nou plek gemaak vir gesonder vleissnitte soos filet, hoender en vis. Gerhard gee grappenderwys vir Zelri die skuld dat hy die afgelope paar jaar “ ’n bietjie swaarder geword het” as wat hy moes.

“Sy is mos ’n meesterkok wat ’n man kan bederf,” spog hy. 

En sy gunstelinggereg vanuit haar kombuis? Die twee kyk na mekaar en begin lag. “Nee, daar is te veel,” sê Gerhard. “Maar as ek nou iets moet uitsonder, sal ek sê daardie Thaise groenkerrie met hoender. Dit is nie die hoender wat die probleem is nie, maar al daardie sterk en ryk souse!” 

Melinda Bam en Angelique en Jacques van der Linde
Melinda Bam en Angelique en Jacques van der Linde van die JVL Wellness & Lifestyle-sentrum beoordeel Gerhard se vordering. Foto: Verskaf

In die ruim gesinskombuis is ’n eethoekie waar almal ook oor etenstye saamkuier, “maar ons sit nou koppe bymekaar om die kombuis te vernuwe en groter te maak”, verklap Zelri. “Gerhard is eintlik die groot beplanner in die huis. Hy het ’n fyn oog vir dekor en detail. Ek is mos die mamma-hen wat vir almal sorg en hy is die pappa-haan wat seker maak dit is mooi om ons.” 

Hoewel sy nou met haar leefstylaanpassings 12 kg afgeskud het, oefen die slanke Zelri glad nie so baie soos Gerhard nie.

“Ek dra vir hom water aan en sorg dat ons reg eet; dit is my ondersteuning.” 

Afhangend van sy werkprogram probeer Gerhard om vyf dae per week ’n uur lank in sy tuisgimnasium te oefen. As hy nie so besig was nie, sou hy eintlik meer tyd daar wou deurbring. “Maar ek is dankbaar dat ek kan werk,” sê hy. 

Van die kuierkamer op die grondverdieping van die Toskaanse huis stap jy met die wenteltrap op na die boonste verdieping. Hier tref jy drie slaapkamers en ook Gerhard se kantoor aan. Dis van hier waar hy sy verskillende ondernemings bedryf en ook sy liedjies skryf. 

Benewens sy TV-werk het hy en Alvin juis drie maande gelede nog ’n onderneming, Konings Media, begin.

Gerhard en Alvin kan nou ook in die sesde seisoen
Gerhard en Alvin kan nou ook in die sesde seisoen van Konings vir kitskos gesien word.

“Dit is ’n bemarkingsmaatskappy wat nuwe energie in mense se ondernemings blaas,” verduidelik hy. Die maatskappy stel visuele bemarkingstrategieë op en skep video-advertensies waarin die twee kunstenaars dan ook self speel. 

Dan is daar ook sy aanlyn onderneming, BoereKartel, wat kombuis-, braai-en buiteleweprodukte en klere verkoop.

“Hy het al die branding self gedoen,” gooi Zelri vinnig haar stuiwer in die armbeurs. 

Dit beteken nie hy skeep sy sangloopbaan af nie. Ná sy 2020-treffer, “Groter as Goliat”, werk Gerhard reeds weer aan ’n paar liedjies wat binnekort as enkelsnit-uitreikings verwag kan word. 

Zelri bestuur self ook haar eie aanlyn boetiekwinkel, Donkey & Darling. Die uitrustings word van internasionale verskaffers ingevoer, maar sy bestel nooit baie van dieselfde item nie.

“So sorg ek dat elke uitrusting uniek is. ’n Vrou hou mos nie daarvan om by ’n geleentheid op te daag en daar is iemand anders met dieselfde rok nie! Ons wil uniek wees.” 

Gerhard is juis nou besig om sy reuse motorhuis te omskep in ’n vertoonlokaal vir die klerereeks waar vroue persoonlik na die uitrustings kan kom kyk en dit aanpas. 

Zelri vee haar blonde kuif van haar voorkop af weg en spog dan eers ’n bietjie: “Hoeveel vroue kan sê dat hul mans bereid was om hul garage prys te gee vir hul vrou se onderneming? Maar dit is hoekom ons huwelik so gelukkig is, want ons werk in alles as ’n span saam.” 

Melinda Bam, aanbieder van Skud dit af, verduideli
Melinda Bam, aanbieder van Skud dit af, verduidelik aan Gerhard wat op hom wag in die volgende oefening. Foto: Verskaf

In die laaste aflewering van Skud dit af het Zelri saam met Alvin se vrou, Anrika, by hul twee mans op die stel aangesluit. Met haar oë vol trane het Zelri vir Gerhard gesê sy is supertrots op hom. “Ek en die girls is altyd daar vir jou. Ons is Team Steyn!” het sy toe voor die kykers verklaar. 

Dit word tyd vir Zelri om te groet. Sy moet gaan regmaak vir die fotosessie wat nou gaan volg. Hiervoor het sy spesiaal een van haar gunstelingontwerpe uit haar eie Donkey & Darling-reeks gekies, sê sy oor haar skouer so met die wegstap. 

Alleen voor sy skerm vertel Gerhard wanneer hy vandag na sy lewe kyk, is hy met dankbaarheid gevul oor dit wat hy, met die genade van Bo, as kunstenaar, TV-aanbieder en sakeman in die vermaakbedryf bereik het. Want die pad na sukses was nie altyd maklik nie. Dit het by tye bloedsweet en vasbyt gekos. 

“Jare gelede het ek baie los werkies gehad om net ’n inkomste te kan verdien,” verklap hy iets wat min mense weet. “Ek was op ’n tyd ’n clown wat by Spur ballonne opgeblaas en gejuggle het. Ek was ’n bouncer in Pretoria en het selfs al blomme gerangskik en skottelgoed by ’n restaurant gewas.” 

Maar sy grootste dankbaarheid is teenoor sy gesin, sê hy ’n bietjie later. “Want as jy ’n tight gesin het, dan het jy alles wat jy nodig het.”

Sy plek in die lewe is saam met sy gesin, sê Gerha
Sy plek in die lewe is saam met sy gesin, sê Gerhard. Foto: Onkgopotse Koloti

Hy vertel hoe hy nou die dag bewoë geraak het toe hy na Zelri en die kinders sit en kyk wat in die TV-kamer aan die slaap geraak het. Op daardie oomblik het Michael W. Smith se liedjie “Place in This World” oor die radio gespeel: I need your light to help me find my place in this world, sing die Amerikaner.

En terwyl hy so na sy gesin in droomland gekyk het, het Gerhard besef dat hy ook sý plek in die lewe gekry het . . . as lid van Team Steyn.

Grimering: Domonique De Lange

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe