Gerrie Pretorius gesels oor die einde van sy sanglooppbaan. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

Met sy satynstem en romantiese lirieke het hy vir hom ’n plek oopgesing in die ruim harte van liefhebbers van Afrikaanse musiek – veral dié wat met nostalgie terugdink aan wyle Bles Bridges met sy liefdesliedere en arms vol rooi rose.

Gerrie Pretorius het bekend geword as die sjarmante sanger wat soos sy ontslape held dikwels ook rooi rose uitdeel terwyl hy tussen die gehoor rondloop en Bles se treffers sing.

Maar nou het ook Gerrie se sangstem stil geraak – en waarskynlik vir goed. Terwyl ’n motorongeluk Bles in 2000 van sy bewonderaars weggeruk het, het paniekaanvalle ’n einde gemaak aan die musiekloopbaan van die gewilde donkerkopaanbieder van die kykNET-reeks Leef jou reis.

Gerrie Pretorius gesels oor die einde van sy sangl
Gerrie Pretorius gesels oor die einde van sy sanglooppbaan. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

“Dit was so drie jaar terug dat ek my selfvertroue op die verhoog verloor het,” erken hy vandag. “Ek het paniekaanvalle begin kry wanneer ek met die mikrofoon opstap. Ek het woorde vergeet, aan die bewe gegaan en erg gesweet wanneer ek die gehoor voor my sien.”

Al het dit tydens vertonings en in musiekvideo’s gelyk of hy elke woord koester wat hy sing, het ’n vrees gedreig om sy stem daar voor al die mense te steel – die vrees vir mislukking.

Gerrie Pretorius gesels oor die einde van sy sangl
Gerrie Pretorius gesels oor die einde van sy sanglooppbaan. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

Maar waarom dan? Gerrie (42) het immers eens op die kruin van die suksesgolf gery. Hy het tot 21 optredes in ’n maand gehad en ’n halfmiljoen albums verkoop.

Maar die onsekerheid het hom beetgepak in die tyd dat jong sangers soos Elandré, Jay en Demi Lee Moore op die toneel verskyn het.

Gerrie Pretorius in die dae toe hy die Huisgenoot-
Gerrie Pretorius in die dae toe hy die Huisgenoot-verhoog op feeste aan die brand gesing het. Hy het in ’n stadium tot 21 optredes per maand gehad. Foto: Martin de Kock/Media24

ANGS STEEL SY STEM

“Dit het net begin gebeur omdat daar so baie wonderlike kunstenaars is,” verduidelik hy. “Ek het minderwaardig teenoor hierdie goeie sangers gevoel. ‘Ek gaan my naam gat maak,’ het dit deur my kop gedraai. My mond het op die verhoog droog geraak. Ek het soveel foute gemaak; woorde vergeet.”

Sy laaste optrede voor ’n gehoor was in 2019 saam met Caroline Grace Brüssow van The Voice SA-faam in die kuierplek Weiveld in Pretoria.

En dis twee jaar sedert hy laas ’n CD, Jou hart is weer myne, uitgereik het. Tog sit Gerrie nie in sak en as nie.

“Die foksterriër het die kar gevang,” skerts hy. Dan op ’n ernstiger noot vervat hy: “Ek het ’n goeie innings gehad. Ek het Carnival City en ’n paar bootreise self uitverkoop. In 2001 het ek met “Annemarie” ’n goue plaat verwerf. Ek was so dankbaar. Die meetsnoere het vir my in plek geval. Ek kan nie kla oor my loopbaan nie.”

Maar daardie sangloopbaan is nou verby. Die kans dat jy hom weer in lewende lywe gaan hoor sing of dat ’n nuwe CD van hom weer te koop sal wees, is tussen skraal en nul.

“Die musiekbedryf is soos ’n roller coaster. Vandag maak jy R10. Môre maak jy R2,” sê hy. “Jy moet weet wanneer om die streep te trek.

Gerrie se program Leef jou reis op kykNET het tyde
Gerrie se program Leef jou reis op kykNET het tydens die inperking in Mosselbaai en omstreke verfilm. Foto: Instagram

REISE SONDER GRENSE

Gelukkig was hy nooit net ’n sanger nie, gesels Gerrie in ’n hotel op Kaapstad se strandgebied. “Ek het nog baie ander goed gedoen.” Nie net besit hy eiendom en kuierplekke op Mosselbaai en in Pretoria nie; hy besit ook sy eie reisonderneming.

Hy is juis hier in Kaapstad saam met ’n toergroep van 50 Suid-Afrikaners uit die noordelike provinsies wat met die Shosholoza Meyl se premierklas Kaap toe gereis het, kompleet met hul eie sjef en kroegman.

Chris Else, wat tydens die inperking ’n internetsensasie geword het, is ook by om hulle te vermaak. Gerrie sing geen noot nie. Hy is bloot hier as toerleier.

“Dis ’n fees. Hy’s ’n skat,” besing twee vroue in sy toergroep wat ons in die hotel se kroeg raakloop sy lof.

’n Dekade gelede sou hy nooit kon raai dat hy op sy lewensreis hierdie rigting sou inslaan nie.

“Ek gaan nooit uittree nie – en gaan soos Neil Diamond wees en nog jare musiek maak,” het hy in 2010 in ’n onderhoud met Huisgenoot voorspel.

In dieselfde jaar het hy sy buiging as TV-aanbieder gemaak van kykNET se eerste volwaardige internasionale leefstylprogram, Leef jou reis met Gerrie Pretorius.

Daarin verken hy unieke reisbestemmings wat hom na aan die hart lê en vertel vir kykers hoe om te maak as hulle sy spoor daarheen wil volg.

LIMOUSINE DAE

Dit het alles begin danksy sy sangloopbaan wat om gereeld Nederland toe geneem het. Gerrie en die Nederlandse sangsensasie Dana Winner het bevriend geraak en in 2007 saam deur Suid-Afrika getoer.

In 2012 het hy selfs ’n treffer, “First Kiss”, saam met Annie Schilder van die Nederlandse groep BZN gehad.

“Ons het in ’n limousine rondgery,” vertel hy van daardie glorieryke dae. Sy reise Nederland toe het die mense van kykNET se aandag getrek en Leef jou reis is gebore. Hy het al altesaam 76 lande vir dié reeks besoek wat die afgelope 10 jaar kykNET se no. 1- geborgde TV-program was.

Gerrie het leunstoelreisigers onder meer saamgeneem op ’n 24 uur lange busrit in Viëtnam, na ’n 800 jaar oue kerk in Ethiopië, na Machu Picchu, ’n oeroue stad onder die wolke in Suid-Amerika, en onlangs na die eilande van die Maledive.

Vra jy hom na sy gunstelingbestemming, krap hy kop. “Elke plek is mooi en lekker.”

CORONA KOPSEER

Dan vertel hy ons buurland Botswana hou vir hom ’n groot bekoring in.

“As ek doodgaan, moet hulle my as daar gaan strooi.” Met of sonder TV-kameras geniet hy dit nog altyd om Afrika met ’n viertrekvoertuig te verken. Aanhangers het begin vra of hulle kan saamgaan en sy reisonderneming het daaruit gespruit. “Ek is gebou vir ongemak. Ek gaan in ’n zone in,” verklap hy.

Teenspoed was daar ook op sy wêreldreise, soos die keer in Oktober 2019 in Cannes. Daar aan die Franse Riviera waar die bekende rolprentfees gehou word, het diewe by sy en sy kameraman se motor ingebreek. Hul paspoorte en toerusting is gesteel met die beeldmateriaal daarop.

Hulle moes noodgedwonge terugkeer Suid-Afrika toe en op nuwe paspoorte en visums wag.

“Sulke dinge gebeur in die lewe. Dit help nie ’n mens gaan lê nie,” sê hy filosofies. Hy en sy kameraman – ja, hulle is ’n span van twee wat alles doen – was op pad na Indië toe die coronavirus die wêreld tref en hul planne in die wiele ry.

Toe hy hoor die pandemie het sy vlerke geknip, moes Gerrie vinnig ander planne maak.

“My grootwordplek en my tuiste is Mosselbaai,” vertel hy. En dit is waar hy die inperking deurgebring het. Die plaaslike munisipaliteit het tot sy redding gekom en hom toestemming gegee om in Mosselbaai en omstreke ’n program vir Leef jou reis te verfilm.

EN DIE LIEFDE DAN?

Dié keer het hy TV-kykers ’n stukkie natuurskoon in ons eie land gewys. Na afloop van die huidige 10de seisoen sal die reisreeks afgesluit word met Leef jou reis Bon voyage. Die laaste seisoen sal ’n temareeks wees met onder meer die beste treinritte, die beste kos . . . alles van die beste.

Daarna gaan die eens bekende sanger en aanbieder net ’n sakeman van Mosselbaai wees – een wat selde tuis is.

“In 2019 was ek maar 96 dae by die huis,” vertel hy. “Ek is doodgelukkig met die leefstyl – van land tot land, vandag op hierdie dorp; môre daar.”

Soms sal hy ’n dag voor een toer eindig by ’n ander een aansluit.

“My lewe is ongekompliseerd; daarom kan ek dit doen.” Oor die liefde is hy heel nonchalant. Om ongebonde te wees is nommerpas vir sy nomadiese leefstyl, sê hy. “Ek is heeltyd omring deur ongelooflike mense. There is never a dull moment. Ek het ’n lewe vol lag en mense en herinneringe.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe