Die Leef jou reis-aanbieder het die nuus van sy groot operasie in die sosiale media gedeel. 

“As kind wou ons dokter nie my mangels laat uithaal nie, want dit het nooit probleme gegee nie. As volwassene was die spesialiste ‘versigtig’ om dit te verwyder, want my mangels is vergroot en lê naby ’n slagaar en boonop is die kans daar dat dit jou stem kan beïnvloed,” verduidelik hy in ’n Facebook-inskrywing. 

“My mangels was onder konstante druk van postnasale drup en sinus weens ’n rugbybesering waar ek my neusbeen gebreek het,” verduidelik Gerrie aan Huisgenoot.

Die volume waarteen ’n mens sing en die konstante ontsteking het gemaak dat sy mangels “massief groot” is. Dit het veroorsaak dat sy mangels sy liggaam in ’n mate vergiftig het, verduidelik hy.

’n Dieet van onder meer “coke, chips, kougom en roosterbrood sonder korsie” is nou sy voorland om te sorg dat daar nie rowe vorm of dat die spiere in sy kakebeen in spasma trek nie. Boonop het die dokter ’n goeie dosis “rus” voorgeskryf.

“Jy moet elke vier uur pynmedikasie gebruik en konstant probeer eet sodat daar nie tyd is vir rofies om te vorm op jou wonde nie. Want as hulle afkom, bloei dit en dan is dit gevaarlik,” vertel Gerrie nou.

Seënwese het van alle oorde af ingestroom voor die operasie en aanhangers was verheug toe hy uit sy hospitaalbed die goeie tyding deel.

“Sterkte, hoop jy voel gou beter, laat jou stem maar ’n bietjie rus. Ons luister solank na jou CD’s,” het een persoon in die kommentaarveld laat hoor.

“Baie bly als het mooi en goed afgeloop, Gerrie. Ek hoop jy word gou gesond en dat ons weer jou pragtige stem kan hoor. Jy is ’n fantastiese mens met ’n mooi geaardheid en stem. Dink aan jou, Gerrie,” skryf ’n ander.

Die gewilde aanbieder het ook vroeër vanjaar sy 12de album, Jou hart is weer myne, uitgereik, en hoop dat sy stem, sonder enige kwale, vinnig sal herstel.

“Ons sal eers oor drie maande weet oor die singery en hoe dit werklik my stem gaan beïnvloed. My praatstem moet reg wees teen 16 November, want dan begin ek met opnames vir die agtste seisoen van Leef jou reis,” sê hy ernstig. “Ek probeer dus nou net rus en herstel. Ek moet dinge stadig vat.”

Hy voel dat die operasie nodige rus sal bring ná ’n bedrywige jaar en dat dit sy liggaam se manier was om finaal te sê: “Stop eers ’n bietjie en besin.”

Toe hulle onlangs tydens die leefstylprogram se opnames gaste by Prinses Charlene van Monaco was, is daar by hul huurkar in Nice, Frankryk ingebreek. “Ons rekenaars, geld en paspoorte is uit die kattebak uit gesteel terwyl ons net om die draai besig met opnames was,” vertel hy moedeloos.

Hy sal vinnig moet herstel meen hy, want die volgende paar maande gaan bedrywig wees. “Ons vertrek vroeg in Desember met ’n klomp Leef jou reis-kykers na Oos-Europa vir ons jaarlikse Witkersfeestoer en in Februarie het ek weer ’n paar konserte en ’n bootvaart,” vertel Gerrie. 

“Baie dankie vir al die boodskappe. Ek was maar baie skrikkerig en bang vir die operasie, maar julle krag en liefde is deur julle gebede oorgedra in my hart. Baie baie dankie dat julle my nie vergeet het nie,” skryf hy op Facebook. 

Ten minste is sy sin van humor nie deur die operasie aangestas nie. “Ek hoop die dokter het sommer die bry ook uitgesny,” lag hy.