“Die bespiegeling is 100% vals,” sê die woordvoerder eksklusief aan Huisgenoot.

Die 43-jarige vrou van prins Albert is verplig om sedert Mei in Suid-Afrika te bly nadat sy chroniese oorprobleme ontwikkel het – iets waaroor gewese elite watersport-atlete dikwels kla.

Maar gissinge neem toe dat daar probleme in Charlene en Albert se huwelik is – en die Franse publikasie Paris Match het onlangs berig mense in Monaco is kwaad dat hul prinses nog nie teruggekeer het nie.
 
Die tydskrif haal ook iemand in die binnekring aan wat sê die prinses se verskoning “klink baie yl in ag genome hoeveel keer dit al opgehaal is”.
 
“Pasiënte met ernstige probleme word gedurig na ander dele van die wêreld gevlieg. Die beste dokters ter wêreld kyk na haar – dit sal nie so moeilik wees om ’n vlug huis toe uiters veilig en gerieflik te maak nie,” sê die bron.

Nog ’n bron sê aan die tydskrif: “Die prinses het in werklikheid vir eers geen voorneme om terug te keer nie.”

Charlene se woordvoerder sê egter die bewerings is “heeltemal onwaar”.
 
Volgens Chantell Wittstock, Charlene se skoonsuster en uitvoerende hoof van haar Monaco-stigting SA, “ondersteun die hele familie Charlene deur hierdie moeilike tyd.”

“Op die oomblik is sy opgeruimd terwyl sy vir die hoof- chirurgiese prosedure voorberei. As covid-regulasies dit toelaat, sal prins Albert en moonlik die kinders aan die einde van Augustus vir haar kom kuier,” sê sy.

Charlene het onlangs aan Huisgenoot vertel sy het ’n ernstige oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen kort nadat sy in Suid-Afrika aangekom het om saam met verskeie natuurleweorganisasies bewaringswerk te doen.

Sedertdien moes sy verskeie operasies ondergaan en sy sal volgende week nog een ondergaan.

Die komplikasie het ontstaan nadat sy vroeër vanjaar in Europa ’n sinusligting en beenoorplanting laat doen het.

Die dokters het haar verbied om te vlieg, want haar ore kan nog nie die druk hanteer wanneer die vliegtuig bo 6 000 m styg nie, het sy aan Huisgenoot gesê.

Prinses Charlene van Monaco met haar tweeling, Gab
Prinses Charlene van Monaco met haar tweeling, Gabriella en Jacques asook prins Albert. Foto: PLS Pool/Getty Images

“Ek mis my man, my babas – Jacqui en Bella – en my hondjies geweldig. Ek kan nie die been en membraan dwing om te herstel nie – dit neem tyd.”

In ’n onlangse onderhoud met Radio 702 sê die prinses sy “hoop om in Oktober terug te keer”.
 
Charlene se uitgerekte verblyf en merkbare afwesigheid van groot geleenthede in Monaco, wat Albert alleen of saam met hul sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, bygewoon het, het gelei tot bespiegelinge dat hulle op skei staan.

Dit is vererger deur die feit dat die egpaar nie hul 10de huweliksherdenking op 1 Julie saam kon deurbring nie. Pleks daarvan het die prinses ’n video op haar Instagram-rekening geplaas wat hul lewe saam vier.

“Gelukkige herdenking, Albert. Dankie vir die seëning van ons pragtige kinders,” het sy daarby geskryf.

Die prins en die tweeling het vroeg in Junie by Charlene in SA kom kuier, en foto’s op haar Instagram wys hoe hulle ’n wildrit geniet.

“Charlene se woordvoerder sê die prinses en Albert bly in noue kontak. “Charlene en Albert praat steeds elke dag. Hy is nou haar hoofbron van steun.

“Op die aanbeveling van haar mediese span kan sy steeds nie vlieg nie.”

Die woordvoerder skiet ook berigte af dat gesien is Charlene soek in Johannesburg huis.

“Charlene is in KZN en was glad nie in Johannesburg nie.
 
“Sy is steeds volkome toegewy aan haar stigtingswerk met die renosters en stort al haar energie daarin wanneer sy gesond genoeg voel.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe