Hykie vertolk die rol van dr. Conrad Bester in dié kykNET-sepie.

Hy het op sy Facebookblad die nuus met sy aanhangers gedeel.

“Vriende en fans, dis tyd om dit met julle te deel. Ek en Melissa het lank besluit om dit stil te hou omdat dit privaat is. Tog is dit net reg dat dit direk van my kant af kom en die tyd het aangebreek om dit met julle te deel,” het hy geskryf.

“Van julle gaan geskok wees, ander sal tien teen een glad nie eens omgee nie, daar sal 'n paar wees wat werklik meegevoel het en sommige sal ons kruisig. Hoe dit ook al sy, daar is gerugte dat my en Melissa se paaie geskei het.

“Dit is waar. Ons is ’n paar maande gelede geskei. Die redes is nie van belang nie, ons sal ook glad nie in diepte met die pers hieroor gesels nie,” het hy verder gesê.

Hykie is in 2013 met Melissa Jacobs getroud. Hy het die werklikheidsreeks Survivor SA in 2011 gewen en tree dikwels as motiveringspreker op.

Volgens Hykie is hulle albei deur ’n moeilike tyd en respekteer hulle mekaar se privaatheid.

“Ons sal wel almal se gebede innig waardeer. Dankie vir al my vriende, fans en familie, vir julle bystand, jul liefde en al jul gebede. Ek is ontsaglik lief vir julle,” het hy gesê.

Hykie se aanhangers het met bemoedigende boodskappe op sy inskrywing gereageer en hom en Melissa sterkte toegewens.

Hykie het by navraag gesê hy gaan nie verdere kommentaar lewer nie.