Vier jaar lank het die akteurs ­David Louw en Chri
Vier jaar lank het die akteurs ­David Louw en Christel van den Bergh ’n egpaar op televisie gespeel. En nou – nadat hul karakters geskei is én Christel se huwelik verbrokkel het – is die twee in die regte lewe saam. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier

’n Mens wou glo hulle is werklik dolverliefde getroudes. Want selfs waar jy in jou sitkamer voor die kassie gesit het, kon jy die vonk tussen Getroud met rugby se gunstelingpaartjie aanvoel.

Vir kykers was hulle die volmaakte paartjie: Simon Greeff, die gespierde ­kaptein van die Stryders-rugbyspan; en die beeldskone, beterweterige Renate. Ten spyte van hul stormagtige verhouding het die liefde geseëvier.

Behalwe die laaste keer.

In April vanjaar was Simon (gespeel deur David Louw) en Renate (Christel van den Bergh) se huwelik verby. Kykers was geskok. Kon hulle nie maar weer probeer het nie?

En vir David en Christel was hul karakters se storielyn ewe traumaties – al was dit net ’n storie.

Vandag, maande later, vertel Christel sy het die seer van haar karakter ervaar asof dit haar eie is. Want in die werklike lewe is die aktrise en haar man, JP van der Merwe, ná hul huwelik van net sowat vier jaar geskei.

Op 2 Oktober het ’n emosionele Christel in ’n kykNET-video oor die TV-­paartjie vertel: “In daardie stadium (met die verfilming) is ek self deur ’n egskeiding. Dis ’n terrible storielyn om te speel. En omdat ek self daardeur is, was ek so half vies vir Simon en Renate. Hulle het nooit self daaroor gepraat nie – régtig gepraat nie. Dit was net so half . . . that’s not how you do it. Jy weet?”

Die storielyn in Getroud met rugby het die wonde van haar eie seer bly oopkrap omdat dit lynreg saam met haar eie lewe geloop het, sê sy.

'Getroud met rugby'-kykers is met baie vrae ­gelaa
'Getroud met rugby'-kykers is met baie vrae ­gelaat nadat dié sepie se Simon en Renate geskei is. Die karakters was vier jaar lank ’n ­egpaar op die TV-skerms.

Maar nou glimlag Christel weer. En die rede? Want “David” en “Renate” se liefde het tóg geseëvier – maar dié keer weg van die stel.

Ja, bevestig die twee akteurs aan Huisgenoot: Hulle is nou regtig ’n paartjie. Smoorverlief en saam in die regte lewe.

Dié onthulling kom nadat ’n geheimsinnige Instagram-boodskap en foto deur David sy aanhangers laat gons het.

Op die foto hou David en Christel mekaar vas, maar kyk weg van die kamera. En David haal uit die fliek The Notebook aan: “But in one respect I have succeeded as gloriously as anyone who’s ever lived: I’ve loved another with all my heart and soul; and to me, this has always been ­enough.

Aanhangers het gereageer met bood­skappe van gelukwensing soos: “Hulle pas so mooi saam!” en “Sjoe, hulle is dié perfekte match.”

Tog het hulle nie veel ooghare vir mekaar gehad toe hul karakters in 2015 ’n paartjie op die stel geword het nie, het Christel in 2018 aan Vrouekeur vertel. ­David het toe beaam: “Ek dink ek het Christel erg geïrriteer.”

Waarop Christel geantwoord het: “Hy is vyf jaar jonger as ek, en toe hy baie jonk was, was hy so ’n bietjie irriterend, maar toe word ons gedwing om saam te werk, mekaar te leer ken . . . Nou is David een van die mense wat ek die liefste het.”

En nou het die twee se persoonlike ­storielyne, ten spyte van egskeidings op en weg van die stel, ten beste verweef ­geraak.

“Ek kan bevestig dat ek en Christel mekaar onlangs begin sien het,” beaam David aan Huisgenoot.

“Ons verhouding is nog baie nuut, maar ons sien uit na die nuwe hoofstuk wat op ons wag.”

Ja, hulle is dolverlief. Maar vir nou wil hulle nog nie die besonderhede van hul jong verhouding met aanhangers deel nie, sê David en Christel albei.

Aanhangers het vroeg in Oktober begin gis oor ’n ­
Aanhangers het vroeg in Oktober begin gis oor ’n ­romantiese verhouding ná ’n plasing wat daarop sinspeel dat hulle nou ’n paar­tjie is.

Aanhangers bespiegel al ’n geruime tyd in die sosiale media dat die twee vir mekaar koer. In November 2018 het een op ’n foto van David en Christel gereageer en gevra: “Is julle saam?”

David se antwoord was: “In Getroud met rugby, ja.”

Sosialemediagebruikers het ook gegons oor Christel se verjaardagboodskap aan David op 22 Mei vanjaar: “Jy is ondersteunend en jy plaas jouself altyd tweede. Ek hoop regtig 33 is jou jaar – en dat jy besef hoe spesiaal jy is. Dankie vir jou menswees.”

En David se antwoord: “Jy is een van die amazingste mense wat ek ken. Jy laat ’n mens veilig voel en jy is altyd daar vir raad. Ek wil net dankie sê – jy is awesome.”

David en Christel met sy hond, Logan, wat ook al '
David en Christel met sy hond, Logan, wat ook al 'n draai in 'Getroud' gemaak het. Foto: Instagram/@louwdavid

Christel het onlangs laat blyk haar lewe was die afgelope tyd nie maanskyn en rose nie.

Einde Augustus, in reaksie op haar en David se Royalty Soapie-benoeming vir beste TV-paartjie, het sy op ­Instagram geskryf oor die “redelike crappy jaar” wat sy beleef. “Ek is nog nooit groot op awards nie, maar as ’n mens jou siel so ontbloot soos ons s’n die afgelope amper vyf jaar, is dit ’n aangename gevoel om te weet it doesn’t go unnoticed.”

David en Christel is vanjaar vir 'n Royalty soapie
David en Christel is vanjaar vir 'n Royalty soapie-toekenning genomineer. Foto: Instagram/@christelvdbergh

Sy het ook in April vanjaar teenoor die tydskrif Sarie vertel dat sy deur ’n “moeilike tyd” gaan, maar niks oor ’n egskeiding verklap nie.

“Ek was so besig, ’n mens gaan net eintlik aan en deal nie met dit (jou seer) nie,” het die aktrise aan die tydskrif vertel. Dit was in die eerste drie weke van die inperking, wat sy op vriende se wildplaas by Pongola, in KwaZulu-Natal, deurgebring het.

“Ek is nou gedwing om deur my emosies te werk. Dis nie lekker nie, dit maak seer, maar dis goed om daardeur te werk. Ek dink hierdie lockdown het vir my – in my persoonlike lewe – op ’n goeie tyd gekom. Ek kyk terug op my lewe. Ek fokus op wat eintlik belangrik is.”

Eers op 2 Oktober het sy die rede vir dié seer bekendgemaak: Haar huwelik met JP, ’n risikoanalis en ekonomiese-­ontwikkelingskonsultant, is aan die verbrokkel. En op die stel was daar weens die egskeidingstorielyn g’n emosionele verligting nie.

Christel het onlangs bekendgemaak sy is van haar m
Christel het onlangs bekendgemaak sy is van haar man, JP van der Merwe, geskei. Hulle is in 2016 getroud.

Die karakters Simon en Renate het dikwels van mekaar verskil, maar hulle het lief gebly vir mekaar. In Oktober 2018 het Christel aan Vrouekeur vertel: “Daar is maar net nooit ’n perfekte einde vir ­Simon en Renate nie. Maar hulle is mekaar se hele wêreld, en dis spesiaal.”

Die verlies van die sepie-egpaar se ­ongebore baba was die laaste strooi.

Ook David was ongelukkig oor sy karakter se verbrokkelde huwelik.

“Ek is nie reg vir Simon om die lewe van ’n enkel­lopende te leef nie,” het David in April aan TVPlus gesê. “Dit voel nie reg nie. Die afgelope vier jaar was ek en Christel so deel van mekaar se werklewe; ek mis dit om teenoor haar te speel.”

Christel het aan dieselfde tydskrif vertel sy kan Simon nie saam met iemand anders voorstel nie. “Ek dink ek sal jaloers raak. Ek het so gemaklik geraak om hom in intieme tonele te soen.”

In die kykNET-video oor hul karakters se egskeiding vertel David dat hy en Christel as televisie-egpaar baie na aan mekaar gegroei het. “Die journey wat ons saam gehad het op die stel . . . Daar was baie lag en huil. Dis die eerste keer dat ek as akteur so iets ervaar het.

Christel en David is al lank hegte vriende.
Christel en David is al lank hegte vriende.

“Hier het ons ons eie leefgebied gehad. Dit was special. Jy was by die huis – weg van die huis af.”

Of hul karakters sal versoen terwyl hul romanse in die werklikheid gedy, weet hulle nie. “Ons kan maar net duim vashou dat dit sal gebeur,” sê David.

Christel beaam: “Die hopeless ­romantic binne my hoop maar altyd Simon en ­Renate kom by.”

Intussen sien die twee akteurs uit na die ware hoofstuk wat hulle nou saam begin skryf – dié keer agter die skerms en buite die kollig.

“Ek en Christel verkies om ons privaat en professionele lewe van mekaar te skei,”  sê David. “Ons het saam die besluit geneem om nie nog inligting aangaande ons privaat lewe te deel nie.”

Maar in hul liefdesverhaal is daar altyd hoop. “Ek hou vas daaraan,” skryf Christel in Augustus op Instagram.

En vir David is sy “TV-wife”, soos hy speels na haar verwys “ ’n warrior”.

Oor haar het hy al geskryf: “Saam met jou sal ek oorlog toe gaan.” En tot hul aanhangers se vreugde duidelik ook nou huis toe.

FOTO'S: GALLO IMAGES/NETWERK24/DEAAN VIVIER , INSTAGRAM/LOUWDAVID, FACEBOOK(@JP.V.MERWE,@GETROUDMETRUGBYKYKNET)
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe