Die akteurs – veral bekend om hul rolle as Blitz en Maryke in die kykNET-sepie Getroud met Rugby – het hulle dogtertjie Maandag laatmiddag, kort ná 17:30, in die Mediclinic Sandton-hospitaal in die wêreld verwelkom.

Rudo van Heerden, ’n woordvoerder vir kykNET, het die nuus Maandagaand aan Huisgenoot bevestig.

“Hulle is in die wolke en totaal oorstelp met die koms van klein sussie,” vertel Rudo aan Huisgenoot.

werner coetser,marijke van der westhuizen
Werner Coetser (Blitz Vermeulen) en sy verloofde, Marijke van der Westhuizen (Maryke Beltrame). Foto: Onkgopotse Koloti

Rudo sê Maryke, wat normaal geboorte geskenk het, het vroegmiddag reeds in kraam gegaan. 

“Ma en baba is albei gesond – en boonop verskriklik gelukkig. Hulle is reeds verlief op die klein dingetjie.”

Die paartjie het op 3 Februarie vanjaar, op Werner se verjaardag, in die Magaliesberge verloof geraak. 

Op 5 April vanjaar het die paartjie in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê Werner het reeds soos ’n pa vir die agtjarige Juwan, Marijke se seun uit haar huwelik met Pieter van der Westhuizen, geword.

Marijke het nog vertel: “Ek het begin huil toe ek besef ek is swanger. Ek was in ekstase oor die nuus.”

Marijke en Werner
Foto: Instagram/@marijke_van_der_westhuizen

Oor die swangerskapnuus het Werner nog gekoer: “Ek het in die kamer op die bed sit en wag toe Marijke die badkamerdeur agter haar toetrek. Ek was rustig; altans, ek dink ek was. Sy was nie ’n minuut in die badkamer nie, toe kom sy uitgestorm. Sy het ’n stralende uitdrukking op haar gesig gehad en ek het dadelik geweet ons gaan saam ouers word.”

Hulle het vroeër vertel hulle het reeds twee name gekies: Werner hou van Leja-Ann en Marijke verkies Layla. 

“Ons gaan kyk hoe sy met geboorte lyk. As sy donker hare het, is dit my naam. As sy ’n ligte gelaat en hare het, is dit Werner se naam,” het Marijke vertel.

En toe?

“Hulle gaan dit ’n verrassing hou en later die week aan aanhangers bekend maak,” vertel Rudo.

Marijke sal ook vir die volgende ses weke nie op stel wees om Getroud met Rugby te verfilm nie.