Huisgenoot het vroeër vanjaar met Juanita en haar man, André Velts, die regisseur van Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, gesels net voor Juanita uitgevind het sy is swanger.

“Ons is so opgewonde,” sê Juanita nou aan Huisgenoot.

Die mooi donkerkop is 15 weke swanger, maar weet nog nie of hulle ’n dogtertjie of seuntjie verwag nie.

“Ek hoop net vir ’n gesonde kind, maar ek dink ek is dalk meer van ’n dogtertjie-ma, maar ons gee glad nie om nie,” sê sy.

André vertel hy het ’n voorgevoel dat dit moontlik ’n dogtertjie is, maar hulle sal maar moet wag tot hulle volgende doktersbesoek.

Foto: Willem Botha
Juanita en André is nege jaar getroud vanjaar. Foto: Willem Botha

“Ek sien uit om te sien hoe dié klein peanut ’n persoonlikheid ontwikkel. Ek sien vir myself donker dae as die baba my sin vir humor het. Dit gaan my mal maak,” lag hy.

Juanita vertel sy het glad nie siek gevoel of enige newe-effekte ervaar sedert haar swangerskap nie.

André lag. “Dis wat sy sê, maar kom ek vertel jou. Sy crave chocolates. Sy wou my garage toe stuur om te gaan koop. Darem kon ons buurman ons met twee KitKats help en toe is sy tevrede,” skerts André.

Juanita het die swangerskapnuus op haar Facebook-blad gedeel.  

Haar en André se ouers was in die wolke toe hulle vroeër die jaar die nuus met hulle deel, vertel Juanita.

“My ma en pa was stil, maar bel toe daarna terug om seker te maak dat dit nie Lillybel, ons brak, is wat swanger is nie. Ons het so gelag,” sê sy.

“Ek dink ons albei se ouers het so lank gewag en het seker begin dink dit gaan nooit gebeur nie. Ek dink hulle is amper meer opgewonde as ons,” sê André.

Die regisseur van Vergeet my nie, André Velts, en
Die regisseur van Vergeet my nie, André Velts, en sy vrou, Juanita de Villers, saam met hul hondekind, Lillibel.Foto: ER Lombard

André vertel dit was ’n groot oomblik toe hy die eerste keer hulle babatjie se hartklop hoor.

“Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar dit was ’n life changing oomblik. Ek kan nie wag om te hoor hoe sy/haar stem klink nie, maar ek is completely in the dark, ek weet nie regtig wat om te verwag met ouerskap nie,” sê hy.

Juanita en André vier vanjaar hul negende huweliksherdenking.

“Ek dink my grootste wens vir ons kind is om gelukkig te wees en ’n goeie mens te wees vol liefde en respek. Maar as mens liefde en respek het vir ander en die natuur het, is mens vanselfsprekend ’n goeie mens,” sê Juanita.

André sê die belangrikste les wat hy vir hul kleinding wil leer is om verantwoordelikheid te aanvaar.

“Een van my grootste lesse was om verantwoordelikheid te aanvaar in die lewe. As mens dit doen sal jou uitkyk op die lewe reg wees. Eintlik het ek geen idee hoe om die ouerskap ding te doen nie,” sê hy.

 

Die kleinding word aan die einde van September verwag.

Juanita sê sy is dankbaar sy en André kan gehaltetyd saam spandeer, maar hulle is gereed om weer aan die werk te spring.

“Dit is ’n onsekere tyd met die coronavirus en als, maar eintlik is ek baie rustig. Ek voel veilig en gelukkig. Getroud met rugby was ook ongelooflik. Ek het aan die begin toe ons uitvind hulle laat weet en toe het hulle dit so goed hanteer. ’n Mens is maar skrikkerig omdat dit jou werk kan beïnvloed,” sê sy.

Juanita sal twee maande voor die baba se koms op kraamverlof gaan omdat dit dan “obviously moeilik gaan wees om my boep weg te steek”.

  • Vergeet my nie sal later vanjaar op DVD beskikbaar wees asook op BoxOffice.