Sandi, bekend vir haar rolle in onder meer Binnelanders en Knapsekêrels, is Maandag in die Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg opgeneem. Sy het ’n foto uit haar hospitaalbed op Instagram gedeel met die woorde: "Kom ons doen dit. Weer."

Sy het ook ’n foto van die uitsig uit haar hospitaalbed in die sosiale media gedeel. 

Sandi het aan Huisgenoot vertel sy het in November ’n operasie ondergaan om ’n skeidingswand in haar neus te herstel.

Dit het egter haar asma vererger, sê sy. "Daar was 'n gat in my septum en die dokter het gesê my neusklap het ineengestort. Dit het my asemhalingsprobleme vererger. Toe besluit ons op die opvolgoperasie.”

Die operasie is Maandag uitgevoer. "Dit lyk of dit goed afgeloop het, maar ek voel nog ’n bietjie asof ek in die gesig geskop is. Dit sal ’n week of so neem om behoorlik te herstel," sê sy. Sy sterk nou tuis aan.

Sandi het in Mei ook ’n klein mediese krisis gehad toe haar hondekind, Hobbes, haar per ongeluk op die mond stamp.