Chantal is beter bekend vir haar eerste sepierol as Cecile in 7de Laan en was tot onlangs nog in Getroud met Rugby te sien as Lindy Davids, die Stryders se fisioterapeut. Die aktrise deel gereeld op Instagram foto’s van haar bababoep. 

"So dit gaan gebeur. Nee, ek het nie net vet geword oor die feestyd nie," het Chantal op 28 Januarie by ’n kiekie van haar geskryf. Sy was toe reeds in die tweede trimester van haar swangerskap.

Van haar Instagram-volgelinge het haar gelukgewens. "Baie geluk Chantal!" het een laat hoor. "Dis wonderlike nuus. Mag jy en die baba deur jou swangerskap net seën ontvang."

"Baie geluk, maar kom terug na Getroud met Rugby," het nog een geskryf.

"Soos die meeste mense was ek geskok toe ek die eerste keer uitvind ek is swanger, maar die blote gedagte dat daar ’n klein mensie binne my groei maak my baie opgewonde," vertel Chantal aan Huisgenoot.

Al het haar kontrak met Getroud met Rugby in Augustus verlede jaar tot ’n einde gekom, was sy nog tot Desember op die kassie.

"Al is dit ’n goeie ding dat ek nie op stel is terwyl ek swanger is nie, sal ek eerder verkies om te werk," vertel Chantal.

Maar die aktrise sit nie stil nie. "Ek doen tans stemwerk, skryf manuskripte, liedjies, verskyn eersdaags in die fliek Die Skandaal as deel van die kykNET Sondagaand-dramareeks en het ook onlangs aan ’n MiWay-advertensie gewerk. Ek was alreeds in my tweede trimester van my swangerskap toe die advertensie geskiet is," voeg sy by.

Sy wil ook eers die baba se geslag geheim hou, maar verklap wel dat dit ’n "winter baba" is.

Chantal en RJ Benjamin, haar man van die afgelope vier jaar, verkies ook om hul huwelik uit die kolllig te hou. Hulle het mekaar in 2005 ontmoet toe sy in ’n konsert Rhythm’s Gonna Get You gesing het.

"Hy het een van die ander kunstenaars geken en dié het vir ons gesê hy gaan kom. Ek het reggestaan met my CD vir sy handtekening omdat ek ’n aanhanger was - en steeds is. Ons paaie het weer in 2013 gekruis," het sy voorheen aan Huisgenoot vertel.

"Ek is baie opgewonde oor my swangerskap, dis baie spesiaal en daarom weet net ons vriende en familie wanneer ons baba sy of haar opwagting gaan maak," sê sy.