Boer Fanie (33), die een met die kostelike aksent, is een van gewildste deelnemers nog uit die sesde reeks van Boer Soek ’n Vrou. Hy en Bernice de Abreu (26) is in April verlede jaar op Patensie tussen die lemoenbome in die Gamtoosvallei getroud.

En nou is dit amptelik: Die twee gaan ouers word. “Dis ’n dogtertjie,” laat Fanie glip oor sy eersteling. “Jy sal vir haar ’n present moet saambring, anders gaan sy huil. Jy weet hoe is vroue,” skerts hy.

“Ons is so opgewonde,” vertel Bernice aan Huisgenoot. “Baba Marx word in die Mediclinic George gebore,” voeg sy by. 

Fanie Marx op sy plaas in die Aberdeen-distrik. Foto: Corrie Hansen

“Kinders gaan nog ’n ruk moet wag,” het Bernice nog ’n dag voor hul troue in April verlede jaar gesê. “Ons wil eers settle ná hierdie moeilike tyd,” het sy destyds vertel. “Die bergplaas wat ons gekoop het, die droogte en oom Fanie se dood.”

Lewerkanker is begin verlede jaar by haar skoonpa, Fanie sr., gediagnoseer. Die dokters het hom moontlik drie maande gegee om te leef, maar toe is hy binne drie weke dood. Hy is op 21 April verlede jaar oorlede, ’n dag voor sy seun se troue.

Toe kom die nuus byna nege maande gelede dat Bernice swanger is.

Pa Fanie Marx sou uit sy vel gewees het oor die kleinkind van sy enigste seun. Hy sou ook graag by sy boerebruilof wou wees. Hulle het juis die troudatum van Oktober vroeër verskuif, aan die begin van die winter, sodat hy daar kon wees.  

Fanie saam met sy skape op die plaas. Foto: Corrie Hansen

Hy was mal oor Bernice; sy is nie vol nukke nie. Sy het onmiddellik aangepas op die plaas. Vir ander was die stilte ná ’n week te veel, het Fanie destyds vertel.

Bernice, wat nou regmaak vir haar babadogtertjie se koms, het nog tot onlangs van die plaashuis af vir twee ouditeursfirmas, een in George en een in Bloemfontein, gewerk.

Sy en Fanie, wat in 2013 in die sesde seisoen van die pasmaatprogram Boer Soek ’n Vrou was, het aanlyn ontmoet.

“Hallo. Hierdie gaan random wees: Ek hou van hoe jy praat,” het Bernice in ’n kort maar kragtige privaat boodskappie op Facebook aan Fanie geskryf. Dit het sy oog gevang tussen die een ná die ander relaas van ander vroue wat ook sy hart wou steel.

Vriende moes hom help om terug te skryf op Facebook. “Ek weet nie regtig hoe hierdie ding werk nie. Hier is my nommer.”

Sy stuur toe haar nommer sodat hulle in Bloemfontein vir die eerste keer by haar huis ontmoet. “Ek kon not de moer die huis met die groen tralies kry," het hy kort voor sy troue aan Huisgenoot vertel.

Sy moes toe maar vir hom Google Maps-aanwysings stuur.

Toe sy hom sien, het sy skoenlappers in haar maag gehad. Fanie het dadelik geweet dis die vrou vir hom. Hy het haar selfs sy bakkie laat bestuur sommer met daardie eerste ontmoeting.

Nie een van die drie finaliste in die kykNET-program was ’n pasmaat vir hom nie.

Fanie Marx hou van gholfhoue oefen op sy Aberdeen-plaas. Foto: Corrie Hansen

Bernice het goed aangepas by die plaaslewe. “Die plaas is rustig. Ek kan net myself wees. Anders as in die stad, groet mense jou,” het sy destyds vertel.

'n Deel van die brief wat Fanie Marx vir Bernice gelees het op hul troue. Foto: Misha Jordaan

“Dit was sleg om alleen hier op die plaas te bly," het Fanie gesê voor hy Bernice ontmoet het. 

"Sy is die pragtigste mens ooit,” het hy gekoer oor sy mooi donkerkop. Hy het toe gemeen hy's seker al "’n bietjie oud" vir pa-wees. "Gee ’n bietjie tyd,” het Fanie in die week van die bruilof gesê.

Hulle was toe al twee en ’n half jaar saam. Maar nou kan hy nie wag vir sy dogtertjie se koms nie.