Dit was hul swanesang as werkende Britse koninklikes, en hulle het geweet alle oë sal op hulle gerig wees voor hulle einde vandeesmaand amptelik na Kanada verhuis. Hul “abdikasie” uit hul amptelike pligte is immers wêreldnuus.

En toe Harry en Meghan op Maandag 9 Maart opdaag by die Statebond-­erediens in die Westminster-abdy, een van die vernaamste geleenthede op die koningin se kalender, het die twee behoorlik gestraal.

Haar Majesteit het dit duidelik gemaak sy sou nie haar kleinseun en sy vrou se afwesigheid duld nie – hulle word eers einde Maart van hul koninklike pligte onthef en daar is verwag dat hulle dié laaste geleentheid sou bywoon.

Nog deel van die familie

Die paleis het kort voor die diens in ’n verklaring aangekondig die Cambridges en Sussexe sal nie soos in die verlede deel wees van die koninklike prosessie wat agter die koningin die abdy binnekom nie.

Harry en Meghan groet jong aanhangers buite die ke
Harry en Meghan groet jong aanhangers buite die kerk. Meghan het ’n pragtige smaraggroen rok deur Emilia Wick­stead gedra. Foto: Gallo Images/Getty Images

Pleks daarvan sou elke paartjie na hul sitplekke vergesel word – en Harry en Meghan sou ná prins Edward en sy vrou, Sophie, die gravin van Wessex, volg.

Voor (van links) is die koningin, prins Charles, C
Voor (van links) is die koningin, prins Charles, Camilla, die hertogin van Cornwall, prins William en Kate. Agter hulle is prins Harry, Me­ghan, prins Edward en sy vrou, Sophie, die gravin van Wessex.

“Dis uiters betekenisvol,” sê Phil Dampier, skrywer van Royally Suited: Harry and Meghan in Their Own Words. “Dit benadruk dat hulle nie meer werkende koninklikes is nie, maar nog deel van die familie is.”

In die abdy, aan die sy van ’n stralende Meghan in haar smaraggroen ontwerpersrok, het Harry ietwat afgehaal gelyk. Hoewel daar min interaksie tussen hom en sy broer was, het hy geglimlag en vir William hallo gesê en Meghan het “haai” gefluister en vir haar skoonmense gewuif.

Vaarweltoer

Die egpaar is geprys vir hul Hollywood-­glans toe
Die egpaar is geprys vir hul Hollywood-­glans toe hulle eksieperfeksie gelyk het toe hulle onder ’n sambreel by die Endevour Fund-toekenningsgeleentheid in Londen aankom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die twee se vaarweltoer het enkele dae tevore begin toe hulle in Londen in gietende reën uit die kar geklim het by die Endeavour Fund-prysgeleentheid, wat beseerde dienspligtiges vereer.

Meghan was die toonbeeld van ’n rolprentster in ’n nousluitende blougroen rok deur Victoria Beckham, haar blink haredos agter­oor gekam en haar grimering perfek terwyl sy en Harry stralend vir mekaar onder ’n sambreel geglimlag het.

Soos die rubriekskrywer Jan Moir dit gestel het: Hulle “straal ’n moeitelose filmsterbetowering uit wat enigiets oortref wat die Huis van Windsor ooit kan bied. Dit was duidelik hulle het reeds ontpop in glansmense pleks van stowwerige ou koninklikes.”

Harry het ook gelyk of ’n towerfee hom beetgekry het – weg was die somberheid van die afgelope paar maande en in die plek daarvan sy ou uitbundigheid.

Meghan in ’n rooi rok en Harry in sy militêre uitr
Meghan in ’n rooi rok en Harry in sy militêre uitrusting.

Hulle het weer so gemaak met hul bywoning van die Mountbatten-musiekfees in die Roal Albert Hall. Daar het Meghan geskitter in ’n rooi skepping deur Saafiyah en Harry was in volle militêre mondering vir sy finale verskyning as kaptein-generaal van die koninklike marinierskorps.

By die Mountbatten-musiekfees het die twee met led
By die Mountbatten-musiekfees het die twee met lede van die musiekgroepe gemeng. Foto: Gallo Images/Getty Images

Harry was sigbaar ontroer tydens die geleentheid en ’n koninklike assistent sê dit was vir die prins “uiters pynlik” om bande met die gewapende magte te verbreek. Sy vrou, daarenteen, was deurentyd in ’n goeie bui.

Haar bekoring was weer eens duidelik tydens haar besoek aan die Robert Clack Upper School in Dagenham in die ooste van Londen. Sy was daar vir ’n geleentheid ter viering van vroue se Onafhanklikheidsdag – haar laaste solo­verpligting.

Studente is vooraf ingelig hulle kan ’n belangrike besoeker verwag en hulle het glo gedink dis dalk die premier, Boris John­son, die popster Beyoncé of selfs die aksieheld Jackie Chan – toe dit Meghan is, het die kinders geskree van vreugde.

Waar's baba Archie?

Maar tog was Harry en Meghan se vaarweltoer nie sonder kritiek nie. Dat hulle nie vir baba Archie saamgebring het nie, is nie goed ontvang nie.

Meghan het verskeie kere na haar 10 maande oue seun verwys en gesê hy het begin stap en is “versot op alles” – maar talle het gevoel sy en Harry moes die baba saam Engeland toe gebring het, selfs al was dit net om die koningin se onthalwe.

Dis onvergeeflik, sê Dickie Arbiter, die koningin se eertydse woordvoerder.

“Archie het sy groot-grootouers, koningin Elizabeth en prins Philip, en sy oupa, prins Charles, verlede jaar laas gesien. Ek is jammer, maar daar is geen verskoning om hom nie saam te bring nie.

“Die koningin word in April 94 jaar oud; sy gaan nie meer veel langer met ons wees nie. Prins Philip word in Junie 99; hy gaan ook nie meer veel langer hier wees nie.”

Harry en Meghan se verskoning was nog altyd dat Archie te klein is om te vlieg. Maar dis twak, sê Dickie.

“Babas vlieg gedurig – dis nie ’n goeie rede nie.”

Ongelukkige stiefma

Meghan is ook daarvan beskuldig dat sy die kollig van Harry se stiefma, Camilla, gesteel het. Dis omdat Meghan foto’s van haar besoek aan die Nasionale Teater op die Sussex Royal-Instagramblad – wat binnekort ontbind sal word – uitgereik het op dieselfde dag dat die hertogin van Cornwall ’n toespraak oor huis­houdelike geweld gelewer het.

Meghan se foto’s het natuurlik voorkeur in die media gekry en dit het Camilla glo “erg ontstel”.

Die woord ‘royal’

Die jongste gissings volg op weke se kritiek waarin Harry en Meghan daarvan beskuldig is dat hulle moedswillig is nadat die koningin haar voorwaardes oor hul uittrede uit die koninklike lewe gestel het – dit het ingesluit dat hulle nie die woord “royal” in enige van hul handelsmerke mag gebruik nie.

Die paartjie, wat ’n rits patente verkry het met die woorde Sussex Royal, was duidelik teleurgesteld. Hulle het op hul webtuiste gesê hulle sal Haar Majesteit gehoorsaam, maar bygevoeg dat niemand jurisdiksie oor die woord “royal” het nie.

Die publiek is glo ook keelvol oor hulle dalk vorentoe moet opdok vir die paar­tjie se privaat sekuriteit nadat Kanada aangedui het hulle gaan nie daarvoor betaal nie, wat dit in die hande van die Britse regering – en belastingbetalers – laat.

‘Finansieel onafhanklik’

“Die hertog en hertogin van Sussex kan nie hul brood alkant gebotter hê nie: Hulle is óf werkende koninklikes met die verpligtings wat daarmee saamgaan óf hulle is privaat burgers wat onafhanklikheid soek,” het die Britse belasting­betalersalliansie – ’n voetsoolvlakveldtog om belasting te verlaag – in ’n verklaring gesê.

Wat natuurlik die vraag laat ontstaan hoe die Sussexe “finansieel onafhanklik” gaan raak wanneer hulle van die einde van die maand af in Kanada hul eie potjie moet krap . . .

Dit sal darem nie heeltemal dieselfde wees as gewone burgers wat die pot aan die kook moet hou sonder hul familie se ondersteuning nie – die twee kry ’n bedrag geld van Charles af en daar is ook Harry se erfgeld van Diana.

Meghan is glo vasbeslote om haar loopbaan as aktrise te hervat, maar dis nog ’n ope vraag wat Harry gaan doen.

Patrick Jephson, prins Diana se voormalige privaat sekretaris, het daarop gesinspeel dit sal vir albei moeilik wees om hul langtermynplanne te verwesenlik sonder die status van hul koninklike agtergrond en titels.

“Hulle benodig die dinge wat net rykdom jou kan gee, maar trek neus op vir die verpligtings en openbare blootstelling van ’n koninklike lewe.

Jy kan nie die Sussexe kwalik neem dat hulle ’n “tweedevlakbestaan van linte knip en bladskud wou vermy nie – en veral om dit altyd in William en Kate se skadu te doen.

Tog, sonder hul koninklike status, hang daar ’n vraagteken oor hul langtermyngeldmaak­potensiaal – en die mag van hul ster­status kan ook afneem hoe langer hulle van die paleis af wegbly.”

Patrick sê Harry gaan dalk sukkel met die rustiger lewe weg van koninklike verpligtings.

“Die verlies van bekende gewoontes, tradisie en ’n vertroostende roetine sal op die ou end aan sy hart­snare pluk.”

Maar, sê die rubriekskrywer Jan Moir, jy kan nie die Sussexe kwalik neem dat hulle ’n “tweedevlakbestaan van linte knip en bladskud wou vermy nie – en veral om dit altyd in William en Kate se skadu te doen.

“Hulle is nou die middelpunt van hul eie produksie, die hoofsterre, nie die byspelers nie. Hulle het beweeg van hertog en hertogin van goeie dade tot moontlik die beroemdste paartjie ter wêreld, en dit wil gedoen wees.”

BRONNE: MERCURYNEWS.COM, DAILYMAIL.CO.UK, VANITYFAIR.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.CO.UK; THEGUARDIAN.CO.UK
Intussen is die sjarme-krane oopgedraai

Met Brexit én Megxit volbring, is die Cambridges ingespan om die die wêreld opnuut met koninklike sjarme te oorrompel.

Prins William en Kate se drie dae lange toer na Ierland was daarop gemik om eenheid te bou ná die beroering van ­Brexit, en om die Britte te help om hul verlies aan Harry en Meghan te verwerk.

En dit was duidelik ’n dawerende sukses. Die tweede aanspraakmaker op die troon en sy vrou het almal en alles bekoor, van die presidentspaar tot die koeie, kinders en opgewonde skares.

Met hul aankoms het die Ierse president, Michael Daniel Higgens, en sy vrou, Sabina, hulle hartlik verwelkom en Kate (38) het hul Birmaanse berghond, Brod, liefderik gestreel.

Pres. Michael D. Higgins se hond het ook die konin
Pres. Michael D. Higgins se hond het ook die konink­likes verwelkom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die hertogin, wat met ’n effens korter haarstyl gespog het, het erkenning aan die Smarageiland gegee deur groen van kop tot tone te dra in ’n patroonrok deur Alessandra Rich en ’n oorknoopjas deur Catherine Walker.

Hulle is later na die Gravity-kroeg in die Guinness Storehouse in Dublin, tuiste van die land se kenmerkende bier, waar William geskerts het hy “volg in sy ouma se voetspore deur die perfekte bier te skink”.



Kate het weer eens bewys sy is ’n onontbeerlike steunpilaar vir haar man, meen die lyftaalkenner Judi James. “Dit lyk of Kate nou die koninklike familie eiehandig op haar skouers dra,” het Judi aan die Daily Mail gesê.

Hulle het Ierse hokkie beproef. Foto: Gallo Images
Hulle het Ierse hokkie beproef. Foto: Gallo Images/Getty Images



“In talle van die posisies neem sy die voortou, nader eerste die gashere, gee die toon aan met ’n bietjie humor en neem met aktiewe gebare deel aan gesprekke.

“Sy lyk ook of sy stilweg toesig hou oor William en vir hom verskeie seine van aanmoediging gee, wat daarop dui dat die skeuring tussen hom en sy broer sy tol eis.”

Kate was ondersteunend tydens ’n formele onthaal waar William nie weg­geskram het daarvan om te praat oor die twee nasies se “moeilike pad” nie.

“Ek onthou hoe ek kleintyd gesien het watter probleme daar is wat soveel mense dwarsoor die Verenigde Koninkryk en Ierland geraak het,” het hy in sy toespraak gesê.

Prins William het koninklike protokol verbreek toe
Prins William het koninklike protokol verbreek toe hy saam met ’n aanhanger vir ’n selfie poseer het.

Die paartjie het ook besoek afgelê by Jigsaw, ’n liefdadigheidsorganisasie vir geestesgesondhedi in Dublin.

By dié geleentheid het Kate haar reputasie as spaarsame hertogin gestand gedoen in ’n roomkleurige Reiss-jas – ’n jas wat sy die eerste keer gedra het toe ?sy en William 12 jaar gelede nog ’n on­getroude paartjie was.

’n Vrou in die skare het vertel van ’n hartlike geselsie met William nadat hy en Kate op die platteland gaan stap het.

William en Kate op die Howthkrans.
William en Kate op die Howthkrans.

“Ek het vir die hertog gesê ek is versot op sy vrou en hy het gesê: ‘Dankie, ek ook.’ Hulle het vandag vir ons ’n bietjie betowering gebring.”

BRONNE: METRO.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, EDITION.CNN,  TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, DAILYEXPRESS.CO.UK; FOTO'S: JUSTIN GOFF/GOFFPHOTOS.COM/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA, GALLO IMAG-ES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, INSTAGRAM/@SUSSEXROYAL, BBC, INSTAGRAM/@KENSINGTONROYAL, TWITTER/DONNAMALONE21
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.