'Fikspirasie'

Hy is haar fikspirasie. Octavia Spencer is meer gefokus op fiksheid as ooit tevore – met ’n bietjie hulp van haar fiksheidsbewuste vriend Mark Wahlberg (47). Die 46-jarige aktrise het saam met haar medester van die nuwe rolprent Instant Family geoefen en die twee is omtrent liries oor mekaar.

“Hy het my regtig geïnspireer,” het Octavia onlangs aan Ellen DeGeneres gesê.

“Ek het hom soort van op Istagram dopgehou en het nie gedink dit kan regtig wees dat hy vieruur opstaan en oefen nie . . . Maar hy staan werklik elke oggend op.”

Die aktrise verduidelik sy het eintlik net een sweetsessie saam met die Mile 22-ster gehad, maar het baie by hom geleer.

“Ek het een (oefensessie) gedoen en dit was genoeg,” sê sy.

“Fiksheid en gewigsverlies is so ’n persoonlike reis. Wanneer ’n ghoeroe soos daardie sê: ‘Haai, laat ek jou help,’ antwoord jy: ‘Dankie, ghoeroe!’ ”

Die liefdesghoeroe

Ons kan almal doen met ’n vriend soos Jamie Foxx. Vra maar vir Olivia Munn . . .

Toe die aktrise van X-Men: Apocalypse-faam onlangs by haar vriendin Busy Philipps se nuwe televisieprogram inloer, het sy die afspraakraad gedeel wat Jamie (50) haar eenkeer gegee het.

“Jamie het my en die beroemde akteur met wie ek in daardie stadium uitgegaan het op ’n partytjie gesien,” vertel Olivia (38).

“Ek het aan die een kant van die partytjie gestaan en my kêrel aan die ander kant. Hy het met ander meisies gepraat en dit het my baie terneergedruk laat voel. Ek besluit om vroeg te loop, maar Jamie stop my toe en vra: ‘Waarheen gaan jy?’ ”

Die Sleepless-ster het Olivia later laat loop, maar haar gewaarsku hy gaan haar bel en ’n stemboodskap laat as sy nie antwoord nie.

“Die volgende oggend het ek ’n oproep en stemboodskap gekry,” sê Olivia.

“Hy het gesê: ‘Het jy hierheen gekom om iemand se meisie te wees? Nee! Het jy hierheen gekom om iemand se vrou te wees? Nee! Het jy hierheen gekom om met dié ou uit te gaan? Nee! Het jy hierheen gekom om ’n aktrise te wees? Ja! Moet nooit, ooit toelaat dat die een of ander ou jou weer so laat voel nie.’ ”

Volgens Olivia het Jamie se wyse woorde sedertdien vir haar ’n mantra geword.

“Elke af en toe sal dit in my kop opkom. Natuurlik gaan ek soms ’n bietjie van koers af, maar wanneer ek aan Jamie se raad dink, bring dit my weer op koers.”