Naya het op Woensdag 8 Julie by die Piru-meer in Kalifornië saam met haar vierjarige seun, Josey Hollis, ’n boot gehuur. 

Later die middag is die drywende boot met net haar seun aanboord gevind en haar voertuig steeds by die meer geparkeer, berig Daily Mail

Volgens TMZ het die seun aan die polisie gesê sy ma het in die water ingespring en nie weer na die oppervlak gekom nie.

’n Span met duikers, hommeltuie en helikopters is dadelik uitgestuur en het die meer vir Naya deursoek. Haar reddingsbaadjie was in die boot. 

Josey, haar seun by haar eksman, die akteur Ryan Dorsey, het in die boot gelê en slaap toe dit die eerste keer opgemerk is en is sedertdien in die veiligheid van familie geplaas, berig Variety.

“Hy is gesond,” het kapt. Eric Buschow van die distrik Ventura se polisiekantoor gesê. “Die familie beleef nou ’n baie traumatiese tyd.”

Kapt. Buschow het bygevoeg hulle soek steeds na die seun se ma wat in daardie stadium nog nie geïdentifiseer is nie, berig E! News

Die polisiekantoor het later op hul amptelike Twitter-blad die vermiste persoon as Naya geïdentifiseer en bekend gemaak die soektog is tot dagbreek afgelas.

Die aktrise en sangeres het verdwyn nadat sy ’n oulike kiekie van haar en haar seun op haar Instagram-blad geplaas het. 

View this post on Instagram

just the two of us

A post shared by Naya Rivera (@nayarivera) on

“Net ons twee,” het Naya by die plasing geskryf.

Baie van haar aanhangers het sedertdien op Twitter hul hoop uitgespreek dat sy lewend gevind word. 

“Naya Rivera is meer as net ’n Glee-karakter. Sy is ’n ma van ’n vierjarige kind wat haar meer as ooit nodig het. Hou op reaksie-foto’s/-video’s van die situasie plaas. Dit is onsensitief. ’n Mens word vermis. Ek bid dat sy veilig en gesond gevind word,” twiet ’n gebruiker. 

“Ek is jammer, maar Naya Rivera is meer as haar Glee-karakter. Sy is ’n dogter, ’n vriendin, ’n suster en ’n ma. Dit is baie onsmaaklik van julle om haar in so ’n tyd nie eens op haar regte naam te noem nie. Hou op met die memes en begin bewustheid versprei. Sy is vermis,” laat nog een hoor. 

Bronne: Daily MailTMZ, Variety, Twitter, Instagram