Die Glee-ster Naya Rivera is in Julie vanjaar trag
Die Glee-ster Naya Rivera is in Julie vanjaar tragies dood. Foto: Gallo Images/Getty Images

Naya (33), wat bekendheid verwerf het as die rasieleier Santana Lopez in die TV-reeks Glee, se lyk is op 8 Julie in die Piru-meer in Los Angeles gevind, vyf dae nadat sy tydens ’n bootuitstappie met haar seuntjie, Josey, verdwyn het. Josey is ’n dag van die uitstappie alleen op die boot gevind. 

In die hofstukke dagvaar Ryan (37) die Ventura-distrik in Kalifornië, waar die meer geleë is, sowel as die bestuurders van die meer. ’n Nadoodse ondersoek het bevind dat Naya ’n goeie swemmer was en dat haar dood ’n ongeluk was. 

Naya en Josey in 2019. Foto: Getty Images/Gallo Im
Naya en Josey in 2019. Foto: Getty Images/Gallo Images

In die nuwe hofsaak voer Ryan, wat van 2014 tot 2018 met Naya getroud was, aan dat nalatigheid tot die tragiese ongeluk gelei het. The Guardian berig daar word gesê die boot waarop Naya en Josey was het nie ’n veilige toegangsleer, radio, tou, anker of ander toerusting gehad wat sou kon keer dat swemmers van die boot geskei word nie. Volgens die dokumente was daar ook geen reddingsbaadjie of ander lewensreddingstoestelle aan boord nie.  

Die klag brei ook uit hoe die jong Josey getraumatiseer was deur die gebeure op die meer, volgens CNN. Die dokumente voer aan dat die nadoodse ondersoek verkeerd was in die bevindings dat Naya Josey met haar laaste krag op die boot teruggehelp het.

“Josey, wat nader was, kon op sy eie terug op die boot kom en moes homself staal teen die wind en stroom wat die boot heen en weer geruk het. Josey het geweet Naya is nog in die water en het haar hoor uitroep ‘Help! Help!’ in haar poging om by die boot te kom en nie te verdrink nie,” lui die dokument. 

Dit lui verder: “Josey het in wanhoop na tou gesoek om sy ma te help. Hy het toe weer op die water uitgekyk op soek na sy ma, maar sy het verdwyn. Josey het om hulp geskree en alleen in die boot gehuil tot hy meer as ’n uur later gevind is.”

Volgens The Guardian het 26 mense sedert die meer se opening in 1959 daar verdrink, tog was daar geen teken in die gebied wat mense waarsku oor die meer se “sterk strome, belemmerde uitsig en stormwinde” nie. 

“Terwyl Naya en Josey geswem het, is die boot weggedryf deur die stroom en sterk wind wat ’n spoed van tot 34 km/h daardie middag gehaal het,” lui dit verder in die hofstukke. 

Verteenwoordigers van die Ventura-distrik en die meer se bestuurders het nog geen kommentaar gelewer oor die hofsaak nie. 

Bronne: CNN, EOnline.com, The Guardian