George sal nooit die dag vergeet nie. Sy oudste dogter, die ontslape aktrise Naya, het op 8 Julie 2020 die middag in 'n gehuurde boot op 'n meer buite Los Angeles saam met haar toe vierjarige seun, Josey, gaan uitspan.

Sy't daarna haar pa, George, op FaceTime gebel. "Sy het altyd my raad gevra," vertel George (64) in 'n eksklusiewe onderhoud met die tydskrif People. "Sy wou saam met Josey in die middel van die meer gaan swem." 

Naya en Josey in 2019. Foto: Getty Images/Gallo Im
Naya en Josey in 2019. Foto: Getty Images/Gallo Images

Toe George hoor die boot waarop sy dogter en kleinseun is het nie 'n anker nie, het hy haar afgeraai om te swem.

"Ek kon sien die wind waai en my maag het net begin draai," sê hy. "Ek het heeltyd vir haar gesê: 'Moenie uit die boot klim nie! Moenie uit die boot klim nie! Dit sal wegdryf as jy in die water is.'"

'n Paar minute later is die oproep beëindig. Dit was toe die kommer hom beetpak. 

"Dit was hartverskeurend," erken hy. "Ek het hierdie slegte gevoel gehad wat my net baie erg gepla het."

Enkele ure ná sy laaste oproep het die nare gevoel wat George gehad het, 'n werklikheid geword.

Sy kleinkind Josey, wat toe 4 was, is op die boot aan die slaap gevind terwyl dit op die water van die Piru-meer gedryf het. Sy ma, Naya, was vermis.

Die 33-jarige aktrise, wat bekendheid verwerf het as die rasieleier Santana in die TV-reeks Glee, se lyk is vyf dae later in 'n afgeleë gedeelte van die meer deur die soek- en reddingsduikers van Ventura-polisiekantoor ontdek.

'n Nadoodse ondersoek het bevind dat Naya 'n goeie swemmer was en dat haar dood 'n ongeluk was. 

'n Verslag wat deur die Ventura County mediese ondersoek bekend gemaak is, het bewys dat Naya verdrink het nadat sy gesukkel het om haar seuntjie Josey weer in die boot te kry nadat die twee gaan swem het.

George sê hy kan nog steeds nie glo sy dogter is oorlede nie. 

"Dit is byna 'n jaar later en nog steeds is dit net so 'n waas van pyn," het George aan People vertel. "Dinge kom stadig 'n bietjie meer in fokus, maar ek weet nie of ek ooit hieroor vrede sal vind nie. Ek mis haar elke dag."

In November het Naya se eksman, die akteur Ryan Dorsey (37), 'n saak namens hul seun Josey aanhangig gemaak. Hy beweer dat haar verdrinking "heeltemal voorkom kon word". Ryan, wat van 2014 tot 2018 met Naya getroud was, het ook beweer dat die boot waarop hulle was nie aan die veiligheidstandaarde voldoen het nie en dat daar geen tekens is wat haar gewaarsku het teen die sterk stroom nie.

Die ontslape Glee-aktrise Naya Rivera en haar eksm
Die ontslape 'Glee'-aktrise Naya Rivera en haar eksman, Ryan Dorsey, het tot haar onlangse dood toesig gedeel oor hul seun, Josey Hollis Dorsey. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die klag brei ook uit hoe die jong Josey getraumatiseer is deur die gebeure op die meer, het CNN destyds berig. 

“Josey, wat nader was, kon op sy eie terug op die boot kom en moes homself staal teen die wind en stroom wat die boot heen en weer geruk het. Josey het geweet Naya is nog in die water en het haar hoor uitroep ‘Help! Help!’ in haar poging om by die boot te kom en nie te verdrink nie,” lui die dokument. 

Dit lui verder: “Josey het in wanhoop na 'n tou gesoek om sy ma te help. Hy het toe weer op die water uitgekyk op soek na sy ma, maar sy het verdwyn. Josey het om hulp geskree en alleen in die boot gehuil tot hy meer as ’n uur later gevind is.”

Volgens The Guardian het minstens 26 mense sedert die meer se opening in 1959 daar verdrink. 
BRONNE: PEOPLE.COM, TODAY.COM, THE GUARDIAN, CNN
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.