Mark Salling (35) het die rol van Noah “Puck” Puckerman, ’n atleet en boelie wat in ’n sanger ontpop het, in die gewilde televisiereeks vertolk.

Volgens die Los Angeles-polisie is Salling Dinsdagoggend omstreeks drieuur as vermis aangemeld. Gerugte doen die ronde dat hy homself naby Tujunga, Los Angeles, gehang het.

Woensdag het sy prokureur, Michael J. Proctor, bevestig dat Mark gesterf het, maar hy het nie die oorsaak van die akteur se dood bespreek nie.

“Hy was ’n sagte en liefdevolle mens, ’n baie kreatiewe mens, en iemand wat sy bes probeer het om te vergoed vir ernstige en oordeelsfoute wat hy gemaak het.”

Salling laat sy ouers en ’n broer agter.

Pornografie

In 2015 het Salling in die pekel beland toe verdoemende bewyse van kinderpornografiese materiaal op sy skootrekenaar en geheueskyfie in sy Los Angeles-huis gevind is.

Na bewering het dit meer as 50 000 foto’s en video’s bevat wat kinderpornografie, waarin onder andere meisies jonger as 12 jaar verskyn.  

Mark Salling op 3 Junie 2016 tydens sy verskyning in die hof op aanklagte van kinderpornografie, Los Angeles. Foto: Gallo Images/Getty Images

Joseph Macias, die hoof van die Amerikaanse Immigrasie en Doeane-veiligheidsondersoeke, het destyds gesê die foto’s is meer as net foto’s. “Dit is kindermishandeling,” het hy dit beskryf.

Salling het in Desember skuldig gepleit op een klag van die besit van kinderpornografie waarby ’n minderjarige betrokke is. Hy sou op 7 Maart vanjaar gevonnis word.

Volgens sy pleitooreenkoms sou hy na verwagting vier tot sewe jaar tronkstraf opgelê word, gevolg deur ’n tydperk van 20 jaar onder toesig en in die register vir seksoortreders opgeneem word.

Glee

Salling was betreklik onbekend toe hy van 2009 tot 2015 deel van die reeks word.

Na afloop van die eerste vier seisoene waarin hy gereeld verskyn het, het hy in die laaste twee seisoene sporadies opgeduik toe van die karakters te oud word vir hul storielyn.

Een van sy mede-akteurs in die reeks, Corey Monteith, het in 2013 aan ’n oordosis dwelms gesterf.

Twitter se uiteenlopende reaksie:

Bronne: time.com, bbc.com, cnn.com