“Ek het al van die begin van my loopbaan as akteur besef ’n mens sal net finansieel stabiel wees as jy deel van ’n sepie is,” vertel Arno aan Huisgenoot.

“Dit was egter nooit my droom om in ’n sepie te wees nie, en ek was reeds besig met my eie dinge in die agtergrond in my tyd by Getroud met Rugby,” verklap hy.

Kykers moes van sy karakter in Getroud met Rugby, Tommie, afskeid neem toe dié ’n sakegeleentheid in Singapoer nagejaag het.

“Hy het oral rondgeloop en alewig alles op sy vlogs vasgevang,” spot Ilse-Lee van Niekerk (25), wat Tommie se sussie Lorette gespeel het. “Hy was darem ook die eerste persoon na wie jy kon gaan as jy ’n video vir sosiale media of ’n nuwe rol nodig gehad het.”

Arno werk hard voor en agter die skerms, maar sal altyd tyd maak vir ’n grap of twee, vertel die aktrise Ilse-Lee van Niekerk. Foto: Verskaf.

Dié skuif weg van toneelspel het Arno in staat gestel om in Januarie Paper Plane Media saam met sy vriend Etienne Swanepoel te begin. Hy het egter intussen sy aandele in die maatskappy verkoop om voltyds op sy eie projekte te fokus.

“Ek het van die begin af geweet ek wil ’n sekere lewenstandaard handhaaf. Ek wil eendag ’n vrou en kinders hê, en ek is nie bereid dat ons iewers in ’n tent slaap sodat ek ’n akteur kan wees nie,” verduidelik Arno.

Deesdae werk hy agter die skerms as kameraman en sit hy selfs in die regisseurstoel van die gewilde reisprogram Leef Jou Reis met Gerrie Pretorius.

“Die uitdagings het baie groter geword, maar ek is nou eers in ’n plek in my lewe om daardie uitdagings te hanteer,” sê Arno wat deesdae verantwoordelik is vir talle projekte.

Ondanks al die uitdagings is Arno besig om een van die beste jare van sy lewe te beleef, skryf hy op Instagram. “As akteur is daar altyd ’n bietjie druk om ’n sekere manier te lyk, maar mense besef nie dat hulle net die goeie dele op die TV sien nie,” sê hy.

“Die fokus het vir my geskuif van hoe ek lyk na hoe gesond en gelukkig ek werklik is,” sê Arno. “Ek rook nie meer nie en drink ook nie te veel nie. Ek kyk na myself en maak seker dat ek gelukkig is.”

Hoewel die 23-jarige akteur bykans ’n jaar laas op die kassie of grootskerm te sien was, is hy vir sy rol in Vaselinetjie, wat in September 2017 uitgereik is, ook hierdie jaar vir die Huisgenoot Tempo’s akteur van die jaar benoem.

“Dit was baie vreemd toe ek sien ek is benoem. Ek het heeltemal vergeet dat ek oorweeg sou word,” vertel Arno. Die benoeming het hom egter laat besef hy moenie heeltemal van sy eerste liefde, toneelspel, vergeet nie.

“Ek het onlangs weer vir oudisies begin gaan en sal volgende jaar in twee flieks verskyn wat deur Deon Opperman vir die kassie vervaardig word,” sê Arno.

Die voordeel is nou dat hy kieskeuriger kan wees met die hooi wat hy op sy vurk laai, meen Arno. “Ek word nie meer soveel deur finansies gedwing om vir elke rol wat oor my pad kom ja te sê nie, want ek kan nou op my werk agter die skerms steun.”