Obviously was dit ’n tranedal. Ek het lekker gehuil, want ek het dit glad nie verwag nie,” vertel Kate aan Huisgenoot oor die oomblik toe haar kêrel die jawoord vra. 

“Jy is reg daarvoor en ons het al daaroor gepraat, maar jy wil nie heeltyd uitsien vir iets en dan gebeur dit nie,” vertel Kate. “EK het myself nog nooit voorberei nie. Ek wil hê dit moet steeds ’n verrassing wees omdat ons so lank al saam is,” voeg sy by.

View this post on Instagram

Pop the champagne, I’m taking his last name!?????? #whaaaat @oberholsterwillie ??

A post shared by Kate Roothman (@kateroothman) on

Kate en haar kêrel, ’n bokser en voorraadbestuurder Willie Oberholster (28), was die naweek by ’n plaas buite Fouriesburg in die Vrystaat. En dit is hier waar die spesiale oomblik plaasgevind het.

Die paartjie was in dié omgewing om die troue van Kate se medesterre Werner Coetser (Blitz) en Marijke van der Westhuizen (Maryke) se troue by te woon.

Die tweetjies het rustig gesit en gesels terwyl hulle die natuurskoon om hulle inneem, toe Willie vinnig by die huis inglip. 

Die volgende oomblik het hy vier bokse te voorskyn gebring. “Dit was gerangskik van groot na klein, van donker pers tot ligte pienk met ’n groot wit strik om,” vertel Kate.

Elke boks het ietsie kleins, van aanmaak-cappuccino-sakkies tot briewe oor hul verhouding ingehad.

Kate Roothman
Foto: Verskaf.

“Toe ek met boks nommer drie omdraai, is hy op sy knie,” vertel Kate. In die vierde boks was daar twee glase en ’n bottel sjampanje. 

As sy nou aan dié oomblik terug dink, kon sy moontlik vroeër uitgewerk het iets groot is op pad. “Toe hy binne die cappuccino's klits, kon ek sien sy hand bewe. Ek het gedink dis baie vreemd, want ek kon sien hy stres oor iets,” lag Kate.

Dit herinner haar aan die einste senuwees wat aan Willie geknaag het, toe hy haar destyds as tiener wou uitvra. 

“Ek is ongelooflik dankbaar dat ons so lank gewag het om hierdie stap te vat, want dit voel of ons mekaar letterlik net so goed ken,” koer sy.

Maar nou dat hulle eindelik verloof is, wil hulle beslis nie op hulle laat wag nie.

Kate Roothman
Die ring. Foto: Verskaf.
Kate Roothman
Die ring. Foto: Verskaf.

“Ek sien baie daarna uit om die troue saam met Willie te beplan. So spesiaal soos dit vir my is, so spesiaal moet dit vir hom ook wees,” vertel sy.

“Ons wil glad nie te lank wag voor ons trou nie, want ons is nou al 11 jaar saam. Ons is beslis reg vir hierdie volgende stap,” sê Kate.

Hoewel hulle nie vooraf saam na ringe gekyk het nie, het die ring waarmee Willie haar verras het, haar hart vermurwe.

“Ek is mal oor die ring. Ek hou nie baie van ditjies en datjies nie. Ek is ’n baie minimalistiese mens; die ring is heeltemal ek,” koer sy.

Dit is vreemd hoe vinnig ’n mens aan ’n verloofring gewoond raak en sy speel gereeld daarmee, bieg Kate. Toe sy weer tonele vir Getroud met rugby moes skiet, was dit ietwat moeilik om die ring af te haal.

“Ai, dit voel so vreemd, want jy voel net hierdie ring moet nou vir ewig aan hierdie vinger bly,” lag sy.