Reynardt Hugo
Die akteur en sanger Reynardt Hugo sê sy vrou, An-Maré, was dodelik siek nadat sy covid-19 opgedoen het. Die twee het tuis saam geïsoleer. Foto: Lubabalo Lesolle/Gallo Images

Vir die pasgetroudes was dit ’n week so reg uit die hel, vertel Reynardt, veral bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders. En dít nogal in die wittebroodfase van hul huwelik – hulle het immers eers op 2 April op Plettenbergbaai in die Wes-Kaap afgehaak.

Hul “week van hel” het begin toe An-Maré – of Anna, soos Reynardt liefderik na sy vrou verwys – op 7 Junie na Johannesburg teruggekeer het. Sy het die week vantevore by haar ma, Annarette Roothman, in Port Elizabeth in die Oos-Kaap gekuier.

“Ek het haar gaan optel by die lughawe en dadelik onraad vermoed omdat sy baie gehoes het en olik gelyk het, maar ons wou nie die wa voor die perde span en paniekerig raak nie,” onthou Reynardt vandag.

Anna het haarself Dinsdag laat toets en het Woensdag haar uitslae ontvang: sy het die virussiekte opgedoen. Maar die slegte nuus het veel verder uitgekring – ook Annarette en Anna se suster, Marisa Muller, het dit opgedoen.

“Ek kon nie saam met haar gaan toets het nie omdat ek heeldag op stel was. Maar toe ek haar boodskap kry . . . Sjoe, dit was asof die wêreld gedreig het om om my in duie te stort. Jy wil nie so ’n boodskap kry van die mens wat jy die liefste in die wêreld het nie,” sê hy.

Anna het die daaropvolgende dag amper dodelik siek geword, vertel die akteur. Sy was te swak om uit die bed uit op te staan, het gestoei teen erge hoofpyne en het erg gehoes. 

Reynardt Hugo
Die paartjie straal op hulle groot dag op 2 April. Foto: Nina Buys Photography

Reynardt sê dit het hom geruk om sy vrou so te sien – veral omdat dit maar net twee weke was sedert die akteur Ben Kruger, wat die rol van Okkie Ferreira in Binnelanders vertolk het, weens dié siekte dood is.

“Dit het vir my gevoel ons het nog nie eens kans gekry om oor oom Ben te rou nie, en nou dít,” sê Reynardt. “Duisend dinge maal deur jou kop. Ek het bly dink ek kan nie vir Anna verloor nie . . . Ek weet ’n mens se kop hol maar met jou weg, maar jy kan nie help om jouself daardie soort vrae te vra nie. Hoe sou ek kon aangaan sonder haar? Ek sou nie kon nie.” 

Reynardt en Anna moes noodgedwonge ’n week lank in kwarantyn deurbring – albei in aparte vertrekke. Hy sê in dié tyd het vriende, mede-akteurs en selfs hul bure kos en medisyne aangedra.

Reynardt Hugo
Reynardt sê Anna se stryd met covid-19 het hom opnuut aan sy eie verganklikheid herinner. Die gedagte dat hy haar kon verloor, was vir hom vreesaanjaend, vertel die akteur. Foto: Instagram/Reynardt Hugo

“Ek is nie eens skaam om dit te erken nie: Ek was die hele week lank huilerig,” vertel Reynardt. “’n Mens word gekonfronteer met jou eie verganklikheid – en dis angswekkend. Jy besef ook dan presies hoe ernstig hierdie ding is.” 

Toe Anna op haar siekste was, het sy gevrees vir die dood, vertel Reynardt openhartig. 

Toe hy vandag daaroor praat, maak dit hom opnuut emosioneel.

“Ek kan nie onthou wat vooraf gesê was nie, maar Anna het in een stadium so in die gang stilgestaan en gesê: ‘Ek is lief vir jou.’ Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar ook, maar toe antwoord sy: ‘Ek is bang om dood te gaan.’ Dit het my geruk. Niemand van ons sou tog kon voorspel watter verwoesting die virus in haar liggaam sou saai nie. Dit was verskriklik erg.” 

Maar Anna het deurgetrek, vertel ’n dankbare Reynardt. Sy sukkel nog met hoofpyn en is nog hoeserig, maar voel “stukke beter”.

“Gelukkig is my vroutjie nou oukei,” sê die akteur. 

Reynardt het self in Julie verlede jaar covid-19 opgedoen. Hy het toe vertel hoe vreesaanjaend dié siekte was wat hom dae lank tam en afgemat gelaat het.

“Jis, niemand wil die mens wat jy liefhet so siek sien nie – nie een mens nie. Ek wil opnuut benadruk hoe belangrik dit is dat ons na onsself kyk. Hierdie virus is nie kinderspeletjies nie. Dis erg en verskriklik ernstig en dit kan jou lewe enige tyd steel. My hoop is dat mense luister en notisie neem – leer by dié wat so dankbaar is dat hulle leef.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe