Hy vlieg die wêreld vol in ’n privaat vliegtuig, het amper 150 000 volgelinge op Instagram, woon in ’n luukse herehuis en is gewoond aan ’n stralerjakkerlewe. En nee, ons praat nie van Lewis Hamilton nie, al kon dit netsowel die geval gewees het.

Ons praat van sy geliefde troeteldier Roscoe, ’n bulhond wat die woord “hondelewe” nuwe betekenis gee.

Nie net is Roscoe een van die mees bedorwe brakke ter wêreld nie; hy verdien ook meer geld in twee dae as wat die meeste Suid-Afrikaners in ’n maand maak.

Die viermalige Formule 1-wêreldkampioen (33) is so trots op sy beste vriend; hy het hom by ’n modelagentskap ingeskryf. Boonop maak Roscoe meer as hond haaraf.

Good morning! #RoscoeHam

A post shared by Roscoe & Coco Hamilton (@roscoelovescoco) on


Tydens ’n oudisie vir ’n hondekosproduk het hy teen 10 of 15 ander honde meegeding, sê die Britse renkampioen. Hy het die werk gekry en is nou omtrent in aanvraag.

“Hy word sowat R9 450 per dag ?betaal en kry boonop lekkernye waaroor hy dol is,” sê Lewis.

Selfs die renjaer, wat R3,3 miljard werd is, dink dis “belaglik” hoeveel geld Roscoe verdien.

#repost from our dad @lewishamilton

A post shared by Roscoe & Coco Hamilton (@roscoelovescoco) on

As Roscoe ’n maand lange kontrak sou losslaan, sou hy sowat R283 500 per jaar verdien, sommer heelwat meer as die deursnee-Suid-Afrikaner se salaris.

En dis nie asof die vyfjarige Britse bulhond die pitte nodig het nie.

Hy en Lewis se ander bulhond, Coco, reis in styl aan boord van hul eienaar se privaat straler, ’n bloedrooi Bombardier CL-600, en bly in weelderige hotelle saam met Lewis wanneer hulle nie in sy paleisagtige huise ontspan nie.

Die vliegtuig, wat Lewis in 2015 vir sowat R263 miljoen gekoop het, is met verskeie plasmatelevisieskerms, ’n kroeg en uittrekbed toegerus. Laas het Coco die bed vol gekwyl nadat sy ’n bietjie te opgewonde geraak het op die vliegtuig.

Maar salaris is nie die enigste ding waarmee Roscoe die meeste van ons ore aansit nie: Die hond met die hangwange het ook 143 000 volgelinge op Instagram.

Tussen die foto’s waarop Roscoe langs Coco te skattig lyk, merk ’n mens ook ’n paar beroemde gesigte op. Op een Instagram-foto hang Roscoe saam met “oom Lionel” uit – die sanger Lionel Richie.

Roscoe se beroemde vriende sluit die musieklegende Lionel Richie in. Die sanger verskyn op die hond se Instagram-­rekening.

Natuurlik het Roscoe ook heelwat hoë vriende in die motorsportbedryf. Hy en Coco reis dikwels saam met hul eienaar die wêreld vol en kry spesiale behandeling, soos om in beperkte gebiede te ?kuier terwyl hul eienaar om die baan rits.

Wanneer die druk van sy stralerjakkerleefstyl vir Roscoe te veel raak, lawe hy sy bulhondlyf met tradisionele Chinese genesingspraktyke.

In ’n video wat Lewis verlede maand op Instagram gedeel het, het Roscoe ?’n groen donkerbril op terwyl hy ’n akupunktuurbehandeling kry.

’n Hond wat akupunktuur kry, klink dalk ’n bietjie dik vir ’n daalder, maar Roscoe lyk salig ontspanne. In die video lê hy op sy maag met sy kop op sy pote terwyl hy met ’n laser behandel word.

“Dit is my seun, Roscoe, wat akupunktuur kry. Dis hoe ons die lewe in LA lei,” skryf Lewis in die byskrif.

Roscoe dra glo die donkerbril om sy oë tydens 'n laserbehandeling te beskerm.
Die bulhond vol kreukels tydens ’n ontspannende akupunktuursessie om sy moeë honde­lyf te lawe.

“Hy dra die donkerbril om sy oë teen die laser te ?beskerm. Bulhonde is die beste. Ter inligting: Hy betaal self hiervoor met sy Hollywood-modelgeld.”

Lewis se 6,7 miljoen volgelinge is lekker jaloers op sy woef.

“In my volgende lewe kom ek terug as Lewis Hamilton se hond,” sê een.

“Die hond lei die beste lewe,” voeg ’n ander een by.

Die wonder van die geneeskunde is vir Roscoe niks vreemds nie. Lewis het immers in 2016 sy sperma laat bevries. Dié stamboekhond, wat glo sowat R3,5 miljoen werd is, is so belangrik vir Lewis dat hy dit gedoen het sodat die hond steeds klein hondjies kan verwek.

Die bulhond se gedrag het vir hom ’n bietjie te veel geraak.

“Die arme ou sou lukraak wakker word en oral ejakuleer,” het Lewis aan F1 se podsending Beyond the Grid gesê.

“Hy sou bang raak en nie weet wat gebeur het nie. Dit was erg. Toe moet hy gesteriliseer word, maar ek kan nie nié met die ou teel nie. Hy is so aantreklik en het so ’n sagte hart. In ’n stadium sal ons hondjies kry, waarskynlik wanneer ek uit die renbedryf tree en ’n gesin het. Ek sal beslis nog Roscoes kry.”

Maar as Roscoe gaan wag tot sy pierewaaiereienaar gaan nesskop, gaan hy lank wag.

Die renjaer het al onder andere met die skoonhede Rita Ora (27) en Nicole Scherzinger (40) uitgegaan.

Lewis, wat naas Michael Schumacher die meeste oorwinnings in die geskiedenis van Formule 1 behaal het, toon geen teken van briek aandraai nie, en nie net op die renbaan nie.

Die bedorwe woef maak gereed vir ’n rit in sy eienaar se renmotor.

Die sangeres Christina Aguilera (37) het onlangs onthul Lewis se stem word in haar liedjie Pipe op haar jongste album, Liberation, gehoor.

Sy moes ’n eed van geheimhouding aflê oor XNDA, die skuilnaam wat Lewis op die snit gebruik, maar wou “bitter graag hê almal moes uitvind, want hy het beslis vele talente”.

Gerugte doen die ronde dat die renjaer, wat graag die musiektoneel wil betree, in 2011 met Jay-Z (48) en Kanye West (41) saamgewerk het.

“Lewis het voorheen aanlyn oor sy sang geskimp, maar dit is die eerste keer dat sy stem op ’n amptelike liedjie gehoor word,” het ’n bron aan The Sun gesê.

Ons wonder of Roscoe in sy baas se volgende musiekaanbieding sal verskyn. Want as jy onder dieselfde dak as Lewis Hamilton woon, is enigiets moontlik.  

En elke hond kry mos sy dag.

BUSINESSTECH.CO.ZA , DAILYMAIL.CO.UK, THETIMES.CO.UK, THESUN.CO.UK
FOTO'S: INSTAGRAM/@ LEWISHAMILTON, INSTAGRAM/@ ROSCOELOVESCOCO