Goldie Hawn en Kurt Russell.
Goldie Hawn en Kurt Russell. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Hollywood verbaas dit niemand wanneer ’n glanspaartjie se huwelik of verhouding sneuwel nie. Selfs die mees gevierde paartjies – soos Brad Pitt en Angelina Jolie of Kim Kardashian en Kanye West – gaan dikwels ná ’n paar jaar hul afsonderlike weë.

So bid jou dit aan: twee beroemde akteurs wat al 38 jaar lank saam is en steeds nie uitgepraat kan raak oor hoe lief hulle vir mekaar is nie.

Party lesers sal dalk onthou dat Goldie Hawn en Kurt Russell al in die 1980’s ’n paartjie was en toe al soms saam op Huisgenoot se blaaie verskyn het. En dié akteurspaar, albei reeds in hul 70’s, is ondanks Hollywood se storms steeds saam – en nog net so gelukkig by mekaar as destyds.

Hulle is onlangs afgeneem waar hulle op ’n strand van die Griekse eiland Skiathos soos twee jong verliefdes kuier. En dis nie net die liefde wat ná al die jare sterk staan nie.

Goldie het steeds die bruisende persoonlikheid waarvoor sy doerie jare bekend geraak het. Op Skiathos is sy afgeneem waar sy soos ’n opgewonde jong meisie met swaaiende lokke in die vlak water rondbaljaar. Die ouma van sewe het ’n eenstukswembroek en ’n helder sarong gedra.

“Kan nie ophou dans nie, wil nie ophou dans nie. Skiathos, Griekeland. Mamma Mia, wat ’n eiland!” was haar onderskrif by ’n video op Instagram.

Saam met hulle op die eiland was Goldie se akteursdogter, Kate Hudson, asook Kate se kinders, Ryder, Bingham en Rani, en haar kêrel, Danny Fujikawa.

Die familie by ’n geleentheid in 2016. Agter van l
Die familie by ’n geleentheid in 2016. Agter van links is Oliver Hudson, Kurt en Goldie, Kate Hudson en ­Wyatt Russell. Voor is hul kleinkinders: (van links) Rio, Ryder, ­Bodhi, Wilder en Bingham. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daarna het die glanspaartjie koers gekies om sjampanje te gaan drink en te sonbaai op ’n duur seiljag aan die suidkus van Frankryk. Volgens sommige standaarde is hul verhouding dalk ongewoon. 

Hulle het byvoorbeeld nooit getrou nie. En tog blyk hul liefde veel meer duursaam te wees as dié van party mense wat voor die kansel beloof hulle gaan vir altyd saam wees.

“Die huwelik is ’n interessante sielkundige ding,” het die 75-jarige Goldie onlangs in die Britse geselsprogram Loose Women gesê.

“As jy voel jy moet aan iemand gebind wees, dan is dit belangrik om te trou. Maar as jy onafhanklik is, as jy genoeg geld het en van jou onafhanklikheid hou, is daar iets sielkundigs daaraan om nie te trou nie. Ek kies om te bly, Kurt kies om te bly, en ons hou daarvan dat ons ’n keuse het.”

Die goue paartjie, wat in Los Angeles woon, het mekaar in 1966 op die stel van ’n Disney-rolprent, The One and Only, Genuine, Original Family Band, ontmoet.

Kurt was destyds 16, ’n gewilde kinderster, en Goldie was ’n 21-jarige aktrise wat toe pas begin het om vir haarself naam te maak. “Ek het gedink hy was oulik, maar hy was veels te jonk vir my,” onthou Goldie.

Dit was eers in 1983, nadat hulle in die rolprent Swing Shift ’n paar jong verliefdes in die Tweede Wêreldoorlog gespeel het, dat hulle in die regte lewe ook begin vry het.

Die twee het verlief geraak op die stel van die fl
Die twee het verlief geraak op die stel van die fliek Swing Shift. Foto: Gallo Images/Alamy

“Ons het albei gesê ons sou nooit met ’n ander akteur uitgaan nie, so dit wys jou net: ’n Mens weet nooit . . .” sê Goldie.

Volgens Kurt was hul eerste afspraak soos iets uit een van die komedies waarin Goldie so gereeld verskyn het: Hulle is byna deur die polisie in hegtenis geneem.

Hulle was die aand saam uit en het daarna besluit om by Goldie se nuwe, ongemeubileerde woonstel in te glip. Omdat hulle nie ’n sleutel byderhand gehad het nie, het hulle ingebreek. Maar die inbraak het die polisie se aandag getrek. Hulle is by die trap op en het begin om mekaar daar warm te vry, onthou Kurt.

“Die volgende oomblik raak ons bewus van iemand wat ’n flitslig skyn. Dit was bisar en eienaardig, maar ons is aangesê om ’n hotelkamer te gaan kry. Wat ons toe gedoen het!”

Daardie jaar het Kurt se huwelik met Season Hubley, die ma van sy seun Boston Russell, op die rotse geloop.

Goldie het in daardie stadium twee mislukte huwelike, met Gus Trikonis en Bill Hudson, agter die rug gehad. Bill is die pa van haar kinders Oliver en Kate.

Sy vertel dis toe sy gesien het hoe goed Kurt met haar kinders oor die weg kom dat sy halsoorkop verlief geraak het. Die kinders was onderskeidelik ses en drie jaar oud toe hulle hom ontmoet het.

“Hy was wonderlik met hulle. So natuurlik,” onthou Goldie. Kate en Oliver is boonop gek oor hom. “Kurt is ’n redder wat in my lewe ingekom het,” sê Kate, wat hom ook “Pa” noem.

Sy vertel haar biologiese pa was aan en af in haar lewe, maar Kurt was altyd daar. In 1986 is die paartjie se kind, die akteur Wyatt Russell (nou 34), gebore.

Die twee minnaars het besluit hulle sal trou as hul kinders ’n probleem het met hul buite-egtelike saamblyery, maar blykbaar het niemand ooit gekla nie.

“Die huwelik het nie vir een van ons gewerk nie,” het Goldie by geleentheid opgemerk.

“Ek was al twee keer getroud. As jy dit een keer, twee keer gedoen het, besef jy om te trou het niks met sukses te doen nie. ’n Volhoubare verhouding gaan nie oor trou nie. Dit gaan daaroor dat julle by mekaar pas en kommunikeer.”

Kurt en Goldie, wat saam dekades se sukses in die vermaakbedryf agter die rug het, het mekaar nog altyd ondersteun en ’n paar keer saam opgetree.

Hul beroemdste fliek saam was Overboard, ’n komedie in 1987 waarin hy ’n arm man speel wat ’n ryk vrou met geheueverlies (gespeel deur Goldie) oortuig hulle is getroud sodat sy by hom moet kom woon. Meer onlangs was hulle saam in Netflix se The Christmas Chronicles 2.

In 2020 was hulle weer saam te sien in die rolpren
In 2020 was hulle weer saam te sien in die rolprent The Christmas Chronicles 2. Foto: Gallo Images/Alamy

Die regisseur van dié rolprent, Chris Columbus, vertel dit was wonderlik om die paartjie saam te sien speel. “Daar is soveel respek, liefde en vertroue, deels omdat hulle al so lank saam is.”

In 2017 is albei met sterre op Hollywood se Walk of Fame vereer, reg langs mekaar. “Ek is my lewe aan jou te danke,” het Kurt op die seremonie gesê. “Goldie, ek koester jou. Daar is niemand anders langs wie ek eerder wil wees nie.”

‘Ek kies om te bly, Kurt kies om te bly, en ons hou daarvan dat ons ’n keuse het’

Deesdae gee hulle meer aandag aan familie as aan werk. Nadat hulle verlede jaar maande lank in kwarantyn was, het hulle in ’n woonwa gespring en ses dae lank in Amerika saam met Oliver en Wyatt se gesinne rondgery.

Die familie bring ook graag tyd saam deur op hul plaas in Aspen, Colorado. Hulle probeer om elke Kersfees saam daar te wees. Dan lees Kurt vir hulle die kinderboek The Night before Christmas hardop voor.

“Ons skakel op Oukersaand al die ligte af, die kinders sit kiertsregop en ons luister langs die vuur,” vertel Goldie. “Ek wil ’n gelukkige lewe hê, en dis wat ek het,” gaan sy voort.

“As daar ’n fliek is om in te speel en ek hou daarvan, kan dit pret wees. Verder wil ek net saam met my kleinkinders wees.” Kurt voel dieselfde.

“Ek stel eerlikwaar meer belang in wat in my kinders se loopbane gebeur as in my eie.”

BRONNE: PEOPLE.COM; HELLOMAGAZINE.COM; TODAY.COM; DAILYMAIL.CO.UK; OPRAHDAILY.COM; USMAGAZINE.COM; PARADE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe