Die Walliese sangeres en liedjieskrywer Duffy (35) het in 2008 met haar debuutalbum, Rockferry, sterstatus bereik. Dit het aan haar die Grammy vir beste popalbum in 2009 besorg.

In 2010 het sy dit met die album Endlessly opgevolg. Maar toe verdwyn sy uit die kollig en laat haar verslae bewonderaars in die duister.

Tot waar sy nou die skokkende verhaal op Instagram met haar meer as 106 000 volgelinge gedeel het van wat haar daartoe gedryf het om vir eers die musiekwêreld vaarwel toe te roep.

By dié foto wat sy Dinsdag op Instagram gedeel het, skryf sy: “Julle kan julle net indink hoeveel keer ek gedink het om daaroor te skryf. Die manier waarop ek dit sou skryf en hoe ek daarna sou voel.”

Sy sê ook sy weet nie hoekom juis nou die regte tyd is nie, maar noem dat dit opwindend en bevrydend voel om te praat.

“Baie van julle het gewonder wat met my gebeur het, waarheen ek verdwyn het en hoekom. ’n Joernalis het kontak gemaak met my, hy het ’n manier gevind om my te bereik en ek het hom die afgelope somer alles vertel.

“Hy het deernis betoon en dit het so ongelooflik gevoel om eindelik te praat.

“Die waarheid, en glo my dat ek nou oukei en veilig is, is ek was verkrag, bedwelm en ’n paar dae lank gevange gehou. Natuurlik het ek oorleef. Die herstel het tyd geneem. Daar is geen ligte manier waarop dit gesê kan word nie," skryf sy.

Ek wou nie vir die wêreld die hartseer in my oë wys nie.

“Maar ek kan julle vertel dat in die laaste dekade, die dae en dae wat ek daaraan gewy het om weer die sonskyn in my hart te voel, die son weer skyn.

“Julle wonder waarom ek nie my stem gekies het om my pyn mee uit te druk nie. Ek wou nie vir die wêreld die hartseer in my oë wys nie. Ek het myself gevra hoe kan ek uit my hart sing terwyl dit gebreek is?"

Duffy vertel dat die helingsproses stadig begin het en dat sy in die komende weke ’n onderhoud sal deel. Die sangeres, wat eintlik Aimee Anne Duffy heet, nooi ook haar aanhangers om vrae aan haar te stel en sy sal probeer om dit tydens die onderhoud te beantwoord.

Duffy sluit haar plasing af met ’n pleidooi dat haar bewonderaars dié ontboeseming moet sien as ’n delikate skuif vir haar en dat hulle haar moet help om dit in ’n positiewe ervaring te omskep.

Die plasing het meer as 110 000 positiewe reaksies ontlok en sy word wyd geloof vir die dapper wyse waarop sy haar nagmerrie bekend gemaak het.

“Jy is dapper en pragtig. Ek hoop jy voel ’n oseaan vol liefde en ondersteuning aan jou voete vandag. Jy verdien genesing en om die sterk, talentvolle vrou te wees wat jy is. Elkeen hier kan sien hoeveel dit van jou gevat het om dit openbaar te maak,” skryf @simonemarie.4.

@denisehoran17 skryf dat Duffy deur haar woorde ’n wêreld vir ander mense oopgemaak het wat ook pyn ervaar. “Ek waardeer wat jy nou gedoen het vir my en ander gebroke vroue.”

“Jy het geen idee hoeveel mense jy geïnspireer het deur dapper en sterk te wees nie!” skryf @chefnormanmusa en vra dat Duffy meer musiek moet skryf as dit haar nog sterker kan maak.

“Dis iemand wat dapper is. Dis iemand wat bewonderenswaardig is. Ek kan my werklik nie die pyn en lyding indink nie, maar die feit dat die son weer skyn, is inspirerend.

  • Duffy het die no. 1-posisie in 12 lande gehaal met haar liedjie "Mercy". In 2008 was sy derde op die Britse ranglys van topverkopers vir enkelsnitte.

Bronne: thesun.co.uk, cnn.com, bbc.com

Het jy hulp nodig?