“Ja, ja, 'n miljoen keer ja! Ek is lief vir jou,” het Mica McKechnie op Instagram geskryf by 'n paar kiekies oor die groot oomblik.

Terwyl Mica, met die massiewe knoets aan haar vinger, 'n bottel vonkelwyn oopmaak, staan die krulkop-grapjas en drink aan 'n pienk melkskommel.

"Ek het haar met lieg en bedrieg en leuens gelok na die restaurant waar ons eerste date was. Sy het gedink sy was daar vir 'n vergadering vir 'n nuwe projek," vertel Schalk aan Huisgenoot.

"Sy was so verras en geskok. Ons gaan Switserland toe vir vakansie en sy het 'n vae vermoede gehad dat ek haar daar die jawoord sal vra," voeg hy by.

Haar vriende en familie was om die draai by die restaurant Brian Lara in Linden, Johannesburg. “Vyf minute ná ek haar gevra het, toe kom almal daar ingestap en het ons net lekker saam fees gevier,” sê hy.

Gelukwensings het van alle kante af vir die paartjie ingestroom.

"Wohooooooooooooo," het die aktrise Leandie du Randt by die inskrywing geskryf. Die aktrise Ansu Visser het ook in die joligheid gedeel. "Yay," het sy met twee hartjie-ikone, 'n verlief gesiggie en reënboog-ikoon laat hoor.

Dit is duidelik dat Schalk al lankal die skoot hoog deur het. Die paartjie gaan al van Oktober 2017 uit en 'n paar maande daarna het hy al gespot oor 'n gesamentlike naam vir hulle – nes Hollywood glanspare soos Angelina Jolie en Brad Pitt, wat Brangelina geheet het toe hulle nog saam was. Van die moontlike name vir hom en Mica wat hy destyds aan Huisgenoot voorgestel het is Schica, Malk of Micuidenhout. 

“'n Random Dinsdag in Oktober is die laaste ding wat sy verwag het,” lag Schalk oor die verlowing.

“Ons is definitief nie haastig om te trou nie. Daar is geen sprake van datums en so nie. Ek wou vir haar vra as 'n simbool om vir haar te wys dat ek ernstig is hieroor. Ons is albei baie happy daaroor!” vertel hy.

Baie geluk, julle!