Groot verantwoordelikheid

Jane de Wet se eerste fliekrol was nie kinderspeletjies nie. Die 23-jarige aktrise met die treffende ysblou oë speel Marthella Steenkamp in die fliek Griekwastad.

Dié rolprent is gegrond op die gebeure op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad, Noordwes. 

Die 15-jarige Don Steenkamp het op 6 April 2012 sy pa, Deon (44), ma, Christel (43), en suster, Marthella (14), op hul plaas doodgeskiet. 

“Ek het van die begin af geweldig baie empatie teenoor Marthella gevoel,” vertel Jane.

“Ek het die rol met sensitiwiteit en deernis probeer aanpak. Ons kan ons nie indink waardeur sy gegaan het en hoe sy gevoel het nie, maar dit was my werk om my in haar skoene te probeer plaas.” 

Jane as Marthella Steenkamp in Griekwastad. Foto:
Jane as Marthella Steenkamp in Griekwastad. Foto: Verskaf

Don (nou 23) is aan die driedubbele moord en die verkragting van sy suster skuldig bevind en dien tans op Upington in die Noord-Kaap 'n gevangenisstraf van 20 jaar uit. Die jong akteur Alex van Dyk (16) vertolk die rol van Don. 

“Ek en Alex het baie tyd saam deur­gebring, wat belangrik was om ons broer-suster-verhouding op die skerm te ontwikkel en te vestig,” sê Jane. 

Danksy die regisseur, Jozua Malherbe, se kalm benadering het sy nooit ongemaklik of onveilig gevoel nie, vertel Jane.

“Die hele rolprentspan het daagliks lig in ’n bitter donker storie ingebring – dit het die moeilike dae draaglik gemaak.

Jane en Alex van Dyk (Don) in 'n toneel uit die fl
Jane en Alex van Dyk (Don) in 'n toneel uit die fliek. Foto: Verskaf

“Dis 'n hartverskeurende storie wat handel oor regte mense. Ons almal het in ’n mate daarvoor verantwoordelik gevoel om die mense wat ons uitbeeld te eer­biedig met ’n eerlike en emosiebelaaide vertolking. Dit was uitdagend en tog vervullend.”

Dit is nie die eerste keer dat Jane 'n uitdagende rol moes vertolk nie. In The Girl from St. Agnes, Showmax se eerste oorspronklike dramareeks, het sy die karakter Lexi Summerveld gespeel – 'n mooi, gewilde leerder wat dood aangetref word.

Die reeks, wat vroeër vanjaar uitgereik is, wentel om die geheimsinnige dood van dié komplekse karakter. 

‘Kyk, daar is Charlize Theron’

Jane het op Somerset-Wes grootgeword, waar sy en haar ma, Nelia de Wet, ’n antiekwarewinkeleienaar, steeds woon. Haar ma was nog altyd haar grootste ondersteuner, sê sy.

“In die wyse woorde van die Amerikaanse politikus Abraham Lincoln: All that I am, or ever hope to be, I owe to my angel mother. Sy is my rots.”

By haar ma, Nelia. Foto: Verskaf
By haar ma, Nelia. Foto: Verskaf

Jane het ’n ouer broer, Stephen (25), wat as sakeman in Johannesburg werk.

“Maar hy is ook geweldig kunssinnig en ’n talentvolle digitale ontwerper en kuns­tenaar, nes my ma.”

Jane het in 2014 aan die Hoërskool Parel Vallei gematrikuleer, waarna haar “prestasiegedrewenheid en liefde vir akademie” haar gedryf het om B.Comm. (Bestuurswetenskappe) aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Sy het dié graad in 2017 met onderskeiding geslaag, maar nogtans besluit om liewer haar eerste liefde na te jaag: dans en toneelspel.Mense vra haar dikwels hoekom sy die kunste betree het, en dít met ’n sakegraad. 

“Dit was altyd die plan,” sê Jane. “Kuns is in my bloed. Ek glo vas daar is net glitter en vere en sterre in my are. Toe ek ses was, het ek na Charlize Theron op die televisie gewys en vir my ouers gesê: ‘Dis wat ek eendag gaan doen.’ ”

Sy het toe al begin dans en deurlopend, op skool én universiteit, teaterwerk gedoen.

“Dansproduksies was my grootste bron van plesier op skool. Ek het oral gedans – van die Playhouse tot Kunstekaap en die Spier- en Kalkbaaiteater. Ek het ook jaarliks in die Kaap in eistedd­fods meegeding.” 

In 2016 het sy tydens haar studie haar finale dans­eksamen met lof geslaag. 

Sy’s dol oor dans. Foto: Verskaf
Sy’s dol oor dans. Foto: Verskaf

Ná universiteit het sy in 2018 as danser by die Indiese Premierliga-krieket­toernooi gewerk; deesdae is sy ’n danser vir die Stormers-rugbyspan.

Haar onlangse rol as Maria in die regisseur Marí Borstlap se operastuk Die ­Vertrek het ook danstonele vereis.

“Maria is die rouende dogter wat die dood van haar ma, Helena (Magdaleen Minnaar), verwerk.”

Om ná ’n paar jaar na die teater terug te keer was uitdagender as wat Jane verwag het.

“Dis ’n uitdaging van ’n ander aard – ’n kort, intensiewe, uitmergelende proses gevolg deur adrenalien wanneer die gordyn eindelik oopgaan. Dis gelyk­tydig fantasties en angswekkend.”

Mik na Hollywood

Vier maande nadat sy in 2018 by die toneelagentskap APM aangesluit het, het sy die rol van Lexi in The Girl from St. Agnes losgeslaan. 

“Dit was ’n enorme uitdaging, maar die moeite werd – persoonlik en beroeps­gewys,” vertel Jane oor dié reeks wat in Johannesburg en Ixopo in die KwaZulu-­Natalse Middelland verfilm is.

“Ek het vinnig baie geleer – oor toneelspel, films, verhoudings en die lewe.”

Sy en vier ander Kaapse akteurs het tydens die verfilming saamgebly.

“Party dae op die stel was moeilik en lank, maar aan die einde van die dag kon ek altyd teruggaan na my liefste akteursfamilie en oor 'n glasie wyn oor die dag se manewales lag.” 

Wanneer sy ’n tydjie het om leeg te lê, kyk sy graag na reekse en flieks.

“Ek noem dit navorsing,” sê sy laggend. “Ek bring ook graag tyd in die natuur en saam met my geliefdes deur – niks kom naby laataandgeselsies om ’n kampvuur nie.”

En haar groot droom is Hollywood se rooitapyt.

“Ek wil ’n paar jaar plaaslik werk en sal graag nog ’n hoofrol in ’n fliek wil vertolk. Maar die eindelike doelwit is beslis fliekwerk in Hollywood.”

Kitsfeite oor Jane

Wat wil ek graag nog bemeester? 
Die kuns van kos maak. Ek is mal oor kos maak, maar daar’s baie om te leer. Soesji is my gunstelinggereg.

My bloos­plesiertjie?
Kaaskoek.

My gunstelingblad om in die sosiale media te volg? 
Veganistiese kosblogs. Dis my daaglikse inspirasie. Ek was ’n paar maande lank ’n veganis, maar op die oomblik probeer ek sover moontlik ’n vegetariese dieet handhaaf.

Wat eet ek nie? 
Rooivleis en agurkies.

Watter ster het my al in ’n waas gelaat? 
Rolanda Marais, elke keer wanneer ek haar op die televisie sien. Haar man, Jozua, is die regisseur van Griekwa­stad, en sy vertolk ook ’n rol in dié fliek. Rolanda speel Henriëtte de Waal, die vrou van kol. Dick de Waal (Arnold Vosloo). 


Jane sê
  • Ek is 'n introvert en kry energie wanneer ek alleen is. 
  • Ek hou van koljander.
  • Ek het as kind asma gehad.
  • Ek is dieselfde lengte as Lady Gaga – 1,55 m.
  • Ek dra 'n no. 3-skoen. 
  • Griekwastad word heel eerste op vanjaar se kykNET Silwerskermfees (21 tot 24 Augustus) vertoon. Die amptelike uitreikingsdatum word binnekort aangekondig.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.