Louw Breytenbach
Die TV-aanbieder Louw Breytenbach sê hy is baie verlig noudat toetsuitslae wys hy is kankervry. Foto: Facebook/Louw Breytenbach

Dit was asof hy vir die eerste keer binne ’n week werklik kon asemhaal, vertel die TV-aanbieder Louw Breytenbach oor sy goeie nuus: Hy is kankervry.

Vroeër vandeesweek het Louw, die aanbieder van Drama Mammas op VIA, nog vertel hoe die onsekerheid hom ry nadat dokters minstens twee vergroeisels aan sy bors en lae rug verwyder het om te laat toets vir kanker.

Die vrese dat dit kanker kon wees spruit uit sy familiegeskiedenis met die siekte. Prostaatkanker is ses jaar gelede by sy pa, Pieter Breytenbach, gediagnoseer en hy is tans in remissie.

Maar Vrydagoggend het dokters die verblydende nuus met hom gedeel: Hulle het die uitslae van sy toetse ontvang, en hy is blakend gesond.

“Dit was maar 'n bietjie van ’n warboeloggend,” sê Louw laggend toe hy die goeie nuus met Huisgenoot deel.

“Ek ervaar groot verligting en is ontsettend dankbaar vir almal wat my in hierdie onseker tyd ondersteun het.”

Louw Breytenbach
Louw was vroeër onder die lem om minstens twee vergroeisels te verwyder. Foto: Verskaf

Die TV-aanbieder vertel hy moes Donderdag inderhaas hospitaal toe jaag nadat die steke aan sy bors en lae rug, waar die twee vergroeisels verwyder is, losgetrek het.

“Dit was nie baie aangenaam nie, maar die prosedure het darem nie te lank geneem nie en ek is gistermiddag weer huis toe,” vertel hy.

Benewens die twee vergroeisels wat dokters vermoed het moontlik kwaadaardig kan wees, het dokters ook vir kolonkanker getoets nadat ’n vergroeisel ook met ’n skandering opgemerk is.

Louw sê dokters het ook gewaarsku die ligging van die vergroeisel op sy lae rug, net bo die boud, kan dui op ’n oordragbare siekte.

“Maar toe kom al die goeie nuus hier aan: Die bloedpaneel is skoon, daar is geen oordragbare siektes nie en selfs die diabetestoets het skoon teruggekom,” vertel hy opgewonde. “Daarom is ek in hierdie stadium verskriklik dankbaar; ek ervaar net effens pyn en ongemak.”

Louw Breytenbach
Die TV-aanbieder sê hy hoop sy kankerskok noop ander om beter na hul gesondheid om te sien. Foto: Facebook/Louw Breytenbach

Hy sê dis die gebede van vriende, geliefdes en dié wat hom ondersteun wat hom gedra het. 

“Ek is al deur baie dinge in my lewe, maar op ’n manier is daar maar altyd ’n ligpunt wat dankbaarheid bring. Al wat ek nou hoop, is dat my skok mense motiveer om na hulself te kyk, want dit kon soveel erger gewees het.”

Daar is ook ander lesse wat hy uit hierdie moeilike hoofstuk geleer het, vertel Louw.

“Soos dat ek nou weet jy kan die perfekte, platste magie hê en vyf keer per week die gimnasium besoek, maar dit beteken nie noodwendig jy is gesond nie – ook nie dat jy geestelik gesond en sterk is nie. Ek weet nou ’n holistiese blik op die liggaam is nodig, dat net gewig en fiksheid nie genoeg is nie en ook nie ’n perfekte aanduiding van jou gesondheid gee nie.” 

Hy lag. “Eintlik is ons almal maar soos motors,” vertel hy. “Hierdie bene van ons loop baie myle, dis maar nodig om die voertuig in te vat vir ’n versiening elke nou en dan.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.