Die paartjie wil glo by Gwyneth se luukse huis in The Hamptons in Long Island, Amerika, trou, berig The Cut

Gerugte van ’n verlowing het in November 2017 die eerste keer opgeduik nadat die twee drie jaar uitgegaan het. Hulle het dit eers in Januarie vanjaar bevestig. Sedertdien was Gwyneth glo in Mexiko vir ’n wilde hennepartytjie, volgens The Cut.

Die paartjie se verlowingspartytjie, met 400 gaste, is deur Ryan Murphy gehou. Hy het die TV-reeks Glee saam met Brad geskep.  

Volgens New York Post se Page Six wil die aktrise ’n plegtigheid by haar huis hê. 

“Ek is besig; daarom is ek nie eintlik baie daarby betrokke nie,” het sy met verwysing na die beplanning van die plegtigheid gesê. 

Die Oscar-wenner is ook onseker oor of sy die besonderhede van haar groot dag op haar leefstylwebtuiste, Goop, gaan bekendmaak, berig Daily Mail

“Ek weet nie of ek dit sal deel nie. Daar is altyd ’n fyn lyn tussen om iets te wil hê wat net joune is en om dit ook te vier. Ons sal sien.”

Die twee het bekendgemaak hulle wil nie saam kinders hê nie. Brad het ’n seun, Brody, en ’n dogter, Isabella, by sy eksvrou, Suzanne Falchuk, terwyl Gwyneth ’n dogter, Apple (14), en seun, Moses (12), by haar eksman, die Coldplay-hoofsanger Chris Martin (41), het. 

“Nie een van ons wil nog kinders hê nie. Ons is in dieselfde span. Dis altyd ingewikkeld met kinders en om gesinne te probeer kombineer; dis moeilik,” sê Gwyneth.

Bronne: Page Six, The Cut, Daily Mail