Wat is ’n Bok dan nou sonder sy blaar – veral in die tyd van covid en kwarantyn?

Toe die Springbokke onlangs in die eerste van hul drie toetswedstryde teen die Britse en Ierse Leeus op Kaapstad-stadion uitdraf, was die land se rugbygees eindelik weer aangevuur. Die Bokke het die taai stryd weliswaar net-net verloor, maar gelukkig lê nog twee toetse op 31 Julie en 7 Augustus voor.

Vir kaptein Siya Kolisi en kie was dit sekerlik ’n vreugde om weer as ’n span saam te speel nadat die pandemie, inperking en die coronavirus hulle lank van die veld gehou het. 

Maar ten minste was baie van die Bokke nie alleen in die uitdagende tyd wat gevolg het sedert hulle in 2019 die Wêreldbeker-toernooi in Japan gewen het nie. Talle van ons rugbybrekers kon vertroosting, geselskap en bemoediging by hul wederhelftes vind.

Huisgenoot het gaan kyk hoe die lewe van ’n paar van ons nommer een-manne se nommer een-vroue die afgelope tyd ontvou het.

HANDRÉ EN MARISE POLLARD 

 Handré en Marise Pollard is hoërskoolliefdes wat
Handré en Marise Pollard is hoërskoolliefdes wat vanjaar hul vierde huweliksherdenking vier. Foto: Instagram (@marisepollard)

Die Bok-losskakel en sy beeldskone brunet het die inperking gebruik om saam gewoond te raak aan hul nuwe tuiste. Handré (27) en Marise (26) burger hulself die afgelope twee jaar al in op Montpellier in Frankryk, waar hy sy skopvoet vir die gelyknamige span inspan.

Dié hoërskoolliefdes wat in Desember 2017 getroud is, het net voor die pandemie na Frankryk verhuis. “Ons woon in die suide, wat beteken ons het baie lekker weer. Dis naby aan die see en om te reis is maklik,” verklap Marise.

“Ons geniet die Franse mense en die kultuur. Die taalgrens maak dit wel moeilik, en daarom het ons begin om Frans te leer.”

Marise is Handré se no.1-ondersteuner en vertel haar hart bars van trots elke keer wanneer hy op die rugbyveld uitdraf. “Ek sal nie sê ek is die kalmste mens wanneer hy speel nie, maar ek is baie lief vir sport, en ek geniet dit om hom te ondersteun.”

Die hegte vriendinne wat sy onder van die ander Bokspelers se vroue en meisies gemaak het, help ook om die senuwees in toom te hou wanneer hulle saam-saam wedstryde kyk. “Ek sê altyd ’n gebedjie op voor hy speel, en as daar stresvolle oomblikke is, gryp ek ’n vriendin se hand en druk dit net,” vertel die oud-Tukkie.

Sy glo dat die verskil in haar en Handré se persoonlikhede hul verhouding so goed laat werk. “Ek is ’n ekstrovert en dra my emosies op my skouers. Handré is meer van ’n introvert en bring ’n rustigheid in ons verhouding in.

“Ek glo ons verhouding is so sterk omdat ons al van jongs af hierdie paadjie stap. Ons het saamgegroei tot waar ons nou is. Ons daag mekaar uit en druk mekaar altyd om ons volle potensiaal te bereik.”

JUAN-RI EN FRANCO MOSTERT

Juan-Ri en Franco Mostert word vanjaar vir die der
Juan-Ri en Franco Mostert word vanjaar vir die derde keer ouers. Foto: Instagram (@franco_mostert)

Vir Franco (30) en Juan-Ri Mostert (29) was die afgelope jaar lewensveranderend. In Junie verlede jaar het die paartjie Gloucester in Engeland vir Japan verruil, en vanjaar het hulle aangekondig Juan-Ri is swanger met hul derde kleinding. Die trek Japan toe was nie sonder drama nie, vertel Juan-Ri.

“Ons sak met al ons reisdokumente is uit ons kar gesteel twee dae voor ons Japan toe sou vlieg. Ons het in daardie stadium pas die visums gekry nadat ons 38 dae daarvoor gewag het.”

Die gesin moes toe ’n rukkie in Engeland rondswerf terwyl hulle op nuwe dokumentasie gewag het. Hul huis daar was reeds opgepak en hul besittings Japan toe gestuur.

Maar die ervaring het hulle ook geslyp, vertel Juan-Ri, die ma van Joia-Belle en Jemi-Mílja.

“As ek terugdink, onthou ek hoe bang en onseker ons was. Maar is dit nie juis wanneer ’n mens eerder aan God en jou naastes vasklou nie? Dit het ons soveel sterker gemaak en my laat voel asof ek nou vir enigiets kans sien.”

Al is dit nie maklik om so ver weg van hul familie in Suid-Afrika te wees nie, is Juan-Ri dankbaar vir die ondersteuning van die ander spelers by die verskillende klubs se gesinne. 

“Die verlange raak erg wanneer ’n mens in ’n ander land bly. Maar maak nie saak by watter rugbyklub jy in die wêreld speel nie, daar is altyd ander gesinne wat ’n mens sommer dadelik aanneem. Almal verstaan waaroor dit gaan, en rugbyfamilies raak mekaar se ondersteuningsnetwerk so ver weg van die huis.”

Wanneer hy sonder sy gesin vir werk moet reis, troos sy haar daaraan dat hy in haar hart is, selfs al is hy kilometers ver.

“Ons probeer gesels wanneer dit moontlik is en stuur vir mekaar bemoedigende boodskappe. Wanneer ek vir hom bid, laat dit my altyd na aan hom voel.”

CONSTANCE EN LOOD DE JAGER

Constance en Lood de Jager woon sedert 2020 in Man
Constance en Lood de Jager woon sedert 2020 in Manchester in Engeland. Foto: Instagram (@loodejager)

Constance en manlief Lood het ’n opwindende 2020 agter die rug. Die egpaar, wat in 2016 getroud is, het na Manchester in Engeland verhuis, waar Lood nou vir die Sale Sharks uitdraf.

In September het die gesin groot vreugde gehad toe hulle ’n dogtertjie, Annah Fraym, verwelkom het. Hulle het ook ’n driejarige seuntjie, Elijah, wat hulle in 2018 aangeneem het. 

Bok-slot Lood de Jager en sy kroos, Elijah en Anna
Bok-slot Lood de Jager en sy kroos, Elijah en Annah. Foto: Verskaf

Lood moes Annah se geboorte via FaceTime dophou terwyl hy op ’n lughawe in Amsterdam gewag het vir ’n vlug na Suid-Afrika.

Sy en Lood is albei familievaste mense, so hul tyd in Engeland was eintlik maar bittersoet, vertel Constance. “Aan die een kant was dit sleg om weg te wees van ons familie. Maar aan die ander kant het ons ’n baie spesiale tyd saam as gesin gehad.”

Ander Suid-Afrikaanse spelers by die Sale Sharks-klub sluit in Faf de Klerk, Akker van der Merwe, Coenie Oosthuizen en die Du Preez-broers, Dan, Jean-Luc en Robert.

“Ons is baie bevoorreg om ’n hele paar Suid-Afrikaners by dieselfde klub te wees,” sê Constance. “So ver oor die water raak vriende ’n mens se familie.” 

Constance sê hulle geniet dit terdeë om ouers vir twee klein woelwaters te wees, en sy en Lood put hul krag uit hul geloof.

“Die grootste ding is seker om aan te hou bid.”

EZEL EN DUANE VERMEULEN

Ezel en Duane Vermeulen is al 16 jaar saam. Foto:
Ezel en Duane Vermeulen is al 16 jaar saam. Foto: Misha Jordaan

Duane (35) en vroulief Ezel (36) het verlede jaar ’n pendelhuwelik gehad; met Duane wat in Pretoria gewoon het waar hy vir die Bulle uitdraf, en Ezel en hul seuns, Anru (7) en Zian (4), in Kaapstad. Ezel bestuur haar eie dansskool in die Moederstad. 

“Mense dink dit is ’n helse glansryke affêre om in die sportbedryf te wees, maar ek dink baie min mense weet watter opofferings ’n ou maak om te doen wat jy wil doen,” het Duane vroeër vanjaar aan Huisgenoot vertel. 

“En nie net die spelers nie – die vroue en die kinders, die familie en almal maak opofferings,” het Ezel bygevoeg. Die paartjie is al 16 jaar saam en agt daarvan getroud. Saam het die twee die wêreld verken toe Duane vir onderskeidelik Toulon in Frankryk en Kubota Spears in Japan gespeel het. 

Ezel het voorheen aan EWN vertel dat sy elke wedstryd van Duane kyk omdat sy besorg is dat hy op die veld sal seerkry. Ook klein Anru is al ’n groot Bok-ondersteuner.

AIMEE EN STEVEN KITSHOFF

Aimee beskryf Steven as haar beste vriend en haar
Aimee beskryf Steven as haar beste vriend en haar rots. Foto: Instagram (@aimee_kitshoff)

Aimee en Steven is al bykans ’n dekade saam en steeds verlief.

Steven (29) het in 2017 teruggekeer na die Stormers-rugbyspan nadat hy twee jaar lank vir Bordeaux in die Franse Top-14-liga uitgedraf het. 

Aimee (31) het al aan Huisgenoot vertel dit voel asof sy en Steven al ’n leeftyd saam is. “Veral as ek dink aan die lande wat ons al saam gesien het, en dat ons al saam oorsee gewoon het,” het sy toe laat hoor. Die duifies koer gereeld oor mekaar in die sosiale media. 

“Gelukkige huweliksherdenking, Lief. Twee jaar getroud met hierdie babe. Dankie vir die beste herinneringe,” het Steven in Desember met hul tweede huweliksherdenking op Instagram geskryf. 

En Aimee het toe by foto’s van haar en Steven deur die jare laat hoor: “Ek is so trots op die ongelooflike mens wat jy nog altyd was en nog meer so op die een wat jy geword het.”

ANASTACIA EN BONGI MBONAMBI

Bongi beskryf Anastacia en hul dogtertjie Esa as s
Bongi beskryf Anastacia en hul dogtertjie Esa as sy "hart se punt". Foto: Instagram (@mr_mbonambi)

Daar is twee vroue in Bongi (30) se lewe wat hom ’n gelukkige man maak: sy vrou, Anastacia, ’n radio-terapeut, en hul dogtertjie, Esa. 

Anastacia het al voorheen aan die media bevestig sy en Esa is haar man se “hart se punt”. 

Dié familieman het gereeld tydens die inperking met hul kleintjie, wat hom “dada” noem, pannekoek gebak, op die klimraam in die agterplaas geklouter, in die swembad baljaar of by die see saam met haar en Anastacia die son en water geniet. 

LAYLA EN CHESLIN KOLBE

Layla en Cheslin het tydens die inperking weer ouers in Frankryk geword. Foto: Instagram (@layla_kolbe)
Layla en Cheslin het tydens die inperking weer ouers in Frankryk geword. Foto: Instagram (@layla_kolbe)

Cheslin en Layla skrop deesdae nes in Toulouse, Frankryk, waar Cheslin (27) die afgelope vier jaar vir die tuisspan speel. Die paartjie het in 2018 op Stellenbosch getrou. 

Dié 27-jarige blitsvinnige Bokvleuel en Layla (29) het onlangs ’n tweede keer ouers geword toe hulle klein Mila Skye in November verlede jaar verwelkom het. Hul eersteling, ook ’n dogtertjie, Kylah, is 4.

Layla het al op Instagram laat blyk dis nie aldag maklik om alleen ’n huishouding op koers te hou wanneer die manne pal oefen, reis en op die veld uitdraf nie.

“Die lewe van ’n sportman se vrou is nie net botoks en Louis Vuitton nie,” se Layla, wat as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer is, op Instagram. “My kinders groei so vinnig en dié pandemie steel so baie van ons tyd. Maar ek is hier, dankbaar en gesond.” 

Layla sê hul dogters se gesigte verhelder sodra hul pappa instap.

“En dan wil ek elke keer tranerig raak, want selfs in jou afwesigheid is jy so teenwoordig,” skryf Layla op Instagram aan Cheslin. “Jy is waarvoor ek nog altyd gedroom het. Jy is wat ek nog altyd vir my kinders gebid het.”

Nie net trek Cheslin soms as ’n prins aan om sy dogters se verjaardag te vier nie, hy speel ook pophuisie saam met hulle en noem homself ’n dogtertjie-pa”. 

RACHEL EN SIYA KOLISI

Rachel en Siya Kolisi het hulle tydens die pandemi
Rachel en Siya Kolisi het hulle tydens die pandemie besig gehou met liefdadigheidswerk deur hul Kolisi-stigting. Foto: Instagram (@rachel_kolisi)

Daar was groot veranderinge in die Kolisi-huishouding aan die begin van 2021. Bok-kaptein Siya (30) het die Stormers en WP vaarwel toegeroep en hom by die Sharks in Durban aangesluit.

Sy vrou, Rachel (31), het in Kaapstad agtergebly met hul kroos, Nic (6) en Keziah (4), asook Siya se jonger sibbe, Liyema (19) en Liphelo (13). 

Rachel het op Instagram ’n deernisvolle inskrywing oor die afskeid gedeel: “Ek kan nie glo ek maak hierdie inskrywing nie. My hart is so swaar . . .

“Dit was ’n moeilike seisoen vir ons persoonlik, met dié dat ons groot en swaar besluite moes neem, maar verandering is onafwendbaar.

“Deur dit alles, is ek aan een ding herinner. Siya se karakter is soos niemand anders wat ek al ooit geken het nie. Hy het gaaf en respekvol gebly in oomblikke waar hy geen rede gehad het om dit te doen nie . . . Ek kan nie beskryf hoe trots ek op hom is nie.”

Deurgaans het Rachel en Siya moeite gedoen om mekaar steeds te sien. “Besig om ’n ou hand hiermee te word. Kaapstad na KZN,” het sy in Februarie op Instagram geskryf terwyl sy en die kinders op pad was om ’n vlug na Durban te haal.

Die twee het tydens die inperking baie liefdadigheidswerk gedoen deur middel van hul Kolisi-stigting. Onlangs het dié stigting weer gehelp met voedselvoorsiening aan dele van KwaZulu-Natal en Gauteng wat deur die onluste geraak is.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.