Maar as jy prins Philip is, is jy twee dae later weer agter die stuurwiel, sonder ’n veiligheidsgordel aan, dae nadat jy jou Land Rover omgeslaan het na jy in 'n ander voertuig gebots het.

Koningin Elizabeth (92) se man het Donderdagmiddag teen ’n Kia-motor naby die koningin se Sandringham-landgoed in Norfolk, Engeland, gebots.

Die prins se viertrekvoertuig het omgeslaan, maar hy is wonderbaarlik ongeskonde na die ongeluk. Die bestuurder van die Kia het snye opgedoen en haar vroulike passasier se arm was beseer. Daar was ook ’n nege maande oue baba in die Kia. 

Die polisie in Norfolk het reeds met die prins gepraat nadat hy die naweek weer agter die stuurwiel gekiek is sonder ’n veiligheidsgordel terwyl hy by die hoofingang van Sandringham-landgoed ingery het.

’n Woordvoerder vir die polisie het gesê "geskikte woorde van advies is aan die bestuurder gegee".

Intussen lyk dit of die prins vere voel vir die slagoffers van die botsing. Hy het glo nog niks van hom laat hoor nie of om verskoning gevra nie.  

Die koningin het wel haar mense gevra om die passasiers van die ander voertuig te kontak. 

Mary Morrison (81), wat vir koningin Elizabeth werk, het die slagoffer, Emma Fairweather (46), wat haar gewrig in die botsing gebreek het, gebel en gesê die monarg stuur haar goeie wense. 

In ’n stemboodskap het Mary aan Emma gesê: “Haar majesteit is baie gretig om te weet hoe dit gaan en hoop dat alles so goed gaan soos verwag kan word".

Emma het voor sy dié boodskap gekry het, gesê sy voel "geïgnoreer en verwerp" deur die koninklikes. Sy voel steeds prins Philip moet verantwoordelikheid gevat het en haar gebel het om te hoor hoe dit met haar gaan. "Ek is nogal redelik verbaas dat prins Philip nie gevoel het hy wil my kontak en navraag doen oor hoe ek is nie.

"Die ontvangs van 'n boodskap van iemand anders se vennoot wat nie by die ongeluk betrokke was nie, is verwarrend. Die deur is heeltemal nog oop vir hom om uit te reik," sê Emma. 

Bronne: Mirror, BBC