Harry en Meg wéér in spervuur: Nou’s dit oor ’n naam

akkreditasie
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images
Die stof wil maar net nie gaan lê rondom die hertog en hertogin van Sussex nie. Dié keer is dit hul keuse van ’n naam vir hul babadogter wat Vrydag haar opwagting gemaak het, wat aanlyn opslae maak.

Harry en Meghan se naam vir hul dogter – Lilibet (Lili) Diana Mountbatten-Windsor – het vurige debat op sosiale media en elders uitgelok.

In die lig van die storm wat die egpaar se opspraakwekkende Oprah Winfrey-onderhoud ontlok het en hul fel kritiek van die Britse koninklike familie, reken baie mense dis onvanpas, selfs skynheilig, om nou koningin Elizabeth se bynaam vir hul jongste spruit te leen.

Lilibet is na sowel haar oumagrootjie as haar ouma – Diana – vernoem. Maar mense wat ontsteld was oor wat Harry (36) en Meghan (39) alles oor die Britse koningshuis met die geselsprogramdiva gedeel het, sluk nou swaar aan haar voornaam.

Dis immers die koningin se familiebynaam en wyle prins Philip se troetelnaam vir sy vrou.

Die oorsprong? Koningin Elizabeth (95) se eie babataal dekades gelede – toe sy net ’n peuter was en gesukkel het om haar naam reg uit te spreek. Haar oupa, koning George V, het haar liefderyk “Lilibet” noem in nabootsing van haar probeerslae om “Elizabeth” te sê.

Maar dat die Sussexe nou die koningin se 11de agterkleinkind nou ook so noem, is vir sommiges net te veel ná daai Oprah-onderhoud, en Harry wat ná dese boonop verder oor sy trauma uitgepak en onder meer in ’n podsending gesê het om ’n lid van die Britse koninklike familie te wees is soos “om in ’n dieretuin” te wees.

Vir Meghan en haar man se kritici was dit nog ’n voorbeeld van wat hulle as ’n respeklose, manipulerende benadering tot die koningshuis beskou.

“Natuurlik sou hulle die naam se oorsprong verduidelik, net ingeval jy nie geweet het dat hulle die koninklike familie eer betoon nie. Baie berekend . . .” het een Twitter-gebruiker byvoorbeeld sarkasties opgemerk.

“Harry en Meghan noem hul dogter na die rassistiese koninklike familie, veral die koningin wat rassisme ongebreideld in haar ‘instelling’ gelaat het, ’n slegte ma was, die matriarg agter haar familie se lyding,” het ’n ander uitgewei. 

“So, ná al die smart wat hulle vir haar majesteit veroorsaak het gebruik hulle haar troetelnaam vir hul dogter. Hulle het geen morele kompas nie,” het nog een dit uitgespel.

Intussen het die koninklike biograaf Angela Levin op die TV-program Good Morning Britain gesê sy “dink nie dis reg nie; dis onbeskof; dit was minagtend. Dit was prins Philip, wat maar onlangs dood is, se spesiale naam vir sy vrou”.

Aan die ander kant reken Megs en Harry se aanhangers hierdie was opreg – bloot ’n liewe gebaar aan die koningin.

Daar was ook g’n merkbare ontsteltenis vanuit Buckinghampaleis te bespeur nie; die koningshuis is blykbaar “verheug”.

Volgens die Daily Mail het Harry glo voor hulle die babanuus op hul amptelike webwerf met die wêreld gedeel het, die Britse monarg ingelig dat hulle hul tweede kind na haar gaan vernoem.

Tog blyk dit Buckinhampaleis is onkant gevang met hul tydsberekening. ’n Woordvoerder vir die paleis het hulle eers 90 minute ná die aankondiging gemaak is met hul tweede kind se geboorte geluk gewens.

Bronne: theguardian.com, mirror.co.uksun.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees