En wat haar trourok betref, het Meghan (37) nie teleurgestel nie. Die Suits-aktrise het op 19 Mei verlede jaar in 'n skepping wat deur die Britse ontwerper Clare Waight Keller vir die modehuis Givenchy ontwerp is, haar verskyning gemaak toe sy en prins Harry (34) afhaak.

Meghan en Harry is al sedert 2017 ’n paartjie, maar die twee kan steeds nie genoeg van mekaar kry nie. Nie eens koningin Elizabeth (93) en haar man, prins Philip (97) of Harry se broer, prins William (36), en sy vrou, Kate (37), het al so voor die kameras gekoer soos die hertog en hertogin van Sussex nie.

Meghan en Harry soen in die publiek, hou mekaar styf vas en staar diep in mekaar se oë tydens uitstappies. En hul aanhangers is mal daaroor. 

Die paartjie het onlangs hul eersteling, baba Archie Harrison Mountbatten-Windsor, in die wêreld verwelkom en is nou ’n gesin van drie. Op Sondag 19 Mei, net 13 dae nadat hulle seuntjie gebore is, vier prins Harry en Meghan hul eerste huweliksherdenking.

"Ek is mal oor ’n mooi liefdesverhaal," het Meghan in 2017 aan die tydskrif Vanity Fair vertel. Nou leef sy in haar eie sprokiesverhaal.

Hier is van die hertog en hertogin van Sussex se oulikste oomblikke saam.

Hul debuut

Die tonge het geklap toe die gerugte loop dat die rooikop-prins en die Amerikaanse aktrise van die regsdramareeks Suits ’n paartjie is. Die twee het die gerugte bevestig toe hulle in September 2017 vir die eerste keer saam verskyn het by die Invictus-Spele in Toronto, Kanada.

Harry het in 2014 dié jaarlikse sportgeleentheid vir beseerde weermaglede begin. Die prins en Meghan kon by hul amptelike debuut as paartjie nie hul hande van mekaar af hou nie en steelfotograwe se kameras het onophoudelik gekliek. Meghan het in Toronto gewoon terwyl sy die TV-reeks Suits verfilm het. 

Meghan en harry
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die verlowing

Net twee maande later, op 27 November 2017, het Britse koninklike aanhangers gejubel toe die paartjie hul verlowing aankondig. Meghan en Harry het hand aan hand geloop en sy't selfs sy arm gevryf terwyl hulle by Kensington-paleis in Londen gestap het na die media om vir foto's te poseer.

Die twee was so in hul noppies dat hul wange seker moes pyn ná al die geglimlag. Terwyl Harry die media toegespreek het, het Meghan sy hand gevryf en opgekyk na haar verloofde met net liefde in haar oë. 

’n Ware heer

Die wind het nie lekker saamgespeel toe die paartjie in September verlede jaar by die bekendstelling van ’n kookboek, Together: Our Community Cookbook, was nie.

Die briesie het heeltyd Meghan se donkerbruin lokke laat opwaai. Die hertogin het vir 'n rukkie gesukkel om dit plat te kry voor die gaste totdat Harry, wat agter haar gestaan het, self sy vrou se hare plat gevee het. Meghan het haar heer met 'n glimlag beloon.

Meghan het die kookboek, waarvoor sy die voorwoord geskryf het, bekendgestel vir diegene wat geraak is deur die brand by die Grenfell Tower-woonstelblok in Londen op 14 Junie 2017 waarin 72 mense dood is.

Hul groot dag

Wie kan hul troudag vergeet? Meghan en Harry het stout geglimlag en liefdevol na mekaar gekyk. Jy kon die liefde op die twee se gesigte sien.

Hy het af en toe ook in haar oor gefluister en Meghan het te alle tye 'n groot glimlag op haar bakkies gehad. Maar dit is natuurlik die eerste soen as man en vrou op die trap van St. George's-kapel by Windsor-kasteel na die troue wat almal se harte vermurwe het.

Meghan het vir Harry gevra: “Soen ons?” En toe antwoord hy: “Jip.” Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle het later hand aan hand uit Windsor-kasteel gestap op pad na hul onthaal en Harry het soos ’n ware heer die deur vir sy vrou oopgemaak toe hulle in die motor klim. Terwyl hy om die motor gestap het om aan die bestuurderskant in te klim, het Meghan weer die deur vir hom oopgemaak.

Modern verby

Vergeet van stywe koninklike reëls. Dié paartjie is so modern soos kan kom. Meghan en Harry hou daarvan om die reëls te breek en hou duidelik nie van al die stywe Britse tradisies nie. Selfs hul seuntjie se naam het glo niks met die geskiedenis van die Britse koningshuis te doen nie.

Dit is hoekom almal gegons het toe Harry op 8 Mei, twee dae ná klein Archie se geboorte, die eerste keer saam met Meghan hul kleinding aan die media by Windsor-kasteel bekendgestel het. Gewoonlik hou die ma die pasgeborene vas wanneer hulle hul debuut maak.

Harry se ma, wyle prinses Diana, het dit gedoen met haar twee seuns, Harry en William, en ook Harry se skoonsus, Kate, het haar drie spruite, prins George (5), prinses Charlotte (4) en prins Louis (1), vasgehou toe sy en haar man, William, die eerste keer hul pasgeborenes aan die wêreld bekend gestel het.

Wat Harry en Meghan betref, was dit die trotse pa wat met hul bondeltjie vreugde in sy arms by Windsor-kasteel verskyn het toe hy en Meghan eindelik klein Archie aan die media bekendstel. En Harry het omtrent in sy noppies gelyk oor sy nuwe rol as pa.

Bronne: Harpersbazaar, BBC