Die 35-jarige sesde aanspraakmaker op die Britse troon en sy Amerikaans gebore vrou, Meghan (38), wat roem verwerf het as Rachel Zane op die regsdramareeks Suits, is op 19 Mei 2018 in ’n prentjiemooi seremonie in die St. George-kapel in Windsor, Engeland, getroud. 

Eindelik getroud! Prins Harry en Meghan verlaat die St. George-kapel by Windsor-kasteel ná hul koninklike trouplegtigheid. Foto: Magazine Features

Op 6 Mei 2019 het die twee verliefdes ook hul eersteling, Archie Harrison Mountbatten-Windsor, verwelkom. 

Ons kyk terug na die grootste skokke oor die hertog en hertogin van Sussex wat oor die afgelope twee jaar die hoofopskrifte gehaal het.

Die dokkie wat hul toer na SA oorskadu het

Harry, Meghan en klein Archie, toe net vyf maande oud, het met hul eerste amptelike toer as gesin Suid-Afrika en ander buurlande in 2019 besoek. Tydens die toer hier het hulle plaaslik en internasionaal harte gewen met hul besoeke aan nieregeringsorganisasies wat met jeugdiges werk, ’n ontmoeting met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en besprekings met organisasies vir vrouebemagtiging, iets wat Meghan na aan die hart lê. 

Die toer is as hoogs suksesvol bestempel, maar op die laaste dag is die toer oorskadu deur kommentaar wat die egpaar in ’n dokumentêr vir die Britse televisiekanaal ITV, getiteld Harry & Meghan: An African Journey, gelewer het. 

In die onderhoud met die joernalis Tom Bradby het Harry erken dat hy en sy ouer broer, prins William, se verhouding skade gelei het. Hulle het “goeie en slegte dae, en elkeen het sy eie pad gevolg” het Harry gesê. 

In dieselfde onderhoud het Meghan openhartig vertel dat niemand tydens haar swangerskap gevra het hoe dit met haar gaan nie, en dat sy geweldig gesukkel het met die media se belangstelling. 

Regsaksie teen die Britse media

Kort voor die verskyning van die ITV-dokumentêr het Harry op die egpaar se webtuiste aangekondig dat Meghan die Britse koerant, The Mail on Sunday dagvaar nadat die koerant ’n privaat brief van Meghan aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, gepubliseer het. Sy het die koerant beskuldig van kopieregskending, misbruik van privaat inligting en oortreding van databeskermingswetgewing. 

Die regsgeding het in 2020 in die Britse hof begin. Dit het ook gelei tot die onthulling van teksboodskappe wat Meghan en Harry aan haar pa gestuur het in die oploop tot hul troue in 2018. 

Megxit

Die grootste skok het gekom met die aankondiging dat Harry en Meghan “uittree” as senior lede van die koninklike familie. 

Nadat die Sussexe die Kersvakansie in Kanada saam met Meghan se ma, Doria Ragland, en ander vriende deurgebring het, het die paar in Januarie vanjaar na Londen teruggekeer. 

Meghan en Harry met hul besoek aan Canada House in
Meghan en Harry met hul besoek aan Canada House in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Pas nadat hulle ’n besoek afgelê het by Canada House om dankie te sê vir die gasvryheid wat hulle in Kanada ontvang het, het hulle op 8 Januarie op hul Instagram-blad, SussexRoyal, die skoknuus gedeel. 

Die aankondiging het ook genoem dat Harry en Meghan beoog om in die toekoms finansieel onafhanklik te wees. Die res van die koninklike familie was volgens bronne glo glad nie vooraf ingelig dat die aankondiging gemaak sou word nie. 

Die Buckinghampaleis het ’n verklaring uitgereik en gesê dat gesprekke met die Sussexe nog in die beginstadium was. Die drama rondom hul uittrede het boonop afgespeel op William se vrou, Kate, se 38ste verjaardag. 

In die dae nadat die nuus bekendgeword het, het Harry se ouma koningin Elizabeth ’n noodvergadering by haar landgoed Sandringham gehou met Harry, William en hul pa, Charles, die prins van Wallis. 

’n Paar dae later het die paleis aangekondig dat Meghan en Harry van 31 Maart nie meer senior werkende lede van die koninklike familie sal wees nie.

Hulle mag ook voortaan nie meer die styl van “sy/haar koninklike hoogheid” gebruik nie en sal nie die koningin in enige amptelike hoedanigheid verteenwoordig nie. 

Koningin Elizabeth het later ’n verklaring uitgereik en gesê dat "Harry, Meghan en Archie altyd geliefde lede van haar familie sal wees". 

In die nadraai van die gebeure moes hulle ook hul personeel by hul kantoor by die paleis, sowel as Frogmore Cottage, waar hulle sedert 2018 gewoon het, laat gaan. 

Die twee het ook hul tweestryd met die Britse media verder gevoer deur aan te kondig dat hulle nie verder met koerante wat deur Associated Newspapers, soos Daily Mail, gaan saamwerk nie. 

Harry en Meghan het hul laaste amptelike verskyning by vanjaar se Statebondsdiens in die Westminster-abdy gemaak. 

View this post on Instagram

This afternoon, The Duke and Duchess of Sussex attended the annual Commonwealth Service at Westminster Abbey on Commonwealth Day, alongside Her Majesty The Queen and Members of The Royal Family. The Commonwealth is a global network of 54 countries, working in collaboration towards shared economic, environmental, social and democratic goals, and the Service today seeks to highlight the vast community which spans every geographical region, religion and culture, embracing diversity amongst its population of 2.4 billion people, of which 60 percent are under 30 years old. As President and Vice-President of the @Queens_Commonwealth_Trust, The Duke and Duchess of Sussex have been passionate advocates of the Commonwealth having spent many years working closely with the next generation of Commonwealth leaders. The theme of the Commonwealth for 2020 is ‘Delivering A Common Future: Connecting, Innovating, Transforming', placing emphasis on youth, the environment, trade, governance, and ICT (Information and Communications Technology) and innovation. From working to protect the earth's natural resources and preserving the planet for generations to come, to championing fair trade and empowering the youth of today to transform the communities of tomorrow, the Service celebrates the Commonwealth's continued commitment to delivering a peaceful, prosperous and more sustainable future for all. Photo © PA

A post shared by The Duke and Duchess of Sussex (@sussexroyal) on

Tonge klap oor hul trek na Amerika

Met die coronavirus-pandemie wat reisplanne wêreldwyd omvergegooi het, het Meghan, Harry en Archie in Maart vanjaar na Kalifornië verhuis, kort voor Kanada hul landsgrense vir internasionale reis gesluit het. Hulle het sedert November 2018 in die Kanadese stad Vancouver tuisgegaan. 

In Kalifornië woon hulle volgens Daily Mail en ander bronne glo in ’n peperduur herehuis wat aan die Amerikaanse akteur, komediant en regisseur Tyler Perry behoort.

Meghan en Harry is oor Paasnaweek afgeneem waar hulle voedselpakkies aan minderbevoorregtes uitgedeel het. 

Die onthullende boek 

Meghan en Harry mag dalk nou aan die ander kant van die wêreld woon, weg van die koninklike kollig, maar die stof rondom die twee het nog lank nie gaan lê nie. 

In Mei vanjaar het die Harper’s Bazaar-joernalis en koninklike kommentator Omid Scobie onthul dat hy en nog ’n joernalis, Carolyn Durand, die afgelope twee jaar aan ’n boek oor Harry en Meghan gewerk het. 

Die boek, wat Finding Freedom: Harry, Meghan and the Making of a Modern Royal Family heet, word in Augustus vanjaar gepubliseer en beloof volgens die uitgewers om “’n eerlike prentjie te skets van selfversekerde, invloedryke, toekomsgerigte egpaar wat weg van die kalklig ’n nuwe pad wil stap”. 

Die joernaliste het volgens die tydskrif Town and Country saam met bronne na aan Meghan en Harry gewerk om hul storie te vertel. 

"As Meghan haar sin kry, sal die boek môre en nie drie maande van nou uitgereik word nie," vertel 'n koninklike bron aan Daily Mail. "Sy sê die boek sal eindelik dinge opklaar en die wêreld wys hoekom hulle geen ander keuse gehad het as om die koninklike lewe vaarwel te roep nie.

"Sy is desperaat om die beeld te verander van haar wat 'n veeleisende diva is wat onbeskof is met koninklike personeel en ander in haar soeke na roem en mag."

Sy hoop dit gaan mense se beeld van haar en Harry verander.

Bronne: Town and Country Mag, The Guardian, Mirror UK, ITV, Daily Mail