Harry en Meghan geniet hul nuwe lewe in Kalifornië
Harry en Meghan geniet hul nuwe lewe in Kalifornië. Hulle blyk nog nie spyt te wees dat hulle die Britse koninklike familie verlaat het nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins Harry het duidelik uit ondervinding gepraat toe hy onlangs in ’n motiveringspraatjie laat hoor het: “Hanteer wat ook al die lewe na jou kant toe gooi om die beste weergawe van jouself te word.”

Daar is geen twyfel dat die lewe die rooikopprins ’n paar klappe uitgedeel het sedert hy en sy vrou, Meghan Markle, verlede jaar die koninklike familie verlaat het om ’n nuwe lewe in Amerika te gaan uitkerf nie. 

Talle in sy geboorteland beskou die eens gewilde prins nou as ’n verraaier wat die rug op sy erfenis, sy familie en land gekeer het.

Nee, kap sy ondersteuners terug, hy het net sy hart gevolg om sy gesin ’n beter lewe weg van die koninklike familie en die versmorende protokol van die paleis te bied. Hoe dit ook al sy, die groot vraag is: Het dit alles hom gehelp om “die beste weergawe” van homself te word?

Van sy familielede dink duidelik nie so nie, veral ná die opspraakwekkende onderhoud met die mediamagnaat Oprah Winfrey waarin hy en Meghan onder meer lede van die koningsgesin van rassisme beskuldig het.

Hy het glo ’n “kil ontvangs” by sommige van hulle gekry toe hy verlede maand Londen toe gevlieg het om prins Philip se begrafnis by te woon.

Prinses Anne, prins Edward en sy vrou, Sophie, het Harry glo voor en ná die gedenkdiens geïgnoreer. Sy strak gesigsuitdrukking op die begrafnis is aan meer as net sy hartseer oor sy oupa se dood toegeskryf.

(Van links) Prins William, Peter Phillips, prins A
(Van links) Prins William, Peter Phillips, prins Andrew en prins Harry by prins Philip se gedenkdiens verlede maand. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek dink hy was geskok deur die kil ontvangs wat hy van sy familie gekry het,” sê die Britse omroeper Kevin O’Sullivan.

Harry en Meghan se uitlatings teenoor Oprah en ’n wêreldwye TV-gehoor het die reeds gespanne verhouding tussen hom, sy pa, prins Charles, en sy ouboet, William, verder laat versuur.

Voorlopige vredesgesprekke tussen die drie ná die begrafnis was glo onproduktief. Terug in sy nuwe tuisstad, Los Angeles, het Harry die eerste keer weer in die openbaar verskyn by ’n liefdadigheidskonsert van die Vax Live-veldtog waarvan hy en Meghan die voorsitters is.

Daar is gehoop dat Meghan, wat die einde van haar tweede swangerskap nader, ook die geleentheid sou bywoon, maar luidens nuusberigte was sy “onverklaarbaar afwesig”.

By die geleentheid het Harry ’n toespraak van vyf minute gelewer waarin hy gevra het dat covid-19-entstowwe met armer lande gedeel word. “Ons moet verby onsself kyk met empatie en deernis vir dié wat ons ken en dié wat ons nie ken nie,” het hy gesê.

Hy het die gehoor van frontliniewerkers wat reeds teen covid-19 ingeënt is lof toegeswaai met die woorde: “Julle is wonderlik.”

Daarop is die prins staande toegejuig met veel meer geesdrif en warmte as waarmee hy op sy onlangse besoek aan sy geboorteland begroet is.

In sonnige Kalifornië is die prins van ’n reëndeurdrenkte eiland stewig op pad om die koel koning van sy nuwe tuiste te word, met Meghan as sy koningin sonder ’n kroon.

Die twee het verlede jaar opslae gemaak toe hulle multimiljoendollar-ooreenkomste met die stroomreuse Netflix en Spotify beklink het. En vanjaar het Harry gewys hy kan ook op eie houtjie sukses behaal toe hy twee nuwe betrekkings losgeslaan het.

In middel Maart het hy sy eerste “regte” werk gekry as hoofimpakbeampte by BetterUp, ’n onderneming in Silicon Valley wat vir kliënte afrigting in geestesgesondheid bied.

Kort daarna het hy ’n kommissaris geword by die Aspen-instituut se nuwe kommissie om waninligting hok te slaan. Die projekte help Harry om “bevry en opgewonde oor die lewe te voel”, sê ’n bron.

Die paartjie se nuutgevonde vryheid beteken baie vir hulle, vertel nog ’n bron.

“Hulle geniet dit terdeë om op projekte en kwessies te kan fokus wat vir hulle belangrik is. Hulle het ’n groot geloofsprong gewaag om met hul nuwe lewe te begin en ten spyte van alles is hulle nie spyt oor hul skuif na Amerika nie.”

Prins Harry het onlangs ’n toespraak gelewer by di
Prins Harry het onlangs ’n toespraak gelewer by die Vax Live-liefdadigheids­konsert vir covid-19-entstowwe. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die prins gaan self inspring en aan sy en Meghan se eerste dokureeks vir Netflix werk. Dit gaan oor die Invictus-spele, die wêreldwye kompetisie vir beseerde oorlogsveterane en soldate waarmee Harry in 2014 begin het.

Verlede jaar en vanjaar is die byeenkoms weens die pandemie uitgestel, maar organiseerders het bevestig dit word volgende April in Den Haag, Nederland, gehou.

In die reeks word die lewensverhale van ’n groep internasionale mededingers vertel en gewys hoe hulle hulle vir die spele voorberei. Harry sal die uitvoerende vervaardiger van die reeks wees en dit sal deur die Sussexe se nuutgestigte Archewell-produksiemaatskappy verfilm word.

Die Oscarbekroonde duo Orlando von Einsiedel en Joanna Natasegara behartig die regie en vervaardiging.

Die rits projekte wat Harry nou aanpak, is dalk ’n poging om tred te hou met sy dinamiese vrou, meen Jonathan Shalit, ’n agent vir bekendes. “Meghan is ’n skrander vrou, baie slim en indrukwekkend,” het hy aan The Telegraph gesê.

“Om by te bly, moet Harry self naam maak en sy eie identiteit vind. Hoewel hy as koninklike nie sterstatus nodig het nie, stel dit Harry in staat om relevant te wees,” het Jonathan bygevoeg.

Met so ’n vol werkprogram sal Harry waarskynlik nou minder tyd hê om op die strand naby sy en Meghan se tuiste in Montecito te ontspan.

Toe hy kort voor sy oupa se dood daar gewaar is, het hy soos ’n doodgewone sorgelose jong man gelyk wat die sand, see en branders saam met sy hond (en ’n lyfwag op ’n diskrete afstand) geniet.

“Dis wonderlik om buiteruimtes te hê waar ’n mens as gesin en met die honde kan gaan stap,” het die prins in die gewraakte onderhoud met Oprah gesê.

Duncan Larcombe, skrywer van Prince Harry: The Inside Story, glo Harry is dalk nou spyt hy het soveel teenoor Oprah verklap. “Harry was duidelik seergemaak en woedend oor Meghan se ervaring met die koninklikes en het die onderhoud gebruik om dit uit sy gestel te kry,” sê Duncan.

“Maar ek glo hy voel nou verleë en ongemaklik. Hy word deur die gevolge in die gesig gestaar. Ek glo hy gaan daardie onderhoud berou – en dalk ook sy besluit om die koninklike familie te verlaat.”

Die woede en wrewel wat daardie onderhoud ontketen het, het vrae laat ontstaan oor of Harry gou weer na sy geboorteland sal terugkeer.

Hy en William is veronderstel om saam op 1 Julie ’n nuwe standbeeld vir hul ma, prinses Diana, by die Kensingtonpaleis te onthul ter herdenking van wat haar 60ste verjaardag sou wees.

“Hy gaan dalk die geboorte van sy tweede kind as ’n verskoning gebruik om nie die familie te sien nie,” het Russell Myers, ’n kenner oor die koninklikes, aan Talk Radio gesê.

Paul Burrell, prinses Diana se voormalige butler, meen die begrafnis het pynlike emosies by Harry na vore gebring.

“Om sy familie te sien – die familie wat hy gekritiseer het – moes bitter moeilik gewees het. Om sy geliefde ouma, die koningin, en sy pa en broer van aangesig tot aangesien te sien kon nie maklik gewees het nie.

“Hy het die ware uitwerking gevoel van die besluit wat hy geneem het. Sy hart lê nou aan twee kante van die Atlantiese Oseaan.”

BRONNE: INDEPENDENT.CO.UK, COSMOPOLITAN.COM, DAILYMAIL.CO.UK, YAHOO.COM, WOMANANDHOME.COM, INSIDEEDITION.COM, STUFF.CO.NZ
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe