Terwyl dit voorkom asof die twee hul planne agter die skerms reeds geruime tyd in plek begin kry het vir hul uittrede uit koninklike pligte, het die tydsberekening van hul aankondiging die koninklike familie heeltemal onkant betrap. 

Harry (35) en Meghan (38) gaan voortaan hul tyd tussen Noord-Amerika en Brittanje verdeel en wil finansieel onafhanklik word. 

Die aanpassings na afloop van dié stap het reeds die eerste “slagoffers” geëis.

Van die geskokte personeel van Frogmore Cottage, die vyfslaapkamerhuis waar die hertog en hertogin van Sussex en hul agt maande oue babaseun, Archie, tot dusver gebly het en wat deur Harry se ouma koningin Elizabeth aan hulle geskenk is, is glo reeds na ander koninklike huishoudings verskuif.

Dit sluit twee permanente personeellede in. Die huisbestuurder en ’n skoonmaker is glo reeds na die koningin se paleishuishouding oorgeskuif.

Maar ander personeellede wat op ’n ad hoc-grondslag by die Sussex-gesin se tuiste gewerk het, is reeds ingelig dat hul dienste nie langer benodig word nie.

Dit hits natuurlik net al die gerugte aan dat Meghan veral dalk nooit weer op ’n “betekenisvolle wyse” na Brittanje sal terugkeer nie. Daar is gerugte dat die gesin hulle in Kanada kan vestig. Meghan het sewe jaar lank in die Kanadese stad Toronto gewoon terwyl sy daar aan die regsdramareeks Suits geskiet het. Die paartjie het ook Kersfees en Nuwejaar in Kanada deurgebring.

Prins Harry en Meghan het nie teruggehou toe hulle Frogmore Cottage laat opknap nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om die kroon te span is Frogmore Cottage ’n doring in die vlees vir baie Britse belastingbetalers, veral nadat daar ongeveer $3 miljoen (R42,7 miljoen) opgedok moes word vir veranderings aan die woning vir die Sussex-gesin.

Intussen het Meghan reeds twee liefdadigheidsorganisasies in Kanada besoek ná haar drie dae lange besoek aan Brittanje toe die egpaar hul skokaankondiging gemaak het.

Prins Harry is glo steeds in Engeland waar hy jong rugbyspelers by Buckinghampaleis ontmoet het. Dit was sy eerste amptelike optrede ná die Megxit-aankondiging. 

Die Sandringham-spitsberaad
  • Die afgelope Maandag het die “Sandringham-spitsberaad” plaasgevind waar Harry, sy pa, prins Charles (71), ouer broer, prins William (37), en die 93-jarige monarg in ’n ongewone wending bespreek het hoe die pad vorentoe gaan loop vir die hertog en hertogin van Sussex.
  • Na afloop van die beraad het die koningin ’n verklaring uitgereik waarin sy haar spyt oor Harry en Meghan se besluit uitgespreek het.

Bronne: iol.co.za, thesun.co.uk, dailymail.co.uk