Meghan Markle en Prins Harry.
Meghan Markle en Prins Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die afgelope maande het die egpaar gewikkel om die grondslag vir hul nuwe onafhanklike lewe weg van hul voormalige pligte as deel van die Britse koningsgesin te lê.

Hulle het reeds ’n aantal inkomstestrome gevestig sedert hulle langer as ’n jaar gelede as senior koninklikes teruggestaan het. Hulle het in onlangse maande miljoendollar-ooreenkomste met die stroomdienste Netflix en Spotify onderteken.

En verlede maand is aangekondig Harry het twee nuwe poste losgeslaan: een as die hoof-impakbeampte by BetterUp, ’n geestesgesondheidsbeginonderneming in Silicon Valley, en die ander as ’n lid van die Aspen-instituut wat waninligting in Amerika wil hokslaan. Nou lyk dit of hulle na ander bedrywe kan uitbrei.

As hul bure in die weelderige Kaliforniese gemeenskap Montecito geglo kan word, wil die twee nog ’n sakeprojek aanpak: as wynmakers soos Brad Pitt en Angelina Jolie.

Die Santa Barbara-distrik, waarheen die egpaar ver
Die Santa Barbara-distrik, waarheen die egpaar verlede Julie getrek het, het meer as 275 wynmakers. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Jolie-Pitts het die bekroonde rosé Château Miraval gemaak. Meghan (39) is ’n groot wynliefhebber en het haar voormalige leefstylblog, The Tig, na haar gunsteling-rooiwyn genoem.

Toe sy die storie vertel het van die eerste keer dat sy Tignanello geproe het, het die gewese Suits-aktrise geskryf: “Daar is ek toe met baie min wynkennis en ek neem ’n sluk van hierdie wyn.

“Dit was nie net rooi of wit nie – skielik het ek verstaan wat mense met die volheid, styl en struktuur van wyn bedoel. Dit was ’n a-ha-oomblik op sy beste.

“Vir my het dit ’n ‘Tig’-oomblik geword – ’n oomblik van begrip. Van daardie punt af was enige nuwe bewustheid, enige nuwe ontdekking of ‘oooooo, ek vang dit!’-oomblik ’n ‘Tig’-oomblik.”

Meghan en Harry (36) het selfs in Mei 2018 op hul troue by die Windsorkasteel ’n Kaliforniese rooiwyn, die pinot noir Domaine Eden, bedien.

Penny Bianchi, wat langs die kletskoningin Oprah Winfrey straataf van die Sussexe woon, sê dit sou “baie cool” wees as die egpaar ’n wynonderneming begin. Sy sê die hertog en hertogin van Sussex kan selfs ’n wynkelder op hul huis van meer as R210 miljoen ($14,5 miljoen) se erf bou.

“Ek het ’n spul vriende wat wynkelders het. Ek ken selfs ’n paar mense wat wingerde op hul eie eiendomme het. Dit lyk na ’n baie gewilde ding om hier rond te doen, dus sou ek nie verbaas wees as Harry en Meghan dieselfde doen nie. 

“Montecito het so baie wonderlike dinge om van te praat en die wynbedryf is een daarvan.” 

Die wynmaker Greg Martellotto van Santa Barbara het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi. “Ek dink dit sou fantasties wees as Harry en Meghan by ons bedryf betrokke raak,” sê hy. 

“Hulle is globale mense met naamherkenning wêreldwyd wat enige plek kon gaan, maar hulle het na Santa Barbara gekom en dit opsigself sê baie.” 

David DeLaski, wat die Solminer-wynkelder in die Santa Barbara-distrik saam met sy vrou, Anna, bestuur, sê die klimaat is die ideale plek om druiwe te kweek, en voeg by Harry en Meghan sou by die bedryf daar “inpas”. 

“Baie mense het sukses in ander ondernemings en besluit hulle wil op ’n nuwe waagstuk geld in die wyndistrik kom bestee,” sê David.

“Jy het $10 miljoen nodig en jy is reg vir die ding, wat ek skat vir Harry en Meghan geen probleem is nie.”

Die Sussexe sal nie die eerste glansmense wees wat in wynkelders in die Kalifornië-streek belê nie. Rolprentsterre soos Emilio Estevez en Drew Barrymore en die sangeresse Pink en Fergie spog almal met hul eie wyn. 

Bronne: dailymail.co.uk, express.co.uk, mirror.co.uk, herald.co.nz, hauteliving.com