Die bruid was beeldskoon, die trouvenue asemrowend en die kos berei deur ’n Michelinster-sjef. ’n Spogbruilof, maar eintlik is dit die indrukwekkende gastelys wat die wêreld aan die gons het.

Nie baie paartjies kan vier Britse koninklikes, die dogter van die Amerikaanse president, ’n Grammy-bekroonde popster, ’n supermodel, ’n aantreklike rolprentster én twee bekende televisieaanbieders onder hul trougaste tel nie.

Misha en haar man
Misha Nonoo en Michael Hess se troue in Rome was ’n groot skouspel. Foto: Facebook/Villa Aurelia

En dan het ’n voormalige Beatle boonop op hul onthaal gesing! Prins Harry en Meghan, prinses Beatrice en prinses Eugenie, Ivanka Trump, Katy Perry, Karlie Kloss, Orlando Bloom, James Corden, Gayle King en Paul McCartney was enkele van die groot name wat onlangs Italië toe gevlieg het vir die bruilof van die Britse modeontwerper Misha Nonoo (31) en die Amerikaanse oliemagnaat Michael Hess (ook 31).

Van die gaste het die drie dae lange affêre beskryf as “die grootste skouspel wat Rome sedert die terugkeer van Caesar aanskou het”.

Die verrigtings het begin met ’n aandete die dag voor die huwelikseremonie.

Dit was ’n intieme geleentheid waarheen net nabye familie en ’n uitgesoekte groep vriende genooi is. Harry en Meghan was natuurlik onder dié uitverkorenes, asook Katy en haar verloofde, Orlando.

Meghan en Harry
Meghan het ’n rok deur Valentino gedra en prins Harry ’n netjiese pak. Foto: Realtime Images/Mega
Katy en Orlando
Katy Perry het saam met haar verloofde, die Britse hartebreker Orlando Bloom, opgedaag. Foto: Gallo Images/Reuters

Daar was glo heelwat seergemaakte gevoelens met talle pelle wat gekla het oor hulle uitgesluit is. Maar by die hoofgeleentheid die volgende dag was almal welkom.

Dis by die 17de-eeuse Villa Aurelia met sy uitsig op die St. Petruskerk gehou. Misha, vergesel deur prinses Eugenie, het net voor die seremonie in ’n gholfkarretjie by die villa aangekom.

Terwyl die bruid verdwyn het om haar trourok – wat sy self ontwerp het – te gaan aantrek, was alle oë gerig op ’n motor met swart ruite wat Harry (35) en Meghan (38) voor die villa afgelaai het. Almal het gewonder wat die hertogin van Sussex sou dra – haar swart Valentino-uitrusting het aan die hoë verwagtings voldoen.

Sy het die geborduurde tulle-skepping van sowat R165 000 met goue blaaroorbelle afgerond.

Ivanka (37) het gewys hoekom sy as Amerika se weergawe van ’n prinses beskou word.

Ivanka Trump
Jared Kushner kon sy oë nie van sy vrou, Ivanka Trump, afhou nie. Sy’t ’n skepping deur Galia Lahav gedra. Foto: Realtime Images/Zuma Press

Sy het koninklik gelyk in ’n perskekleurige rok deur die Israeliese ontwerper Galia Lahav. Voor sy troue toe is, het sy ’n foto van haar en haar man, Jared Kushner (38), op Instagram gedeel en daarby geskryf: “When in Rome . . .

’n Mens kan maar net wonder hoe die stemming tussen haar en Meghan was. Hulle was in 2014 op goeie voet toe Meghan vir Ivanka op haar destydse blog, The Tig, as “verbysterend mooi” en “intelligent” beskryf het.

‘Meghan sou vir seker nie Misha se troue wou misloop nie’

Dinge tussen die twee het glo versuur toe Meghan Ivanka se pa, Donald Trump, in 2016 tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing gekritiseer het deur te sê hy “saai verdeling” en is ’n “vrouehater”.

Trump het voor sy Britse toer vroeër vanjaar teruggekap en Meghan “ ’n nare entjie mens” genoem.

In die lig hiervan het Misha waarskynlik alles in haar vermoë gedoen om Meghan en Ivanka ver weg van mekaar te hou by die deftige tuinonthaal.

Daar het gaste gesmul aan ’n ete wat berei is deur Ruth Rogers, die eienaar van die bekende The River Café in Londen, wat met ’n Michelinster bekroon is. Meghan en die bruid is al jare goeie vriende.

Sy het nie ’n toespraak gelewer nie, maar wel ’n kort uittreksel uit die gedig “Vow” deur Roger McGough gelees.

Tog was die hoogtepunt toe Paul McCartney saam met die komediant James Corden en die bruidegom vir die bruid gesing het. Hulle het almal laat skaterlag.

Sir Paul
Die voormalige Beatle Paul McCartney het saam met James Corden en die bruidegom ’n liedjie vir die bruid gesing. Foto: Realtime Images/Mega

Hoewel talle gaste bekende name is, is die bruid en bruidegom minder bekend.

James, Carli en Beatrice
Ander bekendes wat by die troue was, sluit in die komediant James Corden, die model Karlie Kloss en prinses Beatrice. Foto's: Realtime Images/Zuma press, Realtime Images/Mega en Gallo Images/Reuters

Wie is dié twee mense dan dat hulle sulke groot sterre by hul troue kon kry?

As oliemagnaat en erfgenaam is Michael skatryk, maar dit lyk of dit sy bruid is wat die meeste sosiale kontakte het. En sy is glo versot op ’n lekker bruilof.

Dit was nie die eerste keer dat sy voor die kansel staan nie – sy het in 2012 met die afslaer Alexander Gilkes in Venesië, Italië, afgehaak, en hulle het toe ook drie dae lank bruilof gehou.

Die huwelik was kort, maar het haar met koninklikes in aanraking gebring. Alexander, ’n oudleerder van Eton, was hegte vriende met prins Harry en prins William, wat ook dié spogskool bygewoon het.

Sy het in 2014, met haar huweliksbootjie op die rotse en haar modeonderneming op die rand van ineenstorting, vir Meghan – toe ’n aktrise in die TV-reeks Suits – op ’n geleentheid in Miami, Florida, ontmoet en die twee het dadelik gekliek.

Misha is glo die een wat in 2016 vir Meghan ’n toe-oë-afspraak met Harry gereël het. Meghan het Misha op haar beurt beloon deur ’n wit hemp uit haar modereeks te dra tydens haar eerste openbare uitstappie saam met Harry na die Invictus-spele in Kanada in 2017.

Dié item het daarna soos soetkoek verkoop. Meghan het onlangs vir haar vriendin nog ’n hupstoot gegee toe sy haar gevra het om haar Smart Works-reeks kantoordrag te ontwerp wat ten bate van liefdadigheid by groot Britse supermarkte verkoop word.

En toe haar vriendin haar na haar troue nooi, was Meghan bereid om berge te versit sodat sy daar kan wees, al was haar rooster reeds stampvol.

Sy en Harry was aan die vooraand van hul toer na Suid-Afrika saam met hul vier maande oue seun, Archie.

“Meghan sou vir seker nie Misha se troue wou misloop nie,” het ’n bron aan die Daily Mail gesê.

Meghan en Misha
Misha is goeie vriende met Meghan, die hertogin van Sussex. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het omtrent fyn voetwerk gekos, maar Harry en Meghan kon 48 uur in Rome inpas voor hul vertrek na Suid-Afrika. Nadat die koninklike paartjie daar weg is, was daar nog meer as genoeg ander sterre onder die gaste wat die feestelikhede voortgesit het.

Die dag ná die troue was daar ’n middagete, gevolg deur aandete en ’n danspartytjie. En daarna was almal eindelik goed uitgekuier.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.
BRONNE: INSIDER.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, DAILYMAIL.CO.UK, HELLOMAGAZINE.CO.UK