Volgens Pieter was Dawie se hartaanval ’n groot skok omdat hy nooit vantevore hartprobleme gehad het nie. 

“Ons was baie na aan mekaar. Ons het nog verlede Kersfees saam gekuier,” vertel hy telefonies aan Huisgenoot.

“Ons het regtig ’n hegte band gehad en hy was nog al die jare baie ondersteunend oor my beroep. Ek het hom altyd na vertonings toe genooi wanneer ek in of naby Potchefstroom opgetree het. Hy het dit vreeslik geniet om te kom kyk as ek sing.”

Pieter vertel dat die Potchefstroom-gemeenskap net so lief vir sy pa was. Dawie was meer as 30 jaar lank skoolhoof by die Laerskool Stilfontein, 40 km vanaf Potchefstroom. Hy het ná sy aftrede betrokke geraak by die Amelia Nasorgsentrum vir gestremde persone in Potchefstroom omdat Pieter se broer self gestrem is. Dawie het ook in die kerkraad gedien. 

Pieter Smith se pa, Dawie. Foto: Facebook.
’n Gedenkdiens is gistermiddag 16 Januarie vir Dawie uit die Nederduitsch Hervormde Kerk in Potchefstroom gehou. Volgens Pieter was dié diens stampvol.

“Dit is belangrik om moeite te maak met mens se ouers,” sê Pieter. “Ons is in Pretoria en my pa was in Potch, maar ons het probeer om baie vir hom te gaan kuier.”

Hy vertel ook met trots dat sy seun een van oupa Dawie se name dra.

Pieter Smith en sy vrou, Yolandi. Foto: Facebook.

Oor wat Pieter die meeste van sy pa sal mis, antwoord hy vinnig en sonder twyfel: “Sy teenwoordigheid.”

Pieter hoop dat mense sy pa sal onthou as iemand wat nooit gefokus was op selfverryking nie en dat hy ’n persoon was wat altyd meer oor ander mense omgegee het as homself.

Dawie word oorleef deur sy vrou, drie kinders, hul aangetroudes en vier kleinkinders.